Kinders en die Bybel – Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

Franciske vra:

Onderwerp: Leer kinders die Bybel

Boodskap Teks: Ons doen tuisonderrig met ons kinders (10 en 13 jaar oud) en vra graag raad oor hoe om die Bybel goed vir hulle te leer.

Ons het altyd gedink dat die Bybel te moeilik is vir kinders om te verstaan. Daar is immers baie groot woorde daarin. Ons doen nog altyd saans die kinderbybel met die 10 jarige en die 13jarige lees self Bybel. Ek vind dat ten spyte van ons lees van die kinderbybel elke aand, ons dogter, 10 jaar, nog steeds nie die meeste van die inhoud ken nie. Haar boetie se kennis is egter beter as gemiddeld.

Vriende van ons het die Bybel vir hulle kinders gelees van baba dae af en hulle kinders ken die Bybel baie baie goed. Kan selfs teksverse aanhaal.

Dit is dus ‘n reuse fout (verkeerde aanname) wat ons gemaak het. Maar hoe kan ons dit nou regstel? Waar begin ek sodat hulle teen 18 die Woord regtig baie goed sal ken?

Antwoord:

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Ek dink die eerste ding wat mens moet sê, is dat julle oor niks hoef skuldig te voel nie. Ek self het met die kinderbybel grootgeword en het niks negatief – sover ek weet – daarvan oorgehou nie. Inteendeel, dit het juis by my ‘n nuuskierigheid gewek om met die “groot” Bybel (soos ek dit daardie tyd genoem het) besig te raak. (Ek het laasgenoemde reeds in Standerd 1 [Graad 3] as geskenk van my ouers ontvang, en dit was vir my ‘n groot ervaring om met my eie “groot” Bybel in die hand kerk toe te gaan.) Ek onthou hoe ek dikwels dieselfde gebeure wat ek in die kinderbybel gelees het, ook in die Bybel gaan lees het om met mekaar te vergelyk. Maar vir lank het die kinderbybel en “groot” Bybel ‘n parallelle bestaan in my kinderlewe gehad. Geleidelik het die behoefte aan die kinderbybel weliswaar verdwyn. Moedig jou dogter dus aan om ook hierdie vergelyking tussen kinderbybel en Bybel te doen, en kyk wat gebeur.

Verder, daar is normaalweg genoeg ander kontekste waar jou kind aan die Bybel self blootgestel word, om maar net julle kerk se eredienste en kategese te noem (so neem ek aan). Ek dink hierdie kontekste is noodsaaklik om vir haar die brug te vorm na die Bybel sodat sy self, soos sy groter word, sal besef dat die kinderbybel net ‘n voorbereidingsfase is om belangstelling te wek vir die Bybel self.

‘n Ander ding wat in my eie kinderjare baie gehelp het om bloot op Bybelkennisvlak te vorder, was die Bybelkenniseksamens wat destyds in die Kaapse omgewing aangebied is. My ouers het my gereeld elke jaar daarvoor ingeskryf, en op dié manier het ek op ‘n sistematiese manier die Bybel deurgewerk met die gevolg dat my algemene Bybelkennis in laat-laerskool en vroeg-hoërskool stadium van ‘n baie goeie standaard was. Ek weet dat baie kerke nog steeds hierdie praktyk het. Hulle hou selfs “kompetisies” in en tussen gemeentes. Vind uit of daar in julle kerkopset so-iets is en, indien wel, moedig beide van julle kinders aan om hieraan deel te neem. Ek weet kinders is oor die algemeen nie “mal” hieroor nie, want dis nog ‘n ding waarvoor hulle moet leer, maar uiteindelik is dit tog die moeite werd as dit oor basiese Bybelkennis gaan.

Dan is daar baie hulpmiddels (elektronies en in druk) vandag beskikbaar om veral kinders te help om die Bybel sistematies deur te lees. ‘n Mens sou byvoorbeeld by die boekwinkels van Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM) kon gaan inloer wat hulle alles beskikbaar het. Hierdie hulpmiddels lê op verskillende vlakke – van gewone leeshulpmiddels om die betrokke Bybelgedeelte met begrip te lees tot meer interpreterende hulpmiddels (kommentare) wat bepaalde Bybelboeke se betekenis vir die leser uitlê. ‘n Goeie voorbeeld van laasgenoemde is CUM se Bybellennium wat ‘n kommentaar is op die hele Bybel. Iets wat kinders dalk makliker sal vind, is Dave Stehler se “Ontdekkingsreis deur die Bybel vir kinders”. Om die Bybel so sistematies te lees aan die hand van ‘n hulpmiddel is iets wat julle as gesin kan saamdoen. Dit sou vir my die eerste prys wees – om nie net jou kind self die Bybel te laat lees nie, maar dit as gesin saam met hulle te lees en te probeer verstaan. Maar onthou, dit moet vir hulle lekker wees om dit saam met julle te doen. Moet dit nie ‘n stresvolle geleentheid maak waar die kinders voel dat hulle “gekatkiseer” gaan word oor die Bybel of moeilike vrae moet beantwoord waar die een “afsteek” of afgespeel word teen die ander nie. Elkeen moet op sy/haar eie manier saam met pa en ma God se hartstaal aan hulle leer ken. Maar hierdie saamlees-ervaring kan ‘n wonderlike groeigeleentheid wees vir kinders (én ouers).

Daar is natuurlik ook die kwessie van watter vertaling van die Bybel mens aan jou kind wil deurgee. (Ek laat vir doeleindes van hierdie gesprek die Engelse vertalings daar.) Die aangewese een is seker die 1983-Afrikaanse Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Dit bly nog maar die standaard, en word ook deur die meeste Afrikaanse kerke as hulle amptelike vertaling gebruik. Uiteraard is daar nog die sogenaamde “ou” vertaling ook (die 1933/1953 een), hoewel sy woordgebruik en sinskonstruksies al ietwat verouderd is en bietjie vreemd op die oor val. Veral kinders vind dit moeilik om te verstaan. Aan die ander kant van die spektrum is ‘n vertaling wat baie lekker lees vanweë sy vryer vertaalmetode, die Lewende Nuwe Vertaling van CUM. ‘n Mens kan hom met vrymoedigheid gebruik. En dan is daar ook die Direkte vertaling van die Bybelgenootskap wat tans in wording is. ‘n Proefuitgawe wat die Nuwe Testament en Psalms bevat, het reeds verskyn en is by die Bybelgenootskap beskikbaar (R40). Hierdie vertaling probeer die oorspronklike idioom van die Bybel goed vasvang en verwoord, maar dan in vandag se Afrikaans. Ek voorspel dat hy baie gewild gaan word in die toekoms. Maar ek sou met die 1983-vertaling begin.

Ten slotte, daar is nie ‘n vreeslike reg en verkeerd in hoe mens jou kind aan die Bybel (en daarmee aan die Woord van God) bekendstel nie. Wat my betref het julle tot sover fantasties gedoen met julle kinders se Bybelopvoeding. Sit dit as gesin voort, met in agneming miskien van die gedagtes wat ek hierbo deurgegee het. En onthou, uiteindelik gaan dit nie oor blote Bybelkennis nie (uiteraard is dit nie onbelangrik nie), maar oor hoe die Bybel se inhoud jou lewe verander. Dít is wat mens uiteindelik in jou kind se lewe wil bewerk. En daarvoor is ‘n lewe as Christengelowige saam met jou kind onontbeerlik. Dis die beste geskenk wat julle hulle kan gee.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl

 

image_pdfimage_print

You may also like...