Laat sy Liefde jou Lei: Bid: “Maak my min”

image_pdfimage_print

Laat sy Liefde jou Lei: Bid: “Maak my min” – Milanie Vosloo

Bid: “Maak my min”.

“ …Hy moet al hoe minder in die kalklig staan terwyl ek stadigaan van die toneel moet verdwyn. So moet en sal dit wees.” Johannes 3:30

Johannes die doper was ’n onbaatsugtige mens.

Vir hom het dit net om een Mens gegaan: dié Christus op wie se koms hy die wêreld moes voorberei. Hy was as’t ware die onsigbare pasaangeër vir Jesus. Hy het die weg gebaan vir die koms van sy Messias en ongemerk van die toneel verdwyn toe Christus sy opwagting maak.

 

Om ander mense in ons leef- en werkswêreld só te ondersteun dat hulle die eer ontvang, is mos nie altyd maklik nie. Tog is dit presies wat ons Vader soms van ons verwag. Hy vra dat ons ons deel sal doen en dan die uitkoms en erkenning in sy hande sal laat. Meer nog vra Hy dat ons onsself in so ‘n mate sal prysgee dat Hy, en Hy alleen, deur ons sigbaar sal wees. Dit kan ons alleen regkry as ons daagliks onsself voor die kruis van ons Meester neerlê, toelaat dat sy volmaakte Gees ons vul en sy wil ons s’n maak. Ja, slegs wanneer ek en jy heeltemal verdwyn, kan God se grootheid en heiligheid in en deur ons sigbaar word.  

Eers wanneer ons uit onsself niks is nie, kan ons deur Hom álles wees. Dan eers is ons werklik Olimpiese-standaard-atlete in sy diens. Maak seker dat jy elke dag vir die Hemelse spele kwalifiseer.

Heilige Gees, maak die “my” in my min, sodat die “U” in my baie kan word.

 

Skrywer: Milanie Vosloo

image_pdfimage_print

You may also like...