Petrus se dood – Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

Elmie vra:

Petrus is gekruisig, maar hy het gevra dat hy onderstebo gekruisig word, want hy kan nie dieselfde eer kry as Jesus nie. Van kleins af is ons geleer dat ’n onderstebo kruis satanisties is. So wat maak ’n mens nou met hierdie inligting? Ek weet nie regtig wat ek wil vra nie. Is dit toevallig dat ’n onderstebo kruis satanisties is en Petrus onderstebo gekruisig wou word? Is die onderstebo kruis maar net ‘n mensgemaakte “ding” wat gekoppel word aan Satan?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die vroeg-kerklike tradisie het dit so dat Petrus die marteldood in Rome gesterf het, ongeveer in 64 nC, en dat hy op eie versoek onderstebo gekruisig is. Ek sê met opset “vroeg-kerklike tradisie”, want daar is geen klinkklare bewyse in die Bybel van hoe en waar Petrus gesterf het nie. Die plek en omstandighede van Petrus se dood is alles afleidings wat gemaak word uit buite-Bybelse geskrifte en kerkvaders se opmerkings van die eerste twee eeue na Christus wat oor Petrus se dood handel. Ons beweeg dus op baie wankelrige grond oor die presiese besonderhede van Petrus se lewenseinde. (Dit geld grootliks ook van Paulus se dood, maar ons konsentreer nou net op Petrus.)

Om die spesifieke vraag van ons vraagsteller te antwoord, is dit die moeite werd om aan drie kwessies aandag te gee: Waar het Petrus aan sy einde gekom; hoe het Petrus aan sy einde gekom; en moet ons enige satanistiese konnotasies heg aan die feit dat Petrus onderstebo gekruisig is?

Eerstens, waar het Petrus gesterf? Soos reeds genoem, sê die kerklike tradisie dat Petrus in Rome aan sy einde gekom het. Maar die Nuwe Testament self het geen direkte aanduiding dat Petrus ooit in Rome gewoon of gewerk het nie. 1 Korintiërs 9:5 maak wel melding dat Petrus sy vrou met hom saamgeneem het op sy reise, maar sê nie waar dit was nie. En wanneer Paulus aan die gemeente in Rome skryf, maak hy in sy uitvoerige lys name in Romeine 16 geen melding van Petrus aan wie ook groete oorgedra moet word nie. Dis wel moontlik dat Petrus vroeër of later as dié skrywe Rome toe kon gegaan het, maar ten tyde van die skryf van die Romeinebrief (ongeveer 55 nC) was Petrus heel waarskynlik nie in Rome nie.

Daar is geleerdes wat uit Romeine 15:20 aflei dat Petrus wel ’n bediening in Rome kon gehad het en moontlik selfs een van die medestigters van die gemeente was. Paulus gee hier die rede waarom hy nie eerder by Rome uitgekom het nie. Dis omdat sy werkwyse van so ’n aard was dat hy die evangelie verkondig het waar mense nog nie van Christus gehoor het nie, want hy wou nie op iemand anders se fondament bou nie. (Toe Paulus aan die gelowiges in Rome geskryf het, het die gemeente daar reeds lank bestaan.) Verder weet ons dat daar ’n ooreenkoms was dat Paulus veral die nie-Jode sou bearbei terwyl Petrus die evangelie aan die Jode sou verkondig (vgl Galasiërs 2:7-8). Dit is dus moontlik dat Petrus deel kon gehad het aan die evangelieverkondiging aan die Jode in Rome, want ons weet die gemeente in Rome het ’n baie sterk Joods-Christelike komponent gehad. Uit Romeine 15:20 sou mens dus die afleiding kon maak dat Paulus nie vroeër na Rome gegaan het nie omdat hy geweet het dat ander – moontlik Petrus? – reeds daar gearbei het. Maar dit is hoogstens ’n teorie, ons kan dit nie vir seker sê nie.

1 Petrus 5:13 sou moontlik ook kon dui op ’n verblyf van Petrus in Rome. Hier sê die skrywer dat die gemeente in Babilon groete stuur aan die gemeentes in Klein-Asië, dit is die gemeentes aan wie hierdie brief gerig word. Die veronderstelling is dan dat die skrywer, Petrus (vgl 1 Petrus 1:1), in “Babilon” sit en van daar af sy brief rig aan die gemeentes in Klein-Asië (die hedendaagse Turkye). Ons weet dat “Babilon” ’n bekende metafoor vir Rome was in die vroeë kerk (vgl bv Openbaring 18:21,24, waar Babilon as verskuilde benaming vir Rome gebruik word). Die saak van Petrus se verblyf in Rome staan hiermee egter nie bo alle twyfel vas nie. Hoewel ons kan aanvaar dat dit die bedoeling van die skrywer is om te sê dat die brief vanuit Rome geskryf word, is daar groot onsekerheid by geleerdes of Petrus wel die skrywer van 1 Petrus was. Die eerste Petrusbrief word deur baie geleerdes as ’n pseudonieme geskrif beskou, dit wil sê, ’n geskrif wat op die naam van Petrus geplaas is maar in werklikheid deur iemand anders geskryf is. (Ons kan nie nou op al die redes vir hierdie siening ingaan nie.) Die punt is: Indien 1 Petrus ’n pseudonieme geskrif is, bewys 1 Petrus 5:13 nie noodwendig dat die apostel Petrus ooit in Rome was nie. Maar – en dis ’n belangrike “maar” – wat ons wel kan sê, is dat 1 Petrus 5:13 daarop dui dat in die tyd toe 1 Petrus geskryf is (waarskynlik in die 80er jare van die eerste eeu nC) daar ’n tradisie in die vroeë kerk was dat Petrus in Rome gewoon en gewerk het, anders sou ’n pseudonieme skrywer nie Petrus se naam aan Rome gekoppel het nie. Die tradisie omtrent Petrus se verblyf in Rome moes dus heel vroeg ontstaan het.

Tweedens kom ons by die vraag: hoe het Petrus aan sy einde gekom? Hierdie vraag raak die hele kwessie van Petrus se martelaarskap en is ten nouste gekoppel aan die eerste vraag, waar het Petrus gesterf? Oor laasgenoemde het ons hierbo reeds geredeneer dat hoewel die Nuwe Testament nie eksplisiet is oor Petrus se bewegings nie – of hy ooit in Rome gewoon en gewerk het nie – daar tog op grond van 1 Petrus 5:13 gesê kan word dat die tradisie omtrent Petrus se verblyf in Rome heel gou in die vroeë kerk ontstaan het en dat dit histories ’n sterk moontlikheid is. Dit is dus goed moontlik dat Petrus in Rome aan sy einde gekom het. Die vraag is egter nou: is Petrus aan natuurlike oorsake dood of is hy as martelaar in Rome tereggestel? Alles dui op laasgenoemde. Watter getuienis het ons hiervoor?

Geleerdes stem saam dat Johannes 21:18-19 ’n vroeë aanduiding is van Petrus se martelaarskap. Want hier sê Jesus dat Petrus wanneer hy oud geword het sy hande sal uitsteek en iemand anders hom sal bring waar hy nie wil wees nie. En dan voeg Johannes by: “Dit het Jesus gesê en daarmee aangedui deur watter soort dood Petrus God sou verheerlik.” Dit kan beswaarlik anders geïnterpreteer word as ’n verwysing na Petrus se marteldood. Hierby kan ook die opmerking van Jesus in Johannes 13:36 gevoeg word, waar Jesus aan Petrus sê dat Petrus nie nou vir Jesus kan volg nie maar dat hy dit later sal doen. Die bedoeling is dan dat Petrus later ook aan die hand van die vyande van die evangelie sal sterf, net soos Jesus. Verder, as ons in aanmerking neem dat ten tyde van die skrywe van die Johannesevangelie (in die 90er jare van die eerste eeu nC) die manier waarop Petrus gesterf het dekades reeds bekend was, dan kan ons hierdie woorde in Johannes 21 en 13 as verskuilde verwysings na die martelaarskap van Petrus beskou. Sommige geleerdes gaan selfs so ver om te sê dat die uitdrukking “jou hande uitsteek” in Johannes 21:18 moontlik kan dui op die feit dat Petrus gekruisig is. Maar dit is waarskynlik te ver gevoer.

’n Ander moontlike verwysing na die marteldood van Petrus in Rome vind ons in die brief van biskop Klemens van Rome aan die Korintiërs, in ongeveer 96 nC. Dit stam dus uit dieselfde tyd as die Johannesevangelie. In hoofstuk 5 van hierdie brief skryf Klemens (vertaling in Engels uit die Grieks deur Maxwell Staniforth [1968]: Early Christian Writings. The Apostolic Fathers. [Penguin Books.]): “Take the noble examples of our own generation. Even the greatest and most virtuous pillars of our Church were assailed by envy and jealousy, and had to keep up the struggle till death ended their days. Look at the holy apostles. It was by sinful jealousy that Peter was subjected to tribulation, not once or twice but many times; it was in that way that he bore witness, before he left us for his well-earned place in glory.” Wat kan ons uit hierdie opmerking van biskop Klemens van Rome omtrent Petrus se dood aflei? Streng gesproke net die volgende: dat Petrus in sy lewe met baie teenstand te kampe gehad het, dat hy deur sy prediking van die evangelie getuienis gelewer het, dat hy êrens ’n natuurlike dood gesterf het, en dat hy as beloning vir sy volharding in heerlikheid opgeneem is. Maar as ons in aanmerking neem dat Klemens min of meer in dieselfde tyd as Johannes 21:18 en 1 Petrus 5:13 geskryf het, is dit moeilik om te dink dat hy nie met die tradisies omtrent Petrus se verblyf en dood in Rome, wat in laasgenoemde tekste verteenwoordig word, bekend was nie. ’n Mens sou dus ’n bietjie meer in Klemens se woorde kon lees, naamlik dat Petrus se getuienislewering (“bore witness”) en sy welverdiende plek in heerlikheid (“well-earned place in glory”) verskuilde verwysings is na sy marteldood, waarskynlik in die tyd toe die Christene deur keiser Nero in Rome vervolg is (middel 60’s van die eerste eeu). Die sondige jaloesie (“sinful jealousy”) sou ook na onenigheid tussen Christene in Rome kon verwys wat Nero as verskoning gebruik het vir sy fanatiese optrede teen die Christenleiers, waaronder Petrus.

Bostaande oorsig sê nog net dat Petrus heel waarskynlik die marteldood in Rome ondergaan het, maar sê nog nie presies hoe hy gesterf het nie. Hierdie inligting kry ons eers in die apokriewe geskrif, Die Handelinge van Petrus, wat waarskynlik tussen 150-200 nC geskryf is; dus, baie laat as dit met die Nuwe-Testamentiese geskrifte vergelyk word. Volgens hierdie werk is Petrus, soos Jesus, ook gekruisig, en het dié kruisiging in Rome plaasgevind. Maar dan gaan die geskrif voort en meld dat Petrus vra om onderstebo gekruisig te word, met die kop na onder. Petrus se verduideliking vir sy vreemde versoek is dat dit simbolies is van die gevalle Adam wat alles in God se skepping kom omkeer en deurmekaar krap het. Die Handelinge van Petrus was waarskynlik verantwoordelik vir die ontstaan van die tradisie dat Petrus (onderstebo) gekruisig is, want verskeie kerkvaders maak daarvan melding: Tertullianus (einde 2e eeu nC) sê dat Petrus ’n dood gesterf het soos Jesus, en beide Origenes (vroeg 3e eeu) en Hieronimus (middel 4e eeu) noem dat Petrus onderstebo gekruisig is. Oor die historiese betroubaarheid van hierdie tradisie kan mens egter net wonder, want Die Handelinge van Petrus se hele inslag is dié van legendes oor Petrus se doen en late, terwyl bogenoemde kerkvaders kennelik net die wyse van Petrus se dood herhaal sonder om dit te bevraagteken. Die kort en die lank van alles is dat mens die historiese waarskynlikheid van Petrus se marteldood in Rome kan aanvaar, maar dat die aard daarvan – kruisiging, en veral die onderstebo kruisiging – in groot onsekerheid gehul is.

Dit bring ons by die derde vraag: moet ons enige satanistiese konnotasies heg aan die feit dat Petrus onderstebo gekruisig is? Die kort antwoord hierop is “nee”. Daar is geen verband tussen die twee nie. Indien mens sou aanvaar dat Petrus wel onderstebo gekruisig is, dan was die motief daarvoor beslis nie satanisties van aard nie. Soos reeds genoem sê Die Handelinge van Petrus dat Petrus daarmee die gevalle mensdom wou aandui, hoewel die kerkvader Hieronimus later noem dat Petrus daarmee wou betuig dat hy nie waardig is om soos Jesus – regop – gekruisig te word nie. Dié onderstebo kruis staan dan ook in die kerkgeskiedenis bekend as die Kruis van Petrus of die Omgekeerde kruis. Daar is selfs kerke wat hierdie kruis as simbool gebruik om die Christelike waardes van nederigheid en selfverloëning uit te dra. En in die Rooms-Katolieke Kerk is dit ook simbool van die pous, aangesien Petrus deur dié Kerk as die eerste pous beskou word. Hierdie kruis is gewoonlik die een sonder die Christusfiguur daarop. Dus, wat mens ook al as rede aanvaar waarom Petrus onderstebo gekruisig wou word, die punt is dat hierdie kruisigingsmetode ’n Christelike motivering het. Daar is niks satanisties verbonde aan die feit dat Petrus onderstebo gekruisig is nie – inteendeel.

Binne satanistiese kringe en soortgelyke kultusgroepe word die onderstebo kruis egter gesien as ’n simbool van verwerping van Christus en alles waarvoor Hy staan; alles omtrent Christus word as ’t ware op sy kop gekeer, teengestaan en beveg. In die moderne popkultuur word die omgekeerde kruis ook soms gebruik as aanduiding van die verwerping van alle gesag en die ongebreidelde uitleef van teen-kultuur aktiwiteite. Dit hang dus alles af van die konteks hoe die omgekeerde kruis geïnterpreteer word. Dit beteken dat iemand wat ’n omgekeerde kruis dra nie noodwendig met satanisme, hedonisme of verwerping van gesag geassosieer moet word nie. Jy moet eers uitvind wie dit is wat dit dra en wat die individu of groep daarmee wil sê. Soos met alles in die lewe geld dit ook hier: kry eers jou feite agtermekaar voor jy ’n oordeel vel.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

You may also like...