Die Groot Geloofswoordeboek: Apostel en dissipel

image_pdfimage_print

Die Groot Geloofswoordeboek: Apostel en dissipel

Apostel

Apostel is ‘n Griekse woord wat net soos “halleluja” en “amen” net in ons (Arabiese) letters oorgeskryf is. Die woord het oor­spronklik verband gehou met iemand wat gestuur is. In die tyd van Jesus se aardse bediening word meestal van “dissipels” ge­praat wat iets soos volgelinge of leerlinge beteken. Die dissipels is nie in die tyd van Jesus dikwels apostels genoem nie. “Dissipels” of “die twaalf” is die gewone benaming. Maar ons kry “apostels” tog hier en daar in die Evangelies, veral in Lukas (Matt 10:2; Mark 6:30; Luk 9:10; 17:5). Dis nie duidelik of die Evangeliste hulle maar later, toe hulle die Evangelies geskryf het, so genoem het omdat hulle toe al aan die woord gewoond was nie. In Handelinge neem die woord “apostels” heeltemal oor en word hulle glad nie meer “dissipels” genoem nie.

Na die opstanding van Jesus word Mattias in die plek van Judas gekies (Hand 1:26), maar ‘n mens hoor nooit weer van hom nie. Later lyk dit of Paulus eintlik die plek van die twaalfde apostel in­geneem het (1 Kor 9:1 ev; 15:9-10).

Die woord “apostel” word later in die Nuwe Testament ook vir ander leiers gebruik (Rom 16:7; 2 Kor 8:23; Fil 2:25), maar som­­mige vertalings, soos dié van 1983, het verkies om dit met ander woorde te vertaal soos “afgevaardigde” (2 Kor 8:23). Oor Romeine 16:7 is daar groot verskille. Die Grieks laat meer as een vertaling toe. Ver­talers kies tussen ten minste twee moont­lik­hede: ons lees daar van Andronikus en Junias: “hulle is hoog­aan­geskrewe by die apostels”, of “hoogaangeskrewe onder die apos­tels”, of selfs “hulle neem on­der die apostels ‘n besondere plek in”. Die verskil in betekenis is duidelik. Hierdie twee was óf mense wat deur die apostels hoog geag is, maar self nie apos­tels nie, óf hulle was vername apostels. Wat hierdie uitspraak nog meer omstrede maak, is die feit dat daar nie so ‘n naam soos Junias (‘n man) bekend is nie; wel Junia, wat ‘n naam vir ‘n vrou is. Dit kan beteken dat ons hier met ‘n man en ‘n vrou te doen het, en dus dat daar ‘n vroulike apostel was, ‘n saak baie na aan die hart van mense wat pleit vir vrouens in die kerklike ampte. Niks is egter seker hieroor nie. (*Feminisme)

Die apostels het ‘n baie belangrike plek in die grondlegging van die kerk ingeneem. Hulle was volgelinge van Jesus wat op ‘n be­sondere manier deur Hom opgelei en voorberei is om die evan­ge­lie verder te dra. Wanneer die kerk die tempel van God genoem word, word hulle saam met Christus genoem: Hy is die hoeksteen, hulle is (saam met die profete van die Nuwe Tes­tament) die fondament van die kerk (Ef 2:20). Daarom praat ons vandag nog van die *apostolisiteit van die kerk as ‘n onmisbare eienskap.

Dit is dan ook nie vreemd nie dat die vroeë kerk besondere ont­sag vir die apostels gehad het. Die vraag of ‘n bepaalde geskrif met ‘n apostel verband gehad het (bv deur ‘n apostel geskryf is of deur die volgeling van ‘n apostel), was een van die belangrike sake wat gesag aan ‘n geskrif gegee het sodat dit later as deel van die Nuwe Testament beskou is. (*Kanon) Alhoewel hulle geweet het dat Markus nie ‘n apostel was nie, was dit genoeg om te weet dat hy ‘n besondere verhouding met Petrus gehad het. En Lukas weer met Paulus. Verder was hulle oortuig dat Matteus en Johannes self apostels was.


Petrus

Die rol van Petrus het altyd besondere aandag getrek. Dit lei min twyfel dat hy die leier onder die dissipels was. Wanneer Jesus die dissipels aangespreek het, was dit telkens hy wat geant­woord het, dikwels duidelik as hulle verteenwoordiger (Mark 8:27-30). Ook ná die koms van die Gees is hy die spreekbuis (Hand 2:14 ev).

Die vraag is egter of die kerk regtig op Petrus gebou is. Die Ka­tolieke Kerk glo dit na aanleiding van onder andere Matteus 16:18 waar Jesus vir hom sê: “Jy is Petrus, en op hierdie rots (petra) sal Ek my kerk bou.” Die woordspeling is opvallend. Die Katolieke aan­vaar dat Petrus die rots is. Daarom glo hulle hy is die aardse hoof van die kerk (hulle ontken nie dat Christus die hemelse Hoof is nie), en die *pous is sy opvolger. Die pous moet dus die leier van die kerk wees.

Die meeste ander kerklike tradisies is nie so seker hiervan nie. Sommige meen dat Jesus bedoel het die rots waarop die kerk gebou word, is Petrus se belydenis (hy het net tevore bely dat Jesus die Messias is). As Hy regtig die kerk op die persoon van Petrus wou bou, kon Hy maklik genoeg gesê het: Jy is Petrus en op jou sal Ek my kerk bou.

‘n Mens kan vra waarom jy so min van die meeste ander apos­tels in die Nuwe Testament lees. Eintlik is dit net Petrus, Ja­kobus en Pau­lus wat prominent is in Handelinge. Maar ‘n mens moet ont­hou dat Handelinge deur Lukas geskryf is wat na aan Paulus gestaan het, en dat Petrus en Jakobus in elk ge­val aan die begin ‘n prominente rol gespeel het. Die ander kon in ander verbande baie gedoen het wat maar net nie in die Nu­we Testament genoem word nie. Die Nuwe Testament is nie planmatig opgestel om vir die nageslag ‘n volledige verslag te bewaar van alles wat gebeur het nie. Geen apostel het besef sy geskrifte gaan later opgeneem word in ‘n bundel wat die eeue sal ingaan nie. Hulle het maar net geskryf wat op daardie oom­blik belangrik was vir die groep aan wie die geskrif gerig was. Uit ander bronne weet ons dat ander apostels in ander gebiede betrokke was. Daar is byvoorbeeld die oorlewering dat Matteus vroeg na Indië is en dat die kerk wat van baie vroeg af in Indië bestaan, na sy sendingwerk teruggevoer kan word.


Woorde gemerk met ʼn * word elders bespreek.

 

Outeur: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...