Laat sy Liefde jou Lei: God – die groot versoener

image_pdfimage_print

Laat sy Liefde jou Lei: God – die groot versoener – Milanie Vosloo

God – die groot Versoener

Ons is nou vrygespreek deur Jesus se dood. Hoeveel te meer sal Hy ons nie, deur Jesus, red van die toekomstige oordeel nie! Romeine 5:9

Daar is nie ‘n manier hoe ek en jy op ons eie voor die troon van God sou kon verskyn nie. Christus se koms na hierdie wêreld het egter ons almal se lewens radikaal verander. Hy het ons gebroke mensdom met die hemel kom verbind en ons in staat gestel om reg voor die Vadertroon te verskyn.

Hoe wonderlik dat God gekies het om self die groot Versoener te wees. Hy het, terwyl ons nog in die sonde was, die inisiatief geneem om na ons toe uit te reik. En wanneer ons – selfs ná ons redding – in sonde verval, is Hy weer die een wat ons kom soek en ons keer op keer teruglei na die Vaderhuis.

Hierdie versoeningsdaad van ons Vader doen egter ook ‘n oproep op ons as sy kinders. Hy vra dat ons – uit dankbaarheid vir sy versoeningsdaad – ook die inisiatief sal neem om so teenoor ander te leef. Hy vra dus dat ons, waar daar onvrede is, sal uitreik met liefde, waar daar haat is, ander met deernis sal omhels en waar daar onvergifnis is, die eerste tree na vrede sal neem.

Kom ons gee die versoening tussen ons en God ook aan na ander mense deur te sê: “Ek reik na jou toe uit om vergifnis te vra en reg te maak wat verkeerd is.”

Here, dankie vir die losprys wat U vir my, u versoeningskind, betaal het.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

Skrywer: Milanie Vosloo

image_pdfimage_print

You may also like...