Jy moet jou naaste liefhê soos jouself

image_pdfimage_print

 

I am thy sonne, made with thy selfe to shine –  John Donne

 

Jy moet jou naaste liefhê soos jouself

Hierdie vers is die hoogtepunt van Levitikus 19:9 – 18. Jesus gebruik hierdie teks in sy samevatting van die wet (Matteus 22:39). Levitikus 19 is belangrik, want die liefde hier is konkreet. Dit pas die liefde vir die naaste op vyf gebiede toe. Elke gedeelte word afgesluit met die woorde: Ek is die Here. Kom ons kyk na hierdie vyf gedeeltes.

  1. Jy moet jou naaste met jou besittings liefhê (vers 9 – 10)

Dit begin met die opdrag dat jy van jou oes op die lande moet laat agterbly. Die armes en die vreemdelinge kan dit optel en eet. Die belangrikste les wat ons hier kan leer, is dat God se kinders vrygewig moet wees. Ons moet ons finansiële lewens doelbewus beplan dat ons iets oor het om vir die armes in nood te gee. Moenie al jou geld aan jouself spandeer nie; dink aan hulle wat minder as jy het.

 

  1. Jy moet jou naaste met jou woorde liefhê (verse 11 – 12)

Om lief te hê is om die waarheid te praat. Ons sien hier twee kontekste waarin eerlikheid belangrik is. Die eerste is om nie te steel nie Die konteks laat ons dink dat steel hier as gevolg van leuens is – mense wat vals teenoor mekaar is. Die tweede toneel is in die hofsaal. Destyds het alles op getuies berus – geen DNS-toetse of kameras nie. Daarom is die Bybel so sterk teen die aflê van vals getuienis. Liefde vir die naaste vereis dat ons baie versigrig met ons woorde moet wees.

 

  1. Jy moet jou naaste deur jou optrede liefhê (verse 13 – 14)

Hier kry ons die algemeenste voorbeeld van onderdrukking in die Bybel: om nie die arbeider sy verdiende loon te bepaal nie. Dit was belangrik, want die daaglikse loon was dikwels net gelyk aan sy daaglikse brood. Mense was afhanklik van hulle loon om te oorleef. Die breë beginsel in hierdie twee verse is dat God se kinders nie voordeel moet trek uit die swakkes nie. Jy mag nie ‘n dowe vloek al kan hy jou nie hoor nie;  jy mag nie ‘n hindernis in die pad van ‘n blinde lê nie al sien hy jou nie. God sien en hoor

 

  1. Jy moet ander in jou regspraak liefhê (vers 15 – 16)

Geregtigheid in die Bybel is ‘n regverdige proses. Jy mag nie mense op grond van hulle sosiale status in die samelewing beoordeel nie. Geen partydigheid nie. Geregtigheid gaan altyd met die waarheid gepaard. Daar moet een standaard en een wet vir almal wees.

 

  1. Jy moet ander in jou gesindheid liefhê (vers 17 – 18)

 Jy mag nie haatdaend wees … jy mag nie wraak neem of ‘n grief koester nie. As jy kwaad is vir jou naaste maak die geskil openlik met hom uit. Ons moenie net ons naaste reg hanteer nie, maar ons harte moet ook reg teenoor hulle ingestel wees.

 

Aan die eeinde van hierdie gedeelte volg die opdrag: Jy moet jou naaste liefhê soos Jouself (vers 18). Hier berus dit op vyf eenvoudige opdragte. Eenvoudiger as wat jy dink, maar steeds makliker gesê as gedoen.

 

 

 

image_pdfimage_print