Laat sy Liefde jou Lei: Hoe beter jy Hom ken …

image_pdfimage_print

Laat sy Liefde jou Lei: Hoe beter jy Hom ken … – Milanie Vosloo

Maar as die Gees ons lewe beheer, is die gevolg: … goedheid … Galasiёrs 5:22

“U goedheid Heer kan ons nie peil nie. Wie word daardeur nie diep getref. Niks ander bring vir ons die heil nie …” sing ons van kindsbeen af. Ja, ons God is goed! Daarom géé Hy Homself op soveel maniere aan ons.

  • Toe ons Vader ons geskape het, het Hy uit die staanspoor iets van sy hemelse grootheid in ons geplaas.
  • Nadat die mensdom Hom verwerp en ons ons eie ondergang bewerkstellig het, het Hy wéér ‘n deel van Homself – sy eie Seun – na ons gestuur;
  • En toe Jesus se werk hier op aarde afgehandel was, het Hy vir die derde keer Homself in die kern van ons menswees geplaas deur aan ons die Heilige Gees te gee.

Ons hét dus ‘n deel van God se liefdevolle goedheid in ons. En hoe meer ons Hom toelaat om sy lig deur ons te laat skyn, hoe meer sal sy volmaakte wese aan die wêreld sigbaar word. Soos Johannes skryf: As ons optrede egter van die lig getuig, leef ons soos Hy wat in die lig is en het ons volledig deel aan mekaar en, en die bloed van Jesus, sy Seun, maak ons skoon van alle sonde.(1 Joh. 1:7)

Hoe beter jy God leer ken, hoe meer sal jou lewe sy liefdevolle goedheid weerspieёl. Gaan deel vandag, sonder om iets terug te verwag, goed-vir-ander-wees uit.

Vader, ek wíl elke dag in u lig wandel. Ja, ek wíl u goedheid leef!

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo

image_pdfimage_print

You may also like...