Laat sy Liefde jou Lei: Hy gee sin aan die lewe

image_pdfimage_print

Laat sy Liefde jou Lei: Hy gee sin aan die lewe – Milanie Vosloo

Hy gee sin aan die lewe

Ek het my lewenspad oordink en het teruggedraai om volgens u voorwaardes te lewe. Psalm 119:59

Wanneer ons klein is, lyk die wêreld so ongekompliseerd en wonderlik. Ons kan skaars wag om groot te word. Dan word ons groot … en dan is daar min van die storieboekverhale wat in ons eie lewens realiseer. En dis dan die tyd wat ons maklik oor die aard, doel en sinvolheid van die lewe kan worstel.

 

Die harde lewensfeit is: ons ís nie in ‘n feёverhaalwêreld nie omdat ons mensdom lank gelede reeds gekies het om ‘n lewe buite die volmaakte te leef. Ons mensdom het onsself sedert die skeppingsdae uit die hemelse Walt Disney-storieboeke geskryf. En daarom is die realiteit van die lewe gebrokenheid wat kristalliseer in pyn, ongemak, probleme en moeilike tye. Hoe gouer ons dit aanvaar, hoe makliker verstaan ons die lewe en hoe meer weet ons dat ons nie kan bekostig om één dag sonder ons hemelse Vader te leef nie. Om in God te glo, sê H Newbegin, is om te weet dat die reёls van die spel regverdig sal wees, en die uitkoms van die spel baie meer veelseggend as wat jy ooit kan dink.

 

Aanvaar vandag die realiteite van die lewe in die lig van die groter waarheid: die feit dat jou liefdevolle Vader jou te midde van alles veilig in sy hand het. Dis meer as ‘n realiteit. Dis ‘n ewige waarheid.

Here Jesus, U gee sin aan my lewe selfs wanneer ek twyfel aan die lewe se sinvolheid!

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

milanie_boeke_advertensie

Skrywer: Milanie Vosloo

image_pdfimage_print

You may also like...