Laat sy Liefde jou Lei: Om te glo, selfs as …

image_pdfimage_print

Laat sy Liefde jou Lei: Om te glo, selfs as … Milanie Vosloo

Om te glo, selfs as ….

“Ek glo!” roep die kind se pa dadelik uit. “Help my tog om nie meer te twyfel nie!” Markus 9:24

Wonder jy soms of dit die moeite werd is om te (blý) glo? Daar was tog al kere toe jy ontredderd gevoel het, aan God se goedheid getwyfel het of gewonder het waarom jou gebede “onbeantwoord” bly? Miskien moet ons eers vra: Wáárom glo jy? Is jou geloof gebaseer op die voordele wat dit inhou soos dat jou Vader na jou versoeke luister en in sommige gevalle dalk vir jou die binnebaan van die lewe gee? Of glo jy omdat jy wéét, dat jou Here – ondanks alles – God blý, in beheer ís en áltyd vertrou kan word?

Ware geloof is nie gebaseer op dit wat God vir ons kan doen en in hoe ‘n mate Hy ons gebede beantwoord nie. Veel eerder gaan Bybelse geloof daaroor dat ons blý glo wanneer ons nié God se stem hoor nie, wanneer daar nié genesing is nie, wanneer die reёn wegbly, wanneer daar maar net nie finansiële uitkoms is nie, wanneer teenslae jou blý tref … wanneer jy die mens wat jy die liefste het, verloor of wanneer jy deur vuur moet stap. Dis in sulke tye van ontreddering wat ware geloof steeds uitroep: “Here, help my glo! Help my om U ook nou te vertrou. Want self kan ek nie!” 

Bid vandag dat God aan jou die gawe van geloof sal gee, juis wanneer jy nié kan glo nie.

Getroue Vader, ek wíl onwrikbaar glo. Help my asseblief daarmee.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Milanie Vosloo

image_pdfimage_print

You may also like...