Laat sy Liefde jou Lei: Om van jou Podium af te klim

image_pdfimage_print

Laat sy Liefde jou Lei: Om van jou Podium af te klim – Milanie Vosloo

Om van jou podium af te klim

As iemand onder julle belangrik wil wees, moet hy die onbelangrikste posisie onder julle inneem. Hy moet bereid wees om alles te doen wat die ander van hom vra en moet die hele tyd reg wees om die ander te dien, of dit hom nou pas of nie. Markus 10:44

Ons as mense sukkel maar om vir ander pasaangeërs te wees. Dis mos darem nie maklik om vir ander mense die wind te keer en dan sommer so half ongesiens van die toneel te verdwyn nie. Veel eerder wil ons self die wedlope hardloop sodat ons tog die eer en erkenning kan kry. Pasaangeërs staan immers nie op podiums met lourierkranse om hul nekke nie!

Tog is dit presies wat Jesus bedoel wanneer Hy sê dat ons bereid moet wees om die minste te wees. En, voeg Hy by, hierdie minste-wees geld nie net vir die dag as ons so voel nie, dit beteken dat ons onder alle omstandighede bereid sal wees om ander te dien … of dit ons nou pas of nie.

Om van ons mensgemaakte “belangrikheidspodiums” af te klim, is verseker nie maklik nie. Dis mos immers die plek waar die skare mense ons raaksien en waar ons erkenning kry!

Dis makliker om van jou podium af te klim wanneer jy onthou dat dié dinge waarvoor ons hier op aarde aangeprys word, weinig punte in die hemel tel. Die hemel vereer immers net een ding: Die liefde.

Vader, maak my minder sodat u liefde in my meer kan word.

 

Skrywer: Milanie Vosloo

image_pdfimage_print

You may also like...