Laat sy Liefde jou Lei: Wie is God vir jou?

image_pdfimage_print

Laat sy Liefde jou Lei: Wie is God vir jou? – Milanie Vosloo

Wie is God vir jóú?

Here, wie mag dit waag in u teenwoordigheid? Wie mag woon op u heilige berg? Psalm 15:1

Elkeen van ons het ‘n baie spesifieke beeld van God. Wanneer jy aan Hom dink, met Hom praat, soms vir Hom bang is en ander kere na Hom verlang, roep Hy by jou ‘n bepaalde beeld op. Dalk sien jy die Kinderbybel-prentjie van die Man met die baard, lang rok en uitgestrekte arms of die Een vir wie jy maar jou versoeklysies-van-die-dag kan neem. Dit mag wees dat jy Hom as die onaantasbare Heerser sien wat ver bo die aarde op sy magtige troon sit of dalk is Hy vir jou ‘n polisiefiguur vir wie jy eintlik nogal bang is?

Die manier hoe jy God sien sal bepaal hoe jy aan Hom dink, oor Hom voel, met Hom praat en na Hom luister. Dit sal ook ‘n aanduiding wees van die aard en vlak van jou verhouding met Hom. Om God te ken – regtig te kén – lê waarskynlik ver buite ons menslike vermoёns en begrip. Tog laat God toe dat sy skepsels genoeg van Hom weet en verstaan dat ons in ‘n intieme verhouding met Hom kan leef: ‘n verhouding waarin ons Hom leer ken vir die liefdevolle Vader wat Hy régtig is.

Om God te ken en elke dag nader aan Hom te beweeg is ‘n wonderlik verrassende ervaring. Besluit vandag om, sonder enige vooropgestelde idees, toe te laat dat Hy Homself – dit wat Hy in wese is – aan jou openbaar.

Here, ek het U lief. Daarom wil U werklik ken!

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

Skrywer: Milanie Vosloo

image_pdfimage_print

You may also like...