Laat sy Liefde jou Lei: Soms moet jy die pad loop

image_pdfimage_print

Laat sy Liefde jou Lei: Soms moet jy die pad loop – Milanie Vosloo

Soms moet jý die pad loop

“God het selfs nie-Jode tot inkeer gebring om aan hulle die lewe te gee.” Handelinge 11:18b

Het jy al daaraan gedink dat daar sekere dinge is wat net jý kan doen? Dat God bepaalde opdragte het wat Hy spesifiek aan jóú opgedra het? En het jy al daaraan gedink dat, ás jy dit nie doen nie, ‘n stukkie van die koninkryk so verlore kan gaan?

So het God byvoorbeeld vir Filippus gestuur om ‘n Etiopiёr tot bekering te lei sodat die Evangelie-boodskap Afrika kan bereik. En het Hy deur Lida die verlossingsboodskap in Europa begin. Ja, God het seker gemaak dat sy liefde dwarsdeur die wêreld versprei sodat élke mens kon weet: Daar is ‘n God wat álle mense wil red.

Jou koninkryksdeel kan dalk by jou onmiddellike kring lê: by die vriende, familie of kollegas met wie jy daagliks te doen kry. Maar dit kan ook wees dat God jou in die lewe van ‘n onbekende wil gebruik soos die kelner wat jou koffie bedien, die kassiere wat jou aankope hanteer, die bedelaar by jou hek of die persoon in wie jy jou vandag gaan vasloop. Wanneer jou hart ingestem is op die Gees van God, sal jy wéét wanneer die geleentheid hom voordoen. Jy sal “hoor” hoe daardie mens as’t ware vir jou sê: “Hoe kan ek die pad loop as jý my nie wys nie?”

Wees vandag fyn ingestel op die leiding van die Gees. Hy gaan vir jou sê: Maak só!

Heilige Gees, maak my asseblief gehoorsaam, selfs wanneer u opdrag vreemd klink.

 

Skrywer: Milanie Vosloo

image_pdfimage_print

You may also like...