Uit die modderige slyk (2)

image_pdfimage_print

 

In the end we will remember not the words of our enemies, but the silence of our friends – Martin Luther King Jr

 

Uit die modderige slyk (2)

Psalm 40 leer vir ons baie van ons optrede as dinge in die lewe vir ons baie moeilik word. Ek gaan drie blogs aan hierdie psalm wy. Ek maak baie van die Ou Afrikaanse Vertaling gebruik

 

2. Die psalmis bid vir God se verlossing in die huidige (Psalm 40 :12 – 18)

Vers 12 dien as skanier tussen die twee gedeeltes: U, o Here, sal u barmhartighede van my nie terughou nie; laat u goedertierenheid en u trou my altyddeur behoed. Die psalmis is weer in  ‘n kuil van vernietiging. Hy onthou egter God se goedheid uit die verlede. Dit gee aan hom die vertroue om vir God se verlossing in die huidige te bid.

 

Die psalmis veg op twee fronte – die interne stryd teen sy eie sonde en die eksterne stryd teen sy vyande. Die eksterne stryd om hom woed steeds (vers 14). Hy word omring deur vyande wat hom wil vernietig. Sy situasie is weer desperaat. Hy besef sy eie hopeloosheid en roep na die Here. As hy dit doen verskuif sy aandag van homself na die Here. Hy fokus veral op twee dinge.

 

  • God se barmhartigheid misluk nooit nie

U, o Here, sal u barmhartighede van my nie terughou nie; laat u goedertierenheid en trou my altyddeur behoed (40:12). God is barmhartig en sy liefde beskerm mense. Hy verander nooit nie. Hy het sy barmhartigheid aan die psalmis in die verlede bewys en Hy sal dit weer doen.

 

  • God se beloftes

Laat in U vrolik en bly wees almal wat U soek;  laat die liefhebbers van u heil altyddeur sê: Groot is die Here! Al is ek ellendig en behoeftig – die Here dink aan my; U is my hulp en my redder; my God, vertoef tog nie (40:17 – 18). Die psalmis weet uit sy ondervindings in die verlede dat die Here luister na die uitroepe van sy mense. Hulle kan vrolik wees, want die dag van verlossing kom. Die psalmis bid vir verlossing en dan wag hy. Hy vertrou dat God se genade nooit sal misluk nie – sy verlossing kom.

 

In die laaste blog gaan ons kyk na wat die psalm nou vir ons sê.

 

image_pdfimage_print