Dawid: Gesalfde, Sanger, Profeet, Krygsman (1)

image_pdfimage_print

We cannot infer from prosperity that God is pleased with us, nor can we infer from adversity that he is displeased with us. –Wilson Benton

Dawid: Gesalfde, Sanger, Profeet, Krygsman (1)

Ons ontmoet vir Dawid in 1 Samuel 16. Daar is veral drie verhale van belang:

  • Saul word verwerp en God stuur die bejaarde Samuel om ‘n nuwe koning te salf. Dit sou een van Isai se seuns wees. Isai laat al sy seuns by Samuel verbygaan, maar die Here kies nie een van hulle nie. Later is net die jongste een oor, maar hy is besig om die skape op te pas – nou nie juis die eerbaarste werk wat daar is nie. Toe Dawid daar aankom sê die Here vir Samuel: Staan op, salf hom, want dit is hy (16:12). Dan lees ons: Die Gees van die Here het van daardie dag af kragtig in Dawid gewerk – hy is nou gereed om te lei.
  • Net daarna lees ons dat ‘n bose gees vir Saul voortdurend ontstel het. Dit is geglo dat musiek baie kalmerend op sulke mense inwerk. Sy raadgewers beveel aan dat hy iemand moet kry wat vir hom die lier kan speel. Een van die amptenare onthou dat hy vir Dawid hoor speel het. Saul laat vir Dawid haal: Telkens wanneer die boosaardige gees in Saul was, het Dawid die lier gevat en daarop gespeel. Dan het Saul bedaar (16:23). Dawid kom na Saul se paleis, nie as troonopvolger nie, maar as musikant en sanger.
  • Die derde verhaal is dié van Dawid en Goliat (1 Samuel 17).

Hierdie drie verhale beklemtoon ook die drie beelde van Dawid volgens die vroeë Bybelverklaarders.

  • Dawid, die Gesalfde

Ons het gesien dat Samuel vir Dawid gesalf het. Wat beteken dit as iemand gesalf word? Letterlik beteken dit om olie op sy kop te vryf. Hierdie olie het parfuum bevat. In die antieke wêreld het mense dit geniet om hulle liggame met allerhande olies wat lekker ruik in te vryf. As Amos die selfsugtige ryk mense kritiseer, sê hy: Julle drink wyn uit offerkomme en salf julle met uitsoekolie (6:6).

Om olie oor iemand uit te gooi, is dus ‘n mooi ding om te doen, maar dit was ook ‘n simboliese optrede  waardeur mense in ‘n hoë posisie aangestel is. Konings is gesalf  en op ‘n stadium ook hoëpriesters. Salwing en die amp van koning is so sterk verbind dat mashiah (gesalfde) eintlik ‘n sinoniem vir koning geword het. Dawid het later koning van Israel geword, Hy word dan ook bestempel as Israel se grootste koning. Later toe die Israeliete onder vreemdelinge gely het, het hulle gehoop dat Israel in die toekoms weer sou terugkeer na die heerlikheid van Dawid se regering – die herstel van ‘n Dawidiese koning – ‘n mashiah – op die troon. Drie maal per dag sal Jode bid in die rigting van Jerusalem en onder andere vra vir die herstel van Dawid se troon.

Ten spyte van al sy misstappe word Dawid steeds as die ideale beeld van ‘n koning beskou. Christene natuurlik glo dat Jesus hierdie langverwagte mashiah was. Hulle het na Hom as die Messias en Christos (gesalfde) verwys. Nog ‘n bewys van ‘n baie ou gesegde: Wat in die Ou Testament verborge is, lê oop in die Nuwe.

image_pdfimage_print

You may also like...