Levitikus: Moet ons die boek nog lees? (6)

image_pdfimage_print

With a Saviour less than divine you have a religion less than saving. —C.H. Spurgeon

Levitikus: Moet ons die boek nog lees?  (6)

In die vorige blog het ons gekyk na hoe ons beginsels uit hierdie wette kan aflei. Ons sluit af met ‘n praktiese toepassing deur te vra: Wat sou Jesus en Paulus gesê het?

 

Die ryk jongman sê vir Jesus: Al hierdie dinge het ek van my kinderdae af onderhou (Lukas 18:21). Jesus antwoord hom dat hy vir Jesus moet volg en sy prioriteite reg kry – soek eers die koninkryk van God in jou lewe. Selfs die wet beskryf sekere prioriteite: Die Here jou God vra net dat jy Hom moet eer, sy wil moet gehoorsaam, Hom moet liefhê en dien met hart en siel (Deuteronomium 10:12). Die profete plaas sosiale geregtigheid bokant godsdienstige rituele: Ek verwag liefde eerder as offer, toewyding aan My eerder as brandoffers (Hosea 6:6).

Jesus sê presies dieselfde: Julle gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar wat volgends die wet van God die swaarste weeg, laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid (Matteus 23:23). Hy konsentreer die hele wet in twee gebooie: liefde vir God en liefde vir jou naaste. Paulus het dieselfde siening: Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit (Romeine 13:8).

 

Paulus gaan selfs verder. Vir diegene wat glo dat om “Bybels te leef,” beteken om al die wette wat jy in die Bybel kan kry, uit te voer, sou hy gesê het: “Julle verstaan niks van die evangelie nie. Die Goeie Nuus is nie, ‘Hier is die reëls, kyk hoeveel jy kan onderhou’ nie”. Hy sou waarskynlik gesê het: “Hier is Jesus. Kyk wat God vir jou deur Hom gedoen het.”

 

Die goeie nuus is dat God wat die wêreld gemaak het en sy belofte om die wêreld te verlos, nagekom het. Hy het dit deur die dood en opstanding van Jesus Christus gedoen. Ons kan deel wees van daardie verhaal wat eindig met ‘n nuwe skepping waar Christus as koning regeer. Die goeie nuus verder is dat as ons in daardie verhaal gegaan het deur bekering en geloof, God sy Gees aan ons gee. Hoekom? Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, ons wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees (Romeine 8:4).

 

Daar is baie wat ons uit die Ou Testamentiese wette kan leer. Hulle kan steeds aan ons etiese en missionele denke en optrede rigting gee. Die tora was nog altyd veronderstel om dit te doen. Die hartklop van die Christelike lewe en vryheid is nie om reëls na te kom nie. Nee, dit is om te leef soos mense wie se hele lewe en karakter deur God se woord gevorm word – om meer soos Christus, wat ons vertrou en volg, te word en die vrug van die Gees te dra. Dit is om Bybels te leef.

 

image_pdfimage_print

You may also like...