Liefde: Wat is dit? (1)

image_pdfimage_print

The good news of Jesus Christ is intended to transform a person’s life –  Douglas Moo

Liefde: Wat is dit? (1)

Hierdie klink na ‘n dom vraag – ons weet tog almal wat liefde is. Op 15 September 2007 lewer Dallas Willard ‘n referaat by die American Association of Christian Counselors se konferensie. Sy onderwerp was: Getting Love Right. Dallas Willard was Professor aan die University of Southern California’s School of Philosophy. Hy was ‘n leraar in die Southern Baptist Church. Sy bekendste werke is In Search of Guidance en the Divine Conspiracy. Hy is onlangs oorlede. Met sy sterk filosofiese en sielkundige agtergrond het hy ‘n baie interessante aanslag op die  onderwerp.  Kom ons kyk na ‘n paar gedagtes uit hierdie referaat.

Almal soek en hoop vir liefde;  ons skryf liedere en gedigte daaroor; ons glo dit is ‘n belangrike deel van enige oplossing vir menslike probleme; ons glo dit kan betekenis aan ons menslike bestaan gee.

Dit geld vir mense in die algemeen, maar ook vir Christene. Min gemeentes is nie om Jesus se opdrag georiënteer nie: Julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê (Johannes 13:34).

Daarom is dit verbasend dat daar so min verband is tussen die leer van die kerk en liefde. Ons kry die indruk dat liefde min te doen het met ons leer en onderrig. In die praktyk word min gedoen om Christene te help om opregte, liefdevolle mense te word. Julle moet die liefde nastreef (1 Korintiërs 14:1) – ons sien dit nie in die praktyk nie. Die samelewing sien gedurig Christene wat onder mekaar baklei – nie mekaar liefhet nie. Selde kry ons gemeentes waarin liefdelose gesindhede nie voorkom nie.

Gaan ons na ons Bybelse bronne en na die lewe en getuienis van die “groot” Christene in die geskiedenis, sien ons ‘n ander prentjie. Almal sien liefde as ‘n lewensideaal. Die skrywers van die Nuwe Testament beklemtoon die sentrale plek van agape – liefde. Johannes word dikwels gesien as die apostel van liefde. Vir baie redes is dit toepaslik, maar dit is Paulus wat ons regtig help om die liefde waarvan Jesus en die Nuwe Testament praat, te verstaan.

Daar is baie verwarring oor liefde. Wat Paulus sê en doen kan ons baie help om agape reg te kry. Sir William Ramsey sê: In Paul, for the first time since Aristotle, Greek philosophy made a real step forward. Paulus was ‘n intellektuele en geestelike reus. Hy was net so intelligent en goed ingelig soos Sigmund Freud, B. F. Skinner en ander – wie ook al jou gunsteling sielkundige is. Paulus (en veral Jesus) gee deurdringende ontledings van die menslike wese en prosesse. Hulle is versigtige analitiese denkers.

Volgende keer kyk ons na van die stellings wat Paulus gemaak het.

image_pdfimage_print

You may also like...