Loop jou geloof

image_pdfimage_print

“The very love of God is fleshed out in our local churches.” D.A. Carson

Loop jou geloof

Julle moet net ‘n lewe waardig aan die evangelie van Christus lei (Filippense 1:27 – Direkte Vertaling in Interliniêre Bybel)

Hoe leef ons ‘n lewe wat waardig aan die evangelie is? Jy moet so loop dat die boodskap van die evangelie in jou beliggaam word. Die nie-Joodse gelowiges in Filippi het geweet dat as jy ‘n nuwe filosofie navolg dit ‘n veranderde lewe vereis. Daarom glo hulle dat ‘n gelowige se optrede uit sy nuwe lewe in Jesus Christus moet voortvloei.

 

Ongelukkig glo baie Christene vandag dat as ek die evangelie verkondig dit nie nodig is om binne sekere morele grense te loop nie – grense wat deur Jesus Christus daargestel is nie. Ons glo nie dat God sonde in ‘n ernstige lig sien nie. Dit is nie waar nie. Sonde is vir God so ernstig dat Hy sy enigste Seun na die aarde gestuur het om hier vir ons sondes te sterf. U het die reg lief en u haat die onreg (Psalm 45:8). Haat is ‘n baie sterk woord.

Die gelowige se fokus moet wees op hoe hy sout en lig vir die wêreld kan wees. Dit vereis ‘n lewe wat radikaal van dié van die nie-Christen verskil. Sout en lig werk vir verandering in die omgewing. Net so moet die Christen werk vir verandering is sy omgewing. Verlossing is soos ‘n huwelik: dit is nie een spesifieke dag wat belangrik is nie, maar ‘n hele lewe wat verander.

Om waardig aan die evangelie te lewe, beteken nie ‘n sondelose lewe nie. Dit beteken wel dat ek vorentoe moet gaan: Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles as het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is (Filippense 3:13).

Daar is egter ‘n voorwaarde: hulle moet in volkome eensgesindheid standvastig saamstry vir die geloof in die evangelie (1:27). Dit beteken nie dat almal dieselfde moet dink nie. Dit beteken wel dat almal een doelwit het en dat hulle hierdie doelwit met passie nastreef. Hierdie doelwit is die verkondiging van die evangelie en daarvoor is ‘n lewe wat die evangelie waardig is, nodig.

image_pdfimage_print

You may also like...