Lyding en swaarkry: Opsomming

image_pdfimage_print

If we are not supposed to know for certain whether God does everything in salvation, then … I ask you, what is useful to be known – Martin Luther.

 

Lyding en swaarkry: Opsomming

Tim Keller het pas ‘n belangrike boek – Walking with God through Pain and Suffering (2013) – geskryf waarin hy die vraag waarom daar pyn en lyding is die wêreld is, hanteer. Hierdie is sekerlik ‘n vraag wat almal van ons interesseer en waarop min van ons ‘n goeie antwoord kan gee. Ek glo dat in hierdie boek baie van ons vrae beantwoord sal word. Ek gaan dus ‘n hele aantal blogs hieroor skryf.

 

As ek die Bybelse teologie van lyding verstaan, sal ek nie verbaas wees as hartseer, pyn en verlies kom nie. Ek sal dan in staat wees om te reageer op die verskillende maniere waarvan die Skrif praat. Hier is tien riglyne:

  1. .Lyding is nie uniform nie. Daar is verskillende tipes lyding wat verskillend hanteer moet word. Die vier belangrikste groepe is:
  • Lyding as gevolg van verkeerde gedrag. My gevoelens is dié van skuld en skande.
  • Lyding as gevolg van aanvalle van ander mense. Ek is kwaad en in opstand.
  • ’n Meer universele lyding wat alle mense kan tref, maak nie saak hoe hulle leef nie – dood van ’n geliefde, siekte, finansiële terugslae, ens. My gevoelens is dié van hartseer en selfs vrees.
  • Lyding wat aaklig is – iemand stap by ‘n skool in en skiet ‘n klomp kinders dood. My reaksie is om kwaad te word … selfs vir God.

Elke vorm van lyding deel sekere algemene tekens en word basies op dieselfde manier hanteer, behalwe dat vir elke groep daar spesifieke hantering moet bykom.

 2.In my hantering van lyding, moet ek mense se temperamente onderskei. Ek moenie aanvaar dat die manier waarop God iemand deur die smeltkroes gelei het, in ‘n ander geval presies dieselfde sal wees nie. Mense reageer verskillend op lyding: sommige isoleer hulle; sommige keer in hulleself; sommige veroordeel; sommige word kwaad; ens. Die persoon se emosionele temperament en geestelike volwassenheid bepaal sy reaksie – hoe sterk sekere van hierdie reaksies deurkom. Die oorsaak van my beproewing bepaal ook my reaksie op lyding. Daarom moet ons aanpassings maak as ons lyding hanteer.

3.Ek moet eerlik met myself en God wees oor my pyn en hartseer. Ek moenie my swaarkry ontken nie; ek moenie te hard probeer om my gevoelens te beheer nie. Lees maar net die klaagpsalms en Job. God is baie geduldig met my as ek desperaat is. Ek kan maar my siel voor Hom uitstort.

4.Vertrou op God se wysheid en sy liefde. Hy is soewerein. God is deur die lyding waardeur ek nou gaan. Jesus het self gevra dat die beker by Hom verby moes gaan, voordat Hy gesê dat God se wil en nie syne nie, moet geskied. Ek moet stry totdat ek ook kan sê: Here nie my wil nie, maar u wil.

5.Bid. Job het gekla en selfs sy geboortedag vervloek, maar hy kla by God, hy stry met sy lyding voor God. As ek ly, moet ek my Bybel lees, bid, deel bly van die geloofsgemeenskap al is dit soms pynlik. Ek moet vra dat God my help om Hom lief te hê ten spyte van my swaarkry.

6.Ek moet in my denke gedissiplineerd wees. My perspektief moet bepaal word deur te onthou wat God alles in die verlede vir my gedoen het … en nog vir my gaan doen. Ek moet na my hart luister, maar ook met my hart praat en redeneer. Dit het natuurlik met my Christelike hoop te doen.

7.Ek moet selfondersoek doen. Dit beteken nie dat my lyding altyd die gevolg van my sonde is nie – soos Job se vriende geglo het. Job het in sy lyding gegroei. Ek moet elke keer as ek ly, vra hoe ek kan groei.

8.Herprioritiseer my liefdes. Lyding wys vir my dat daar dinge is wat ek te liefgekry het – liewer as vir God. Lyding vererger as ek goeie dinge in finale dinge verander. Lyding is positief as dit my leer om God liewer te hê as vantevore. Dit gebeur as ek God se lyding in Jesus Christus vir my as ‘n feit erken.

9.Ek moet my nie afsonder nie – ek moet deel van die geloofsgemeenskap bly. Ek moet vir my ’n gemeente kry waar hulle mense wat swaarkry liefhet en ondersteun. Afsondering sal net my lyding vererger,

10.Ek moet genade en vergifnis wat God aan my gee, aanvaar – en dieselfde aan ander doen. As lyding my sondes openbaar, moet ek leer om berou te hê, my te bekeer en om by God versoening te soek. Ek moet leer om te vergewe as ek ly as gevolg van ander mense se ongeregtighede.

 

 

image_pdfimage_print

You may also like...