Moet ons die Bybel so vinnig lees?

image_pdfimage_print

The church has persecuted only two kinds of people: those who do not believe in the teachings of Christ and those who do – Will Durant in The Story of Civilzation

 

Moet ons die Bybel so vinnig lees?

Ons het allerhande programme om die Bybel in een jaar deur te lees. Goed en wel, maar ons moet dit nie elke jaar doen nie. Om die Bybel in een jaar te lees is soos om die hele Europa in ‘n week te sien. Jy sien ‘n aantal dinge, maar jy ken nie Europa nie. Kom ons kyk na Handelinge 16.

 

Paulus is op sy tweede sendingreis. In Troas sien hy ‘n gesig – die Masedonies man wat hom smeek om oor te kom na Masedonië. In Filippi ontmoet hy vir Lidia en begin ‘n gemeente in haar huis. Hy en Silas word in die tronk gegooi omdat hy ‘n waarsêersgees uit ‘n slavin uitgedryf het. In die tronk vra die bewaarder vir hulle wat hy moet doen om gered te word. Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin antwoord hulle hom.

 

 

Ons weet hierdie dinge, want dit is die “hoogtepunte” van hierdie hoofstuk. Maar daar is baie meer aan hierdie hoofstuk.

  • Hoekom is Paulus en Silas in die tronk? (16:16 – 24)

Alles wat hulle gedoen het, was tog goed. Hulle seën mense; hulle help hulle om by Christus uit te kom; hulle genees dié wat seerkry. Toe hulle die gees uit die jong vrou wat deur haar eienaars uitgebuit is, uitdryf, kon die plaaslike mense dit nie meer vat nie. Hulle gaan verklaar hulle by die owerheid. Die “owerheid” bring hulle voor die stadsbestuur en sê: Hierdie mense is Jode wat moeilikheid maak in ons stad. Hulle wil vir ons gebruike leer wat ons as Romeine nie kan aanvaar of navolg nie. Intussen het ‘n skare bymekaar gekom. Die stadsbestuur besef dat die openbare mening sal toelaat dat hulle vir Paulus en Silas slaan. Daarna word hulle in die tronk gegooi. Die bewaarder kry ‘n opdrag om hulle streng te bewaak. Hy sluit hulle in die middelste sel op en klem hulle voete in ‘n houtblok vas.

 

  • Wat doen Paulus en Silas daardie nag? (16:25 – 34)

Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Kan tog nie wees nie. Meeste van ons sou gekla het: “God waar is U? Ons het maar net probeer om ons bes te doen en kyk waar sit ons. Hoekom laat U ons in die steek?” Maar nie hierdie twee nie. Soms sing ons, want ons het pyn: Ek is ‘n hulpelose mens, vol pyn, maar U, o God, sal my red en my beskerm. Dan sal ek die Naam van God besing, Hom met ‘n danklied prys (Psalm 69:30 – 31).

 

Die ander gevangenes het na hulle geluister. Hulle luister altyd om te sien hoe ons die pyn en swaarkry van die lewe hanteer. Die bewaarder luister ook. Die Here verlaat nie sy getroue werkers nie.  Daar kom ‘n aardbewing wat die tronkdeure laat oopgaan en die gevangenes se boeie gaan los. Die bewaarder word wakker en sien al die deure staan oop. Hy besef sy tronk is leeg. Hy wil homself met sy swaard om die lewe bring. Maar Paulus stel hom gerus – al die gevangenes is nog daar. Die bewaarder vra ‘n lig, storm Paulus en Silas se sel binne,  val bewend voor hulle neer en vra: Wat moet ek doen om gered te word? Paulus se antwoord is dieselfde antwoord wat ons vandag moet gee as hierdie vraag aan ons gevra word: Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.

 

Nou doen die bewaarder ‘n ongelooflike ding – hy neem hulle na sy huis toe. Hy maak sy mense wakker; hy was hulle wonde; hy berei ‘n ete vir hulle. Paulus en Silas vertel hulle van Jesus Christus en hulle word daar en dan gedoop. Toe gebeur ‘n snaakse ding: hulle gaan terug tronk toe.

 

  • Die volgende môre (16:35 – 40)

Die volgende oggend stuur die stadsbestuur polisie met die opdrag dat die gevangenes vrygelaat moet word. Die bewaarder sê vir Paulus en Silas:Julle kan nou gaan, en voorspoed op julle reis. Nie so vinnig nie. Paulus gee vir die polisie ‘n boodskap wat hulle aan die stadsbestuur moet oordra: Ons is sonder verhoor in die openbaar geslaan en in die tronk gestop, ons wat Romeinse burgers is. En nou wil hulle ons stilletjies hier wegkry. O nee! Laat hulle self kom en ons uitlei.

 

Toe die stadsbestuur hoor dat hulle Romeinse burgers was, word hulle paniekerig. Romeinse burgers het sekere regte gehad – onder andere om volgens die Romeinse wet hanteer te word. Hier is moeilikheid en die stadsbestuur weet dit. Hulle gaan self tronk toe en vra om verskoning. Hulle vra hulle om die stad te verlaat. Voordat hulle egter die stad verlaat gaan hulle eers na Lidia se huis, waar hulle die gelowiges gesien en bemoedig het.

 

Hierdie is ‘n wonderlike verhaal, maar net as ons daar vertoef en die verskillende tonele raaksien en waardeer. Geniet die Bybel – daar is niks beter nie.

 

 

 

image_pdfimage_print

You may also like...