NEHEMIA – VISIE (2)

image_pdfimage_print

This above all: to thine own self be true,

And it must follow, as the night the day,

Thou canst not then be false to any man.

William Shakespeare (1564-1616)

 

Nehemia – Visie (2)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Kenmerke van ‘n visie

  • ‘n Visie moet diep gevoel word. Hoe meer die leier in die visie glo, hoe maklik kan hy ander opgewonde maak oor die visie. As hy nie bereid is om opofferinge te maak nie, kan hy nie verwag ander moet dit doen nie. Nehemia sien die desperate toestand van sy mense; sy siel word aangeraak; hy stel ‘n plan op om hulle te help.
  • ‘n Visie moet gedeel word. ‘n Visie wat nie gedeel word nie, is ‘n droom. As ‘n leier die visie doeltreffend kan kommunikeer, word dit ‘n sterk motiveringskrag. ‘n Visie teen die muur is van geen waarde nie. ‘n Visie moet mense inspireer om iets te doen.
  • ‘n Visie inspireer. ‘n Visie moet emosies in die hoorder wakker maak en entoesiasme, geloof en toewyding aanwakker. Die krag van die visie is selfs meer as die leier ander kan oortuig van die waarde van die visie vir hulle. Jy moet jou volgelinge herinner aan die eindvoordele van wat hulle doen.
  • ‘n Visie moet verenig. ‘n Visie genereer lojaliteit en eenheid deur die wedersydse betrokkenheid van die mense wat dit hoor. Saam kan hulle slaag en die visie verwesenlik.
  • ‘n Visie moet gereeld herhaal word. Die visie is permanent in die leier se brein ingegraveer. Omdat die mense nie eienaarskap tot dieselfde mate as die leier vir die visie het nie, moet dit gereeld herhaal word – mense moet gereeld aan die visie herinner word.

 

Nehemia se visie was meer as die muur se voltooiing. Dit sluit ook die mense in. Toe die muur klaar was, baklei Nehemia vir hulle welstand en hulle erfenis. Nehemia se eerste doelwit is bereik (Hoofstuk 1 – 6). Nou kom Fase 2.

  • Nehemia kon sy visie aan ander kommunikeer. ‘n Leier sonder visie is soos ‘n boot sonder ‘n roer – rigtingloos. ‘n Leier wat nie sy visie kommunikeer nie, het nie volgelinge nie. Nehemia skilder vir hulle ‘n beeld van die voltooide muur – beskerming en hoop vir ‘n beter toekoms. Ons onthou hoe hy sy visie gekommunikeer het (2:17 – 18). Dat hy geslaag het om die visie suksesvol te kommunikeer, sien ons uit die volk se reaksie: “Kom ons bou!” en hulle het die goeie werk aangepak (2:18).
  • Hy is buigsaam. Tydens Fase 1 het Nehemia die projek beplan, sy mense gemotiveer en dit onderhou selfs toe die werkers moedeloos geword het. In Fase 2 versterk, delegeer, bestuur en kyk hy na die toekoms;
  1. oHy versterk: Toe die muur voltooi is, het ek die deure gehang, en poortwagte, sangers en Leviete aangestel (7:1) Daar was nog werk om te doen.
  2. oNehemia delegeer. Ander moet die las van leierskap help dra.soek helpers wat verantwoordelikheid vir verskeie take kan aanvaar. Hy het betroubare helpers wat met integriteit kon lei nodig gehad. Ek het Ganani, my ampsgenoot, en Gananja, die bevelhebber van die vesting in bevel van Jerusalem geplaas (7:2)
  3. oNehemia bestuur. Hy sê vir sy twee leiers: Moenie die poorte van Jerusalem oopmaak voor die son warm is nie en maak die deure weer toe en grendel hulle terwyl die poortwagte nog op hulle pos is. Stel ook wagte aan uit die inwoners van Jerusalem, party op die wagposte en party voor hulle huise (7:3)
  4. oNehemia beplan. Hy konsolideer die huidige, maar hy beplan ook vir die toekoms. Die stad was uitgestrek en groot, met min mense daarin, en daar was nog nie genoeg huise gebou nie. (7:4) Nehemia se mandaat vir die toekoms kom van God af: My God het my die besluit laat neem om die vooraanstaande burgers, die amptenare en die ander mense te laat bymekaarkom vir opname in die familieregister (5:5) As die stad weer prominent in die streek wil word, moet hy ‘n lewenskragtige aktiewe bevolking hê. Eerstens moet kandidate vir terugkeer na die stad geïdentifiseer word. Hy neem ‘n sensus en registreer die mense. Terwyl hy nog besig was kom daar ‘n geestelike ontwaking (Nehemia 8 – 10). Dit was ‘n goeie ding, want God berei die harte van sy mense voor vir ‘n moeilike taak – mense wat na die stad terugtrek (Nehemia 11).

 

Elke sterk leier het ‘n passie vir iets. Wat is jou passie? Wat dryf jou? Wat hou jou aan die gang as dinge moeilik word? Hoe verander jy ‘n visie in ‘n werklikheid?

Stap #1: Plaas jou visie op skrif. Let op die mense wat beïnvloed en bevoordeel sal word. In gebed moet jy seker maak dat dit God se wil is.

Stap #2: Dink oor die toekoms. Wat sal gebeur as jou idees ‘n werklikheid word?

Stap #3: Stel doelwitte wat hierdie ideale toekoms weerspieël. Meetbare doelwitte is ‘n voorvereiste vir sukses.

Stap #4: Kry die ondersteuning van ander. Begin by God – maak seker dat alles wat jy doen binne sy wil val. Vra ander vir raad; soek hulp soos jy jou strategie ontwikkel; bid saam met hulle. Wag vir God se opdrag om voort te gaan.

Stap #5: Hou aan vorentoe beweeg. Natuurlik sal daar hindernisse en teenstand kom, maar hou aan.

 

Volgende keer kyk ons na die twaalfde kenmerk van ‘n leier – vernuwing.

 

image_pdfimage_print

You may also like...