Geloof waag

image_pdfimage_print

 

Everyone wants a revolution. No one wants tot do the dishes – kennisgewing in klooster.

 

Geloof waag

[In my persoonlike Bybelstudie is ek besig met Die Brief van Jakobus. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in James – Christ Centered Exposition” gebruik. In hierdie gedeelte maak ek van die direkte vertaling in die Interliniêre Bybel gebruik – CUM]

 

In Jakobus 2:25 – 26 kry ons ‘n voorbeeld van geloof en die ontvanger van “skandalige” genade – Ragab, die prostituut. Wat leer ons van Ragab?

  • Sy was die ontvanger van “skandalige” genade
  • Sy het die soewereine God gevrees en aanbid
  • Sy waag alles om sy heerlikheid te versprei.

In Jakobus 2:21 – 23 het ons gekyk na Abraham as voorbeeld van opregte geloof wat tot werke oorgaan. Nou sê Jakobus: En is Ragab, die prostituut, nie ook soortgelyk uit werke geregverdig … nie? Jakobus kom nie hier met ‘n nuwe waarheid na vore nie – hy gee net vir ons ‘n nuwe voorbeeld.

 

Ons is almal met die verhaal van Abraham bekend, maar nie noodwendig met dié van Ragab nie. Ons lees haar storie in Josua 2. God se volk maak hulle klaar om die beloofde land te verower. Die eerste groot stad wat hulle teëkom was Jerigo. Josua besluit om verkenners na Jerigo te stuur. In Jerigo beland hulle in die huis van Ragab, die prostituut. Die koning van Jerigo het verneem dat daar verkenners in sy stad is en soek hulle. Ragab steek hulle weg en stuur die koning se manne op ‘n dwaalspoor. Sy sê vir die verkenners: Niemand het nog moed teen julle nie, want julle God, die Here, is God, bo in die hemel en onder op die aarde. Daarna laat sy hulle met ‘n tou deur die venster afsak en hulle ontsnap.

 

Ragab het die verkenners beskerm – as hulle gevind was, sou hulle beslis doodgemaak word. Toe Josua en sy manne Jerigo ingeneem het (Josua 6) word Ragab en haar huishouding gespaar. Hoekom praat Jakobus van hierdie prostituut in die Nuwe Testament. Daar is drie redes daarvoor:

  1. Sy was die ontvanger van “skandalige genade

Dink aan die teenstelling tussen Abraham en Ragab, Abraham was die patriarg van die Joodse volk, ‘n vriend van God en ‘n groot leier; Ragab was ‘n prostituut in ‘n heidense nasie. Tog is sy ook geregverdig. Dit herinner aan die Moabitiese vrou, Rut, in Jesus se geslagsregister. Volgens Matteus 1:5 was Ragab Rut se skoonmoeder. Dit is genade wat skok, want dit reik na die onwaarskynlikste lewens en stort genade uit.

 

Almal van ons is eintlik ontvangers van “skandalige” genade. God maak ons deel van sy familie ten spyte van al ons sondes. Hoe is dit moontlik? Deur Jesus Christus se kruisdood.

2. Sy vrees en aanbid die soewereine God

Onthou Ragab se woorde aan die verkenners: Niemand het nog moed teen julle nie, want julle God, die Here, is God, bo in die hemel en onder op die aarde (Josua 2:11). Ragab het nie baie inligting gehad nie; alles was net hoorsê – stories wat sy gehoor het van God se mense wat deur die Rooisee geloop het en deur God verlos is van vreemde leërmagte. Die bietjie wat sy gehoor het, het sy geglo. Sy weet God is God in die hemel en op die aarde; sy weet dat Hy soewerein oor alles is; sy besef dat sy teenoor Hom aanspreeklik was. Sy is gehoorsaam, want sy glo in God. As ons in God glo, is ons bereid om alles te waag.

3. Sy waag alles vir die verspreiding van God se heerlikheid

As die koning van Jerigo sou agterkom dat die Israelse verkenners in Ragab se huis was, sou sy en haar familike onmiddellik tereggestel word. Haar lewe hang aan ‘n draadjie. Daarom verskyn haar naam ook in die gallery van geloofshelde (Hebreërs 11:31). Is sy ‘n held omdat sy die rituele nagekom het of weens haar godsdienstige aktiwiteite? Nee, sy is ‘n geloofsheld, want sy het haar lewe gewaag en alles op die spel geplaas vir die Here. Sy vertrou Hom; sy waag alles; sy gaan direk teen die kultuur om haar in. Sy waag alles sodat God se volk Jerigo kon inneem en God so verheerlik word. En Jakobus sê dat sy geregverdig is vir dit wat sy gedoen het.

 

Is ons gewillig om te waag in gehoorsaamheid aan God se woord omdat ons die soewereine God, wat ons met sy “skandalige” genade verlos het, eer en aanbid? Is ons gewillig om teen die grein van die kultuur om ons in te gaan? Is ons bereid om te waag om God se Naam te verheerlik?

 

image_pdfimage_print