Die tydperk van die konings

image_pdfimage_print

 

The truly wise man is he who always believes the Bible against the opinion of any man. —R.A. Torrey

 

Die tydperk van die konings

Ons gaan voort met ons bespreking van Mel Lawrenz se How to Understand the Bible.

 

As ons die Ou Testament die eerste keer lees, vang die verhale van Dawid en Salomo ons vas. Daarna begin ‘n lang treurige storie van ontrent veertig konings. Meeste van hulle kan ons as boos beskryf. In ieder geval is dit nie juis leesstof om ons te bemoedig nie. Maar ingebed is die verhaal van God wat ons moet verstaan. Hierdie is ‘n tydperk van vyf eeue waarin ons van die hoogtepunte en laagtepunte van die konings van Juda en Israel en die volk lees. Daar is baie lesse oor sonde, integriteit en vernietiging.

 

Die tyd begin toe die mense sê dat dit nie voldoende was dat God hulle koning is nie. Hulle wil, soos die ander nasies om hulle, ‘n man hê om hulle te regeer. Dit begin by Saul – ongeveer ‘n duisend jaar voor Christus –  en eindig met die vernietiging va Juda en die ballingskap in 586 vC.

 

Voordat daar ‘n koning was, het die verskillende stamme versprei in klein nedersettings gebly. Rigters soos Gideon, Debora en Jefta voorsien ‘n mate van leierskap. Dan volg die tydperk van die konings soos vertel in 1 en 2 Samuel, 1 en 2 Konings en 1 en 2 Kronieke. Die eerste drie konings – Saul, Dawid en Salomo – se koningskap strek oor meer as ‘n honderd jaar. Na Saul volg die sogenaamde goue tydperk waartydens Dawid en Salomo heers. Die koninkryk se grondgebied brei uit; ‘n tyd van verde en voorspoed volg; Jerusalem word as die hoofstad en godsdienstige sentrum gevestig. Salomo bou die tempel wat die status van Jerusalem verder verhoog.

 

Na Salomo volg daar ‘n burgeroorlog en Israel word in ‘n Noordryk – Israel – met tien stamme en ‘n Suidryk – Juda – met twee stamme verdeel. Die koningskap word meestal in negatiewe woorde beskryf. Amper eentonig lees ons: slegte konings, goeie konings wat slegte konings word en ‘n paar goeie konings wat hulle integriteit behou. Ons leer ook van die geestelike dinamika agter hierdie bewegings. Die konings wat nie reg gedoen het in die oë van God nie het dikwels vreemde gode aanbid. Hulle het selfs mense geoffer. Hele geslagte oortree die tien gebooie. Hulle vergeet hulle erfenis en hulle God – hulle het nie eers geweet waar die Skrif wat hulle as volk geïdentifiseer het, was nie.

 

Die verhale van herlewing en hervorming onder konings soos Hiskia en Josia is soos son wat deur die donker wolke breek. So lees ons van Josia: Daar was nie voor hom nog ‘n koning soos hy wat hom tot die Here bekeer het met sy hele hart en siel en met al sy kragte in ooreenstemming met die hele wet van Moses nie. en na hom was daar ook nie so ‘n koning soos hy nie (2 Konings 23:25).

 

Hier het ons ‘n duidelike bewys van die krag van die woord van God: Josia se herlewing begin nadat sy amptenare die wetboek van die verbondsluiting ontdek het terwyl hulle besig was om, volgens Josia se opdragte, die tempel van die Here te herstel. Dit was die keerpunt. Die wetboek stel die mens vry van julle langstaande geestelike verlamming.

 

Hoe moet ons hierdie tydperk verstaan? Ons moet die boeke as geskiedenis lees, maar nie net geskiedenis nie. Die boeke beskryf geestelike beweging – op en af. Die profete sluit hierby aan. Hulle intepreteer hoe God se mense so laag kan sink, maar ook waar daar herstel was.

 

Hierdie is die verhale van werklike mense op werklike plekke. Geskiedenis vertel vir ons wat in die verlede gebeur het sodat ons kan verstaan wat besig is om in ons wêreld te gebeur, want die menslike natuur verander nie.

 

 

image_pdfimage_print