Ontmoetings met Jesus: Inleiding

image_pdfimage_print

There are no crown-wearers in heaven who were not cross-bearers here below. —C.H. Spurgeon

Ontmoetings met Jesus: Inleiding

In die Evangelie volgens Johannes lees ons van ontmoetings wat individue met Jesus gehad het. In van hierdie ontmoetings hanteer Jesus van die belangrikste lewensvrae: Hoekom is die wêreld hier? Wat is verkeerd met die wêreld? Ens. Ons gaan na ‘n paar van hierdie ontmoetings kyk.

Die ou Griekse filosowe het in die morele en rasionele orde van die heelal geglo Hierdie orde van die natuur noem hulle die logos.  Vir die Griek was die doel van die lewe om oor hierdie logos na te dink en dit in die lewe raak te sien.

 

Johannes leen doelbewus hierdie Griekse filosofiese woord. In die proloog tot die Johannes-evangelie lees ons van die Woord. Woord is die vertaling van die Griekse logos. In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense … Die Woord het mens geword, en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid (Johannes 1:1 – 4 en 14).

Johannes bevestig dat daar ‘n doel in die lewe is – iets waarvoor ons gemaak is. Hy gaan egter voort en sê dat die betekenis van die lewe nie een of ander beginsel is nie, maar ‘n Persoon. Die goeie lewe kry ons nie primêr in filosofiese nadenke of in ‘n intellektuele oefening nie, maar in Jesus Christus. Hierdie Jesus Christus kan ons vind en ‘n verhouding met Hom aanknoop.  Hy is beskikbaar vir alle mense, maak nie saak wat hulle agtergrond is nie, te alle tye en op enige plek.

Alles goed en wel, maar dit is darem ‘n bietjie te filosofies. Hoe werk dit in die praktyk? In die evangelie werk Johannes dit verder uit. Hy doen dit deur sekere ontmoetings wat Jesus met individue gehad het te gebruik as praktiese voorbeelde. In die volgende blogs gaan ons na hierdie ontmoetings van Jesus kyk as ook na die lewensvraag wat elkeen van hulle beantwoord:

  • Waar moet ons na antwoorde op die groot lewensvrae soek? Natanael
  • Wat is verkeerd met die wêreld soos hy vandag is? Nikodemus en die Samaritaanse vrou.
  • Wie of wat kan die wêreld weer herstel? Die twee hartseer susters – Marta en Maria
  • Hoe kan dinge in die wêreld weer reggestel word?  Die bruilofsfees by Kana
  • Hoe moet ons reageer op dit wat Jesus gedoen het om die wêreld weer reg te stel? Maria Magdalena.

Die eerste ontmoeting waarna ons gaan kyk, is Jesus se ontmoeting met Natanael.

[Ek maak baie gebruik van Tim Keller se: Encounters with Jesus: Unexpected answers to life’s biggest questions]

image_pdfimage_print