Openbaring 22:18 – 19

image_pdfimage_print

Openbaring 22:18 – 19 – Francois Malan

Pieter vra:

Kan u my asb meer duidelikheid en uiteensetting gee oor die boek Openbaring 22:18-19. Baie dankie.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Openbaring 22:18-19 is ‘n eedformule (‘ek betuig’) wat die betroubaarheid bevestig van die woorde van hierdie profetiese boek. Vergelyk bv. Spreuke 22:18 ‘Elke belofte van God is betroubaar; Hy beskerm dié wat by Hom skuil. Moet niks byvoeg by wat Hy gesê het nie; Hy sal jou bestraf, en jy sal daar staan as ‘n leuenaar.’ So is hierdie verse in Openbaring ook ‘n waarskuwing teen vervalsing van die boodskap van die boek.

Die doel van hierdie eedformule – dat niemand iets mag byvoeg of weglaat nie – is om die gesag van die inhoud van die profesie te bevestig en te beskerm. Dit sou vals profete en leraars ook verhinder om aan die boodskap te torring. ‘n Profesie vertel van God se plan met die wêreld en die mense, en wat sy wil is wat hulle moet doen – wat vir hulle die beste pad is.

Dit was ‘n algemene gebruik om ‘n vloek uit te spreek aan die einde van ‘n publikasie om enige verdraaiing of vervalsing te voorkom, omdat dit so algemeen voorgekom het. Dit het ook vir die wet van God gegeld. Deuteronomium 4:2 sê: ‘Moenie iets byvoeg by wat ek julle beveel nie en  moet ook nie iets daarvan wegvat nie, maar gehoorsaam die Here julle God se gebooie wat ek julle gegee het.’ Spreuke 30:5,6 sê: ‘Elke belofte van God is betroubaar; Hy beskerm dié wat by Hom skuil. Moet niks byvoeg by wat Hy gesê het nie; Hy sal jou bestraf, en jy sal daar staan as ‘n leuenaar.’ Galasiërs 1:6-9 praat van die vloek van God wat iemand sal tref wat die evangelie van Christus probeer verdraai. En 1 Korintiërs 16:22 sê: ‘As iemand die Here nie liefhet nie – vervloek is hy!’

Die boek Openbaring is aanvanklik gerig aan Christene in Klein-Asië (die huidige Turkye) aan die einde van die eerste eeu na Christus, om hulle te bemoedig in hulle swaarkry en krisissituasie. Die gelowiges wat geweier het om openlik te bely dat die keiser van Rome die Here is, is vervolg en doodgemaak. Sommige gelowiges het as gevolg daarvan hulle geloof dat Jesus die Here is, afgesweer. Hulle word deur hierdie verse gewaarsku teen die groter gevaar dat die Here hulle sal verwerp as hulle Hom verwerp (vgl. Matteus 10:28,33).

Openbaring bemoedig egter alle gelowiges om moed te hou en te leef wat jy glo. God is in beheer van die wêreld en die geskiedenis waarvan ons ook nou deel is.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...