Hoe hanteer ek lyding? (1)
Those who give much without sacrifice are reckoned as having given little. —Erwin Lutzer
Hoe hanteer ek lyding? (1)
Lyding is sekerlik een van die ernstigste probleme waarmee ‘n Christen gekonfronteer word. Hoe kan ‘n liefdevolle God lyding toelaat? Ek gaan ‘n hele aantal blogs hieraan wy. In die proses gaan ek onder andere van Tullian Tchividjian (Billy Graham se kleinseun) se boek Glorious Ruin (2012) gebruik maak.
Lyding is universeel. Daar is min waarborge in die lewe, maar almal ondervind pyn – nie of nie, maar wanneer. Dit kan ‘n skielike katastrofe wees of iets meer alledaags soos ‘n verhouding wat skeef geloop het en voortduur as ‘n dowwe pyn. Daar is fisiese en emosionele oorsake vir lyding. Soms is die oorsaak duidelik, soms is dit verborge. Vir sommige mense is pyn so ‘n deel van hulle lewe dat hulle dit nie meer voel nie. Ander voel dit akuut aan en probeer alles in hulle vermoë om dit te verlig.