Die Groot Geloofswoordeboek: Sondag; Sabbat

image_pdfimage_print

Die Groot Geloofswoordeboek: Sondag; Sabbat

Sondag Eerste dag van die week Sabbat

‘n Misverstand

Die bekende misverstand is dat die Sabbat van die Ou Testament oorgegaan het na die Sondag van die Nuwe Testament. Alles sou net dieselfde gebly het, al die bepalings oor die Sabbat wat ons in die Ou Testament kry, sou nog van krag wees, maar dit sou alles net oorgeskuif het na die eerste dag van die week, Sondag.

Vir eeue lank het baie Christene nog probeer om die Sabbats­wette van die Ou Testament op Sondag te onderhou. Hulle het Saterdag kos gemaak wat Sondag geëet is, hulle het nie op Son­dag gekoop nie, nie (onnodig) gery nie, geen sport beoefen of koerante gelees nie, nie geswem as hulle by die see vakansie hou nie, en nog duisend ander dinge.

Dit het hulle taamlik weerloos gemaak teen die Sabbatariërs, die Sewendedagadventiste, wat gevra het waar hulle dié ver­andering in die Nuwe Testament gekry het. Volgens hierdie Ad­ventiste het hierdie Christene presies reg opgetree, maar hulle moes net terug­gegaan het na die regte dag, Saterdag. Die sewende dag is die Sabbat.

Terloops, dit word vandag al moeiliker om nog te besef dat Son­dag die eerste dag is omdat dit al hoe meer as die laaste dag van die week op kalenders gedruk word, natuurlik om die twee dae van die naweek, Saterdag en Sondag, bymekaar te kry.

In die Nuwe Testament is daar nie ‘n aanduiding dat die dag moet verskuif sodat ons die Sabbat op ‘n ander dag as die se­wende dag moet hou nie. Wat wel gebeur, is dat die Sabbat en die Sabbatsgebod heeltemal verdwyn uit die lewe van die vroeë Christene.

Voor die opstanding van Jesus is die onderhouding van die Sab­bat nog in volle swang, in sy eie lewe én in dié van sy vol­ge­linge. Sy verskille met die godsdienstige leiers gaan nie oor die feit van die Sabbat nie, maar oor die wyse waarop dit onderhou moet word. Maar ná sy opstanding verander die situasie drasties sodat daar nooit weer ‘n verwysing is na die onderhouding van die Sabbat deur Christene of na die gebod om dit te doen nie.

 

Die vierde gebod verdwyn

Dis interessant om dit na te gaan in die briewe van Paulus. Ter­wyl hy dikwels na die Tien Gebooie verwys, kom die vierde gebod, die een oor die Sabbat, eenvoudig nooit voor nie. Teen die einde van
sy briewe volg gewoonlik ‘n lang lys vermanings wat juis op die Tien Gebooie gebaseer is. ‘n Goeie voorbeeld is Efe­siërs 4-5. Agtereenvolgens is daar vermanings gebaseer op die volgende gebooie:

•             Die negende: 4:25

•             Die agste: 4:28

•             Die derde: 4:29 (Gereformeerde Christene deel alle vloektaal onder hierdie gebod in)

•             Die sesde: 4:31

•             Die sewende: 5:3, 5

•             Die eerste: 5:3, 5

 

Daar is meer sulke voorbeelde. Maar die opvallende feit is dat die vierde gebod nooit in een van hierdie lyste, of in enige ander verband ná die opstanding van Jesus in die Nuwe Testament voorkom nie. Wat dit nog meer opvallend maak, is die feit dat dit vir die slawe-Christene in Paulus se sendinggemeentes ‘n groot probleem sou gewees het om nie op die Sabbat te werk nie omdat hulle heidense eienaars geen waarde aan dié dag geheg het nie. Dink maar net aan die gemeente in Korinte waar die meeste lidmate slawe was (1 Kor 1:26-28; 11:20-21). Dit is ondenkbaar dat hulle nie gewetensprobleme sou ontwikkel het as hulle nog die Sabbatswette moes hou en daarom op die Sabbat geen werk doen nie terwyl hul eienaars dit as ‘n gewone werksdag beskou het. Die vraag word nog dringender as ons onthou dat die kwessie of heidene nog die wet moes onderhou ‘n sentrale probleem was waaroor die eerste kerkvergadering in Jerusalem ‘n besluit moes neem. Maar ook hier word nie eens na die Sabbat verwys nie (Hand 15).

‘n Mens kan moeilik tot ‘n ander gevolgtrekking kom as dat die onderhouding van die Sabbat in die Nuwe Testament ‘n sagte dood gesterf het onder die heiden-Christene.

 

Wat doen Paulus op die Sabbat?

Natuurlik aanvaar die Sabbatariërs dit nie. Hulle wys met na­druk op die feit dat Paulus oor en oor juis op die Sabbat “kerk­hou” in Handelinge. En op sigself is dit heeltemal korrek. In omtrent elke stad wat hy besoek het, het hy op die Sabbat na die sinagoge gegaan (13:14, 42; 16:13; 17:1-2; 18:4). Maar die vraag is: Om wat te doen?

Onthou dat Paulus op sendingreise was. Onthou verder dat sy beleid was: “In die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood” (Rom 1:16). Paulus begin dus in elke stad by die Jode. Daarom gaan hy op die Sabbat sinagoge toe om die Jode te oortuig dat Jesus die Messias is. Hy preek nie vir hulle soos ons “preek” verstaan nie. Hy het “uit die Skrif met die Jode geredeneer en daaruit aangetoon dat die Christus moes ly, en uit die dood moes opstaan. ‘Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig,’ het hy gesê, ‘Hy is die Christus (Messias)'” (Hand 17:2-3).

Paulus gaan op die Sabbat sinagoge toe omdat hy elke keer by die Jode begin en hulle net op die Sabbat in die sinagoge sou kry, nie omdat hy self juis op die Sabbat daar wou gaan aanbid nie. Daarom is daar in Handelinge geen melding van Christene wat op die Sabbat bymekaarkom nie. Die enigste verwysing na ‘n spe­sifieke dag is Handelinge 20:7 waar “Sondag” die vertaling is van die Grieks “die eerste dag van die week”. Die Christene het Sondag bymekaargekom.

Dit lyk dus of die Sabbat uit die lewe van die heiden-Christene verdwyn het, al kan ‘n mens aanneem dat die Joodse Christene aan­vanklik nog daarmee voortgegaan het, net soos met die be­snydenis (Hand 21:20-21). Ons weet ook uit ander bronne dat se­ke­re gemeentes nog vir ‘n paar eeue lank sowel die Sabbat (op Saterdag) as die Sondag onderhou het. Dit kan beteken dat hulle deeglik daarvan bewus was dat dit twee verskillende dae was. Dit is inderdaad ook volkome sinvol om iewers in die week werklik ‘n breek te maak. Baie Christene doen dit nog altyd op Sondag. Om een dag uit sewe te rus, was nie net in die ou tyd belangrik nie.

 

Hebreërs 4

Die enigste positiewe verwysing na die Sabbat is in Hebreërs 4:9-11. Hier het dit egter heeltemal ‘n ander betekenis as in die Ou Testament. Dit gaan om die intog in Kanaän. Die gedagte is dat die intog in die beloofde land vir Israel rus moes gebring het, maar: “As Josua hulle in die rus laat ingaan het, sou God nie daarná nog van ‘n ander dag gepraat het nie. Daar wag dus nog steeds ‘n sabbatsrus vir die volk van God, want elkeen wat in die rus van God ingaan, rus van sy werk, net soos God van Syne. Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan” (8-11).

Dis nie so maklik om presies te verstaan wat hier bedoel word nie, maar skynbaar kry die Sabbatsrus hier ‘n soort geestelike be­tekenis wat nie met ‘n bepaalde dag verband hou nie, maar met ‘n lewenstyl van “rus van jou werke soos God van Syne”. God rus ook nie net op ‘n bepaalde dag nie. Die tema van rus is al van 3:18 af onder bespreking, en daar word dit direk met die ge­loof verbind: “Ons wat glo, gaan wel die rus in” (4:3). Dit lyk dus of Sabbatsrus hier met ons lewe in die geloof te doen het, glad nie meer met ‘n bepaalde dag nie.

 

Oorsprong van ons Sondagviering

Waar kom die Christene se Sondagviering dan vandaan? Dit is belangrik om van die begin af te onthou watter woorde hier gebruik word. Net in die vorige paragrafie is nog deurgaans van “rus” gepraat. En nou skielik by Sondag praat ons van “viering”. Dit is ‘n beslissende verskil wat nou na vore gaan kom.

Jesus het op die eerste dag van die week, Sondag, opgestaan. Daardie aand en weer die eerste Sondag daarna was die dissi­pels bymekaar (Joh 20:19, 26). Die Gees word ook op ‘n Sondag uit­gestort en daarna word Sondag (die eerste dag van die week) tel­kens ge­noem in verband met sekere dinge wat Christene doen terwyl geen an­der spesifieke dag ooit genoem word nie. Die Christene vergader op Sondag, hulle moet geld opsy sit op Son­dag om arm Christene te help, Johannes is op Sondag “deur die Gees meegevoer” (Hand 20:7; 1 Kor 16:2 – wat volgens v 1 nie net vir Korinte gegeld het nie, maar vir al Paulus se gemeentes – Op 1:10). Dis opvallend dat Sondag in die laaste geval “die dag van die Here” genoem word. Hulle het hier­die dag dus op ‘n besondere manier aan die Here verbind.

Waarom? Omdat die Here op Sondag opgestaan het. Daar kan geen ander rede wees waarom hulle skielik op Sondae byme­kaar­kom nie en hierdie dag juis die Here se dag noem nie. Dik­wels word gevra waarom nie Vrydag, die dag van die kruisiging, nie. Maar in die bespreking van die *opstanding van Jesus word dit duidelik dat die evangelie as opstandingsevangelie begin het en dat die heilsbetekenis van die kruis eers baie later na vore gekom het. Ons weet ook dat dit juis die opstanding is wat bevestig het dat God die offer van Jesus aangeneem het. Sondag, die op­stan­dingsdag, was die groot verlossingsdag.

En juis daarom het die Christene dié dag gevier en nie gerus nie. Sondag is ‘n dag met heeltemal ‘n ander karakter as die Sabbat. Die Sabbat was ‘n rusdag, Sondag is ‘n feesdag. As jy feesvier, rus jy nie, jy juig.

Dit beteken dat dit onvanpas is om die Sabbatswette van rus op die feesdag toe te pas. Die feesdag het sy eie karakter: ‘n dag van feesvreugde omdat Jesus opgestaan het en ons verlos het.

Dit bring die vraag na dinge soos Sondagsport op heelte­mal ‘n ander vlak. Sondagsport of watter ander aktiwiteit ook al op Son­dag kan nie beoordeel word in die lig van die Sabbatsgebod nie, want Sondag is nie ‘n Sabbat nie. Die vraag is wat is in oor­eenstemming met ons feesvierings as Christene. Sondag is ‘n spesiale dag, en ons gebruik dit om saam met ander Christene die fees van ons verlossing te vier. En daar is meer maniere om dit te doen as net ‘n kerkdiens.

Daar word soms verwys na die naam “Sondag”: die dag van die son. Daar is ook Maandag, die dag van die maan, en Dinsdag, wat weer aan ‘n ander god gewy is. Maar dit het te doen met waar die dae hulle name onder nie-Christene gekry het, nie met wat Christene op dié dae doen nie. Ons wy nie meer Sondag aan die son en Maandag aan die maan nie.

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...