Paulus en sy briewe

image_pdfimage_print

 

If you understand it, it isn’t God – Augustinus

 

Paulus en sy briewe

Hierdie is ‘n voortsetting van ons bespreking van Mel Lawrenz se reeks: How to Understand the Bible.

Naas Jesus was daar nie ‘n invloedryker persoon in die vroeë Christendom as Paulus nie. Van die 27 boeke in die Nuwe Testament word 13 aan hom toegeskryf. Kyk net na ‘n kaart van sy sendingreise en jy sal verbaas staan oor die gebied wat hy gedek het. Maar ons moenie net geografies dink nie, maar ook kultureel.

 

Hy was ‘n Jood uit die stam van Benjamin. Hy word ‘n toegewyde Fariseër. Hy kom uit die stad Tarsus en word groot midde in die Grieks-Romeinse kultuur. Hy was ‘n Romeinse burger. Hierdie agtergrond beteken dat hy in staat was om die evangelie in stede te verkondig. Hy was gemaklik in Jerusalem en het geen probleem gehad om na plekke soos Kreta, Griekeland en Rome te beweeg nie. Sy aanpasbaarheid was ongelooflik. Hy praat met goewerneurs, magistrate, filosowe en handelaars.

 

Sy sterk sienings oor geloof in Jesus Christus kan teruggevoer word na sy bekering. In die Nuwe Testament is daar nie ‘n radikaler storie van persoonlike verandering as juis sy storie nie. Sy mede-Fariseërs het hom aangewys om die vroeë volgelinge van Jesus te ondersoek en te vervolg. Hy was teenwoordig toe die eerste Christen-martelaar, Stefanus, gestenig is. Op pad na Damaskus om meer van Christus se volgelinge te vervolg, ontmoet hy die opgestane Jesus. Hierdie ontmoeting verander sy hart en denke.

 

Dit was nie maklik vir die ander apostels om hierdie vervolger in hulle midde te verwelkom nie. Hulle het hom ook moeilik as leermeester aanvaar. Met verloop van tyd begin hy, saam met ‘n paar metgeselle, sy eerste groot reis.

 

Daar is ‘n groot verskeidenheid in Paulus se briewe. Vier skryf hy uit die tronk – Efesiërs, Filippense, Kolossense en Filemon. Terwyl hy aan die Filippense skryf glo hy dat sy teregstelling naby was. Filemon is aan ‘n persoon geskryf oor ‘n slaaf wat weggehardloop het. Efesiërs is waarskynlik aan ‘n hele aantal gemeentes geskryf.

 

Drie van die briewe staan bekend  as die pastorale briewe, want hulle bevat opdragte aan Paulus se medewerkers, Timoteus en Titus, oor hoe om orde en harmonie in die gemeente te beskerm. Hulle hanteer oor die korrekte onderrig van die evangelie. So kry ons die kwalifikasies van ouderlinge en diakens in hulle. Baie van hierdie onderrig word nog vandag in ons gemeentes gebruik.

 

Romeine is ‘n kragtige en omvattende beskrywing van die hele evangelie. Dit dek die skepping, sonde, verlossing en herstel.  In Galasiërs word klem gelê op genade. 1 en 2 Korintiërs gee vir ons insig in hoe Paulus die spanning in ‘n kerk met probleme hanteer. Hy roep mense op tot optrede. In 2 Korintiërs beskryf Paulus sy eie hartseer as gevolg van mense wat hom probeer diskrediteer.

 

Wat moet ons in gedagte hou as ons Paulus se briewe lees en probeer verstaan? Soos altyd moet ons by die konteks begin. Elke brief is geskryf met ‘n spesifieke gehoor en ‘n spesifieke doel in gedagte. As ons ‘n bietjie grawe kom ons agter watter dwaalleer die boek Kolossense hanteer. Ons leer ook hoe slawerny gelyk het, hoe die gesinslewe was en sekere eienskappe van die kultuur. Dan moet ons vra: Watter universele en tydlose waarhede kry ons hier – waarhede wat vandag nog geldig is?

 

Ons groet mekaar nie meer met ‘n soen nie, maar Christelike ordentlikheid is steeds belangrik. Ouderlinge as oorsieners van die gemeente geld steeds.

 

Die briewe brei die rykheid van die Skrif uit. Dit herinner ons daaraan dat die word van God waarheid in verhoudings is.

image_pdfimage_print