Paulus verduidelik waarom ‘n apostel geregtig is op die finansiële steun van ‘n gemeente

image_pdfimage_print

Paulus verduidelik waarom ‘n apostel geregtig is op die finansiële steun van ‘n gemeente

Paulus verduidelik in 1 Korintiërs 9 dat ‘n apostel daarop geregtig is om vir sy lewensonderhoud vergoed te word deur die gemeente(s) wat hy bedien.  Hy gebruik voorbeelde uit die alledaagse lewe, sowel as uit die wet en tempeldiens, om dit te bevestig. 

Paulus is gelyktydig met twee redenasies besig in 1 Korintiërs 9.  Aan die een kant verduidelik hy waarom ‘n apostel wel geregtig is op die finansiële steun van ‘n gemeente.  Dit word verder in hierdie artikel bespreek.  Aan die ander kant verduidelik hy hoedat hy (in die Korintiërs se geval) besluit het om nie van hierdie reg gebruik te maak nie.  Dit word bespreek onder ‘n ander artikel met die titel “Waarom Paulus nie die Korintiërs se aanbod om finansiële steun wou aanvaar nie”.

Paulus bevestig dat ‘n apostel die reg het op lewensonderhoud, betaal deur die gemeente(s) wat hy bedien (9:4-12).  Hierdie reg op lewensonderhoud sluit ook die reg op reiskoste, vir ‘n apostel en sy vrou in (9:5), sowel as die reg om op te hou met handearbeid om hulleself daarmee te onderhou (9:6). 

Hy verduidelik hierdie reg op lewensonderhoud eerstens met drie algemene (“alledaagse”, 9:8) voorbeelde, en ‘n uitgebreide voorbeeld vanuit die wet (9:8-12).  Die algemene voorbeelde (9:7) is: soldate dien nie op eie koste nie maar verdien hul loon; ‘n boer wat ‘n wingerd geplant het, is geregtig daarop om die vrugte wat dit voortbring te eet; ‘n veewagter is geregtig daarop om die vee wat hy oppas te melk vir eie gebruik. 

Die uitgebreide voorbeeld vanuit die wet, berus op die proses van saaiery en die oes wat daarop volg.  Die wet sê immers dat die bees waarmee jy dors, toegelaat moet word om te eet van die graan waarin dit werk (9:9).  Paulus pas dit egter op die apostels toe (9:10-11).  Hulle “bearbei” immers die gemeente(s), soortgelyk aan ‘n boer wat die grond bearbei, saad saai en met oestyd die graan dors, met die gevolg dat hy ook uiteindelik sy deel daaruit ontvang.  Soos hierdie boer, is die apostels ook geregtig op ‘n “oes” vir hul persoonlike lewensonderhoud.  Paulus ondersteun sy argument hierna met ‘n vraag (9:12a): daar is ander wat in die gemeente van hierdie reg gebruik maak, het Paulus (as hulle geestelike vader en apostel) dan nie nog meer die reg daarop as hulle nie?  Hiermee verwys hy waarskynlik na rondreisende boodskappers wat in die gemeente werksaam geraak en hulleself mettertyd bewys het as “valse apostels” wat die gemeente eintlik uitgebuit het (2 Korintiërs 11:1-15, 20). Dit was ‘n groot bydraende faktor in Paulus se besluit om nie in die Korintiërs se geval finansiële steun te aanvaar nie (9:12b).

Hy noem nog ‘n laaste voorbeeld wat bevestig dat hy eintlik daarop geregtig sou wees.  Die priesters en Leviete is in ooreenstemming met die Torah geregtig op ‘n deel van die volk se offerandes, vir persoonlike gebruik.  Netso het Christus Self bepaal dat die wat die evangelie verkondig, hulle lewensonderhoud moet ontvang vanaf diegene aan wie die evangelie verkondig word (9:13-14).  Laasgenoemde stelling is dan ook die hoogtepunt van sy redenasie dat ‘n apostel geregtig is op finansiële steun: die Here Self het bepaal dat dit so is.

Lees gerus die ander artikel: “Waarom Paulus nie die Korintiërs se aanbod om finansiële steun wou aanvaar nie”. 

 

Skrywer: Ds Dirk Venter

 

 

image_pdfimage_print

You may also like...