Praat God met ons?

image_pdfimage_print

 

Reasonable people adapt themselves to the world. Unreasonable people attempt to adapt the world to themselves. All progress, therefore, depends on unreasonable people.” ― George Bernard Shaw.

 

Praat God met ons?

Ons kan tog nie praat van ‘n persoonlike verhouding met iemand wat nooit met jou praat nie. Baie mense is ongemaklik met die idee dat God met hulle kan praat. Hulle sê dan ook dikwels dat God nie met hulle praat nie. Maar God praat met ons. Ons moet leer om wat Hy sê te verstaan – om sy stem te herken. Daar is wonderlike stories hieroor in die Bybel. In Genesis 24 lees ons van Abraham wat sy dienaar stuur na die land van sy geboorte om daar vir Isak ‘n vrou te kry. Dit is ‘n belangrike taak. Die dienaar is bekommerd en vra vir Abraham wat hy moet doen as hy nie ‘n vrou kan kry wat saam met hom sal terugkom nie. Abraham antwoord: Die Here sal sy engel voor jou uit stuur sodat jy vir my seun ‘n vrou van my land af sal kan bring.

 

Die dienaar glo dit nie, maar toe hy daar aankom, vra hy tog vir die Here, die God van Abraham, vir sukses op sy sending. Voor hy nog klaar gebid het, kom Rebekka met die waterkruik op haar skouer daar aan.

 

God praat voortdurend met mense, maar meeste  besef nie wat aangaan nie. Hulle is soos Samuel. Die Here roep hom terwyl hy nog in sy bed gelê het. Onmiddellik dink hy dat dit Eli is wat hom geroep het. Maar Eli verseker hom dat hy hom nie geroep het nie: Gaan lê maar weer (1 Samuel 3). Dit gebeur nog ‘n paar keer. Uiteindelik besef Eli wat aangaan. Hy sê vir Samuel: Gaan lê en as iemand jou weer roep, sê jy: Praat, Here, u dienaar luister!

 

Ons moet leer hoe God praat, want anders gaan dit my persoonlike verhouding met Hom ondermyn. Soms doen God snaakse dinge om mense se aandag te trek, maar meestal bring Hy gedagtes op in ons denke. Hierdie gedagtes het ‘n kenmerkende kwaliteit, inhoud en gees oor hulle. God het baie maniere om gedagtes in jou te veroorsaak. In Numeri 11 en Eksodus 33 sien ons dat God met Moses soos met ‘n vriend praat. In Jeremia 23:28 – 29 lees ons: Die profeet wat ‘n droom gehad het, mag vertel wat hy gedroom het, maar hy wat my woord ontvang het, moet my woord eerlik oordra. ‘n Mens kan tog nie strooi met die beste koring vergelyk nie, sê die Here. My woord is soos vuur, sê die Here, soos ‘n hamer waarmee klippe stukkend gebreek word.

 

Mense het dikwels iets nodig om hulle aandag te rek – soos Saulus op pad na Damaskus toe. Ons kan nie enige opsies uitskakel nie, maar God se voorkeur metode is om met gewillige hoorders deur hulle gedagtes en deur sy woord te praat.

 

 

image_pdfimage_print