Psalm 15 (2)

image_pdfimage_print

“When we have learned to rejoice in God, we will be free to praise him with a willing spirit, a loosened tongue and an untrammeled mind. If we would be consecrated to God as priests whose sacrifice brings glory to his name, we must rejoice in him.” – Johannes Calvyn

 

Psalm 15 (2)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

15:2 – 5:  Verrassende antwoorde.

Die beskrywing van die persoon wat God verwelkom dek vier gebiede:

  • Die algemene integriteit van die persoon in verhouding tot die ander mense in die gemeenskap.
  • Geen verkeerde optrede teenoor ander nie.
  • Die reaksie ten opsigte van mense se siening van God.
  • Die regte gesindheid teenoor geld.

Vers 2 is dus die algemene terwyl vers 3 – 5 die besonderhede uitspel. Die laaste deel van vers 5 is weer algemeen.

 

15:2: 2Hy wat onberispelik leef en regverdig optree, en wat van harte die waarheid praat.

In vers 2 sien ons innerlike gesindheid en uiterlike doen – beide is belangrik. Dit is moontlik dat daar ‘n verskil kan wees tussen wat mense sê en doen. Hulle mag misleiding beplan, maar tree oënskynlik eerbaar op. Hiervan hou God net mooi niks nie.

 

Die antwoord van die digter is verbasend. In die lig van die Ou Testamentiese kultiese godsdiens sou ‘n mens hier allerlei kultiese voorskrifte verwag. Maar hier gaan die antwoord om die basiese boustene van hulle geloof – die alledaagse optrede teenoor die medemens. ‘n Mens wat naby God mag kom, is iemand wat:

  • Onberispelik leef – ‘n lewe in ooreenstemming met die wil van God. [Vergelyk Psalm 1] Onberispelik beteken volledig of heel. Dit beskryf dus ‘n mens van integriteit. Jesus sou dit later as suiwer van hart beskryf (Matteus 5:8). Ons kry dieselfde woord ook in die beskrywing van Noag (Genesis 6:9).
  • Regverdig optree – die persoon wie se doen en late in ooreenstemming met die wil van God is – hy staan in die regte verhouding met God. Sy hart is op God en nie op homself gerig nie. Hy lewe as verbondsmens en sy optrede getuig altyd daarvan dat hy opgeneem is in die gemeenskap van hulle wat aan God behoort.
  • Van harte die waarheid praat – die verbondsmens word gelei deur die waarheid. Dit is die teenoorgestelde van leuens, vleitaal, bedrog en grootpratery – die gedrag van die goddelose.

Ons verhouding met ons medemens kan nie geskei word van ons verhouding met God nie. As ons nie teenoor ons medemens doen wat reg is nie, kan ons ook nie in God se teenwoordigheid verskyn nie.

 

Met hierdie as algemene agtergrond gaan ons in die volgende blog na spesifieke praktiese voorbeelde kyk.

 

image_pdfimage_print