Psalm 29 (2)

image_pdfimage_print

 

In the end, the most important thing is not to do things for people who are poor and in distress, but to enter into relationship with them, to be with them and help them find confidence in themselves and discover their own gifts – Jean Vanier

 

Psalm 29 (2)

 

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

29:3 – 4

3Die stem van die Here, oor die waters,

die God van majesteit laat dreun,

Die Here, bo die magtige waters,

 4Die stem van die Here is kragtig,

die stem van die Here is glansryk.

Hier kry ons die rede vir en die inhoud van die pryslied aan die Here. Hier kry ons die rede waarom ander hemelinge die Here ook moet prys. Dit gaan oor die Here se stem op aarde en in die hemel. Hy is die God van majesteit; sy stem dreun. Maar ons lees ook van die magtige waters. Die waters staan vir onstuimige kragte wat dreig om die normale lewensorde omver te werp – soos ‘n vloed mense en stede omver kan werp. By die skepping, toe die Here gepraat het, het die kragte wat so uitgesproke was, stilgebly. In die verhale van Israel se tydgenote het die goddelike wesens dikwels probleme ondervind om hulle gesag af te dwing oor die primitiewe entiteite. Hierdie psalm vra die hemelinge om die Here te prys, want Hy het nie sulke probleme gehad nie.

 

29:5 – 9b:

5Die stem van die Here breek seders,

die Here verspinter die seders van die Libanon.

6Hy laat hulle bokspring soos ‘n kalf, Libanon en Sirjon soos jong buffels.

7Die stem van die Here kap klippe met vlamme.

 8Die stem van die Here laat die woestyn bewe,

die Here laat die Kadeswoestyn bewe.

9Die stem van die Here laat terebinte sidder,

dit stroop bosse kaal.

[Woestyn verwys na ‘n onbewoonde, onherbergsame gebied waar skape en bokke soms gewei het. Terrebinte verwys na ‘n Palestynse boom met geveerde blare wat bladwisselend is en rooi bessies dra. Dit word ongeveer vyf meter hoog. Sirjon is ‘n ander naam vir Hermon.]

Die psalm beweeg nou van die verlede na die hede. Dit maak dit duidelik dat die psalm nie net oor die oorspronklike skepping of van die hemel praat nie. Die psalmis wil hê dat die hemelinge, en sy mede-Israeliete, die Here se  heerskappy ernstig moet opneem. Hierdie gedeelte nooi die mense uit om in hulle verbeelding ‘n woeste donderstorm te sien As donder deur die natuurlike wêreld weergalm, is dit ‘n weerklank van God se stem wat in die hemel weergalm soos donderweer. Dit is ook ‘n naskok van die Here wat soos donderweerr by die skepping weergalm het. Die donder en weerlig wat die Here veroorsaak,versterk ons oortuiging dat die Here by die skepping sy oppermag oor die waters uitgeoefen het. ‘n Donderstorm kan groot bome laat val of hulle van hulle blare stroop. Dit kan voel asof die grond sidder. Dit kan die donkerte verlig; dit kan diere paniekerig maak. Die psalm hoor die stem van die Here  in die donder, maar sien ook die hele drama as ‘n weerspieëling van God se krag uitgeoefen by die skepping.

 

Die seders van die Libanon was indrukwekkende bome. Die woestyn is die plek waar weerligte uitslaan en die grond bewe. Beide is die gevolg van die stem van die Here. Hier het ons ‘n struktuur wat soos trappe lyk:

Bome (vers 5)

Diere (vers 6)

Woestyn (vers 7 – 8)

Diere (vers 9a)

Bome (vers 9b)

 

Die grond vir die opdragte is die tekens van God se skeppingsmag in die natuur. Die stem van die Here in die Ou Testament is dikwels die brul van die storm wat oor die heuwels weergalm. Die gedig begin, soos Genesis, met die waters. Soos in die verlede, openbaar die Here Homself in die natuur. Die onweer, weerlig, reën en watervloed word gesien as God se heilige verskyning, wat almal met ontsag vir Hom vervul. Hy laat sy stem hoor; Hy praat; Hy vertel hoe geweldig Hy is. Die stem van die Here bring al die natuurelemente weer in balans.

 

Die uitwerking van sy verskyning word oor ‘n wye terrein opgemerk: berge, die Libanon en Sirjon (= Hermon), diere, groot seders, die Kadeswoestyn bewe en die wildsbokke ruk soos hulle vir die groot onweer skrik. So ver as die onweer trek, van noordwes na suidwes, kom almal onder die indruk van die Here se groot mag. In die hemel waar God sy paleis het, getuig almal daarvan, want sy almag is so duidelik sigbaar. Die weerlig wat die bome kloof, is nie die spies van ‘n afgod, soos die buurvolke geglo het nie, maar dit is die magtige stem van die Here.

 

29:9c – 10:

Sy hele paleis sê: “Majesteit!”

10Die Here troon oor die vloed, ja, die Here troon as koning vir ewig.

Weer verander die toneel en keer terug na die hemel. Die Here se paleis is in die hemel bo die waters oor wie Hy sy oppermag uitoefen. Die hele paleis beteken al die hemelinge. Hulle doen nou wat hulle in vers 1 – 2 gevra is om te doen.

Die lyk asof die hemelinge hulle eer aan die Here bring op grond van wat hulle gesien het wat op aarde gebeur. Die Here is koning – Hy sit op die troon. Hy oefen ook sy mag oor die magte – die vloed – wat sy oppermag uitgedaag het, uit. Hierdie uitoefening van die Here se mag duur vir ewig.

 

29:11

11Die Here gee krag aan sy volk,

die Here seën sy volk met vrede.

Dit is die hemelinge wat sê dat die Here krag vir sy mense moet gee. Dit wys dat  die Here krag het en in staat is om dit te gee. As lede van die hemelse hof dra hulle by tot die taak om besluite te neem oor gebeure op aarde en met die implementering van daardie besluite.

 

Die digter sluit sy loflied af met twee stellings:

  1. Die getuienis van die natuur dui net op een saak: God is koning vir altyd. Niemand kan Hom onttroon nie.
  2. Die Here sal dié wat aan Hom behoort, sterk maak en seën. Daarom mag sy volk staatmaak op sy hulp en op sy oop hand – Hy seën hulle met die goeie uit die natuur. Die hemel getuig van sy groot mag en sy volk geniet die vrug daarvan.

 

 

image_pdfimage_print