Psalm 7 (1)

image_pdfimage_print

 

See to it also that you make yourself a fellow of every man and by no means exclude any one in hatred or anger –  Martin Luther.

 

Psalm 7 (1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Interpretasie

Die psalm praat van iemand wat aangeval word. Hy word verkeerdelik beskuldig en verkeer daarom in lewensgevaar – soos Nabot.

 

7:1: Opskrif. 

Sjighajoon. Van Dawid. Wat hy vir die Here gesing het na aanleiding van Kus, ‘n Benjaminiet.

Sjighajoon is ʼn klaaglied. Hierdie opskrif verwys na ‘n gebeurtenis waarvan ons onseker is. Kus is ʼn gebied suid van Egipte en verwys waarskynlik na die huidige Soedan (eerder as Etiopië). Die psalm mag moontlik na 2 Samuel 18:19 – 32  verwys. Daar lees ons dat Joab vir die Kusiet sê dat hy die nuus van Absalom se dood aan die koning (Dawid) moet oordra. Hy vertel vir Dawid dat God  die manne oorgelewer het wat hulle hand teen my heer die koning opgetel het.

 

Ander glo dat hierdie psalm dalk na Simeï verwys (2 Samuel 16 en 19) wat Dawid beledig het terwyl hy voor Absalom gevlug het. Ander glo dat dit na ʼn deugniet met die naam Seba verwys (2 Samuel 20).

 

7:2 – 3: ʼn Openingspleidooi – by U soek ek beskerming.

Here, my God, by U skuil ek; verlos my van almal wat my agtervolg, en red my, anders verskeur hulle my soos ‘n leeu wat sy prooi wegsleep terwyl niemand kan red nie.

Die psalm begin met ʼn pleidooi dat God hom sal verlos. Op hierdie stadium sê die psalmis nie hoekom hy God se beskerming nodig het nie. Die psalmis skuil/soek beskerming by God. In vs. 3 kry die eerste van ʼn paar duidelike beelde.

 

Die bidder pleit dat God hom teen die vyand moet beskerm. Sy vertroue in en afhanklikheid van die Here blyk uit die manier waarop hy die Here aanroep: Here my God. By Hom soek die bidder beskerming, want hy het van sy vyand af in die tempel in gevlug. So lank hy hier bly, is hy veilig, maar nou bid hy dat God hom moet vryspreek, sodat hy weer veilig kan uitgaan. Gebeur dit nie, sal sy vyand hom om die lewe bring sodra hy die tempel verlaat. Hy vergelyk sy vyand met ʼn leeu – die beeld van groot gevaar.

 

Die psalm verwoord ʼn situasie wat miljoene gelowiges deur die eeue ervaar het – intense vervolging. Die gelowiges het maar geleidelik die antwoord op hierdie eg menslike probleem – lyding – gekry. Alle mense moet net soos die natuur ly: ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting (Romeine 8:22). As Jesus moes ly, is dit voorbarigheid van ons kant om te vra: “Waarom gebeur dit met my?”

 

As ons in ʼn beskaafde en vreedsame land woon, identifiseer ons baie moeilik met die digter. Maar kom ons kyk net terug na enkele onlangse voorbeelde:

  • ʼn Eeu gelede moes die dames van die Heilsleër skuiling soek om te keer dat hulle nie verskeur word deur die “leeus” in die strate van die “beskaafde” Londen nie. Aand na aand is die massa opgesweep teen hierdie dames – soms selfs deur plaaslike leraars. Hulle is aangerand en die Heilsleër se geboue is beskadig – terwyl die polisie toekyk.
  • Dink maar aan Hitler se “finale oplossing” vir die Jode in Europa.
  • Die Ku Klux Klan het tot in die tyd van Martin Luther King vrees in die harte van duisende veroorsaak – vrees soos dié waarvan ons in hierdie psalm lees.

Geweld soos hierdie psalm dit beskryf, lê vlak onder die oppervlak van die ongeredde mens – selfs kinders. Baie mense leef steeds in vrees vir die kaper, rower, ens.

 

 

image_pdfimage_print