Saggeus – ‘n besondere ontmoeting

image_pdfimage_print

You cannot live a perfect day without doing something for someone who will never be able to repay you – John Wooden

 

Saggeus – ‘n besondere ontmoeting

Saggeus was nie ‘n goeie mens nie. Die Romeine het probleme gehad om belasting in te vorder. Die mense koop goedere op die swartmark en vermy so belasting. Wat doen die Romeine? Hulle huur ‘n plaaslike persoon om vir hulle die belasting in te vorder – iemand wat weet wat in die stad aangaan.

Hierdie mense – tollenaars – moes ‘n sekere bedrag insamel en aan die Romeine oorbetaal. Die Romeine het nie omgegee hoeveel addisioneel hierdie tollenaars ingevorder en vir hulleself geneem het nie – solank hulle net hulle deel gekry het. Geen wonder tollenaars het baie ryk geword nie. Saggeus het blykbaar nie omgegee dat sy optrede sy landgenote kwaad gemaak het nie – hy het van geld gehou.

 

Toe gebeur die onverwagte. Saggeus klim in ‘n wildevyeboom om Jesus te sien. Jesus sien hom in die boom en sê vir hom: Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan (Lukas 19:1 – 10). Wat presies tydens die ete gesê is, weet ons nie. Ons weet wel wat die gevolg was: Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.

 

Nêrens lees ons dat Jesus vir Saggeus beveel het om dit te doen nie. Eintlik gaan Saggeus verder as wat die vereistes in Levitikus sê. Saggeus loop oor van vrygewigheid; hy wil graag gee; hy gee nie omdat hy moet nie, maar omdat hy wil.

 

Wat het hierdie verandering in Saggeus teweeg gebring? Die fokus van die verhaal is hoe Jesus vir Saggeus, ‘n sondaar, hanteer het. Jesus roep hom daar waar hy in die boom sit terwyl al die ander mense hom ignoreer. Jesus gaan eet by hom nog voor hy bely het. Om saam met iemand te eet was destyds ‘n teken van aanvaarding – in werklikheid omhels jy hom. Geen wonder die Jode maak beswaar nie: Hy gaan by ‘n sondige man tuis!

 

Op daardie oomblik kry Jesus is Saggeus se lewe iets reg wat die Joodse wet nog nooit kon regkry nie. Jesus kyk na hierdie klein mannetjie in die boom – iemand wat verag en uit die gemeenskap geskop is – en aanvaar hom. Die ondervinding verander Saggeus vir altyd. Elke ander godsdiens sou gesê het: “Verander en jy sal God kan vind. As jy verander sal jy aanvaar en verlos word.”

 

Jesus sê vir Saggeus: Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom. Let wel: nie Saggeus jy het uitgegaan en redding gevind nie – redding het na jou toe gekom; redding het vir jou gekry. Saggeus is verander, nie deur ‘n opdrag van Jesus nie, maar deur ‘n ontmoeting met Jesus. Toe Hy God se genade ondervind, word hy verander – en hy word vrygewig.

 

 

 

 

image_pdfimage_print

You may also like...