Sien verder as jou omstandighede

image_pdfimage_print

We are not saved by works, but neither are we saved without them – Calvyn

 

Sien verder as jou omstandighede

‘n Lewe van geloof stel jou in staat om verder as jou alledaagse omstandighede te sien. Dit beteken ons sien die onsigbare wat aan ons beloof is. Ons oriënteer ons lewens op dit wat nog moet kom. Psalm 37 roep ons op vir hierdie soort lewe.

Die psalm begin met toekomstige hoop: Moet jou nie ontstel oor skelms en jou kwel oor skurke nie, want soos gras vergaan hulle gou en soos groenigheid verdwyn hulle sommer. Die bose mense – skelms en skurke – sal by die oordeelsdag vergaan. Een dag sal ‘n nuwe dag aanbreek en God se geregtigheid sal ten volle daar wees. Diegene wat Hom ken, word gered; diegene wat Hom nie ken nie, sal gestraf word.

 

Die psalmis sê vir ons dat wat sal wees, word deur ons huidige optrede bepaal. Hy gaan voort met die kontras tussen bose mense en die regverdige mense. Hy sê dat in die lig van die toekoms wat op ons wag ons moet wag. Dit is die lewe van ‘n Christen.

Die psalms wys vir ons hoe om te oorleef; hoe om met hoop te lewe al lyk dinge om ons maar sleg. Hoekom? Hier waar ons nou leef is nie die nuwe Jerusalem nie. Dikwels dink ons die psalms is vreemd. Hoekom? Al die klaery oor die kwaaddoeners en die sameswerings van boosdoeners. Dit is vir ons snaaks, want ons het al gemaklik geraak met die gebrokenheid van ons wêreld. Ons glo dat voorspoed die norm van ons huidige Christelike bestaan is.

Wat bedoel die psalmis as hy sê dat ons moet wag. Lees net verse 3 – 7: Vertrou liewer op die Here … vind jou vreugde in die Here …laat jou lewe aan die Here oor … daarom moet jy in stilte op die Here vertrou. Dit is hoe ons moet wag. Dit is nie stil sit en niks doen nie – dit is aktiewe wag. Hierdie wag is nie teoreties nie – ek sit nie op die pawiljoen nie. Ons vertrou die Here en doen goed; ek rol my moue op en maak my hande vuil.

Maar hierdie leefwyse is, anders as wat ons verwag het, vol vreugde. Kan nie wees nie. As skurke en skelms hulle verkeerde dinge beplan, ondervind ek vreugde. Hoe is dit moontlik?  Vind jou vreugde in die Here –  nie in jou omstandighede nie; nie in dit wat om jou aan die gang is nie. As ons deur ons pyn kyk en die onveranderlike heerlikheid van ons Verlosser, wat ons nooit alleen sal laat nie,  sien, weet ons Hy weet wat pyn en lyding is. Hy het daardie paadjie geloop.

As ons Hom vertrou en goed doen, as ons ons vreugde in Hom kry,as ons sy wil doen, wy ons ons lewe aan Hom. Ons weet die vyand maak vir die oorlog gereed, maar ons weet ook dat Hy reeds die oorwinning behaal het. Ons het vertrou, ons het opgetree, ons het ons vreugde in Hom gevind … en nou moet ons net sê: Mag die Here doen soos Hy dit goedvind! (2 Samuel 10:12).

Dan word ons stil voor Hom. Ons wag. Ons oriënteer ons huidige lewens teenoor die tyd wat nog moet kom.

image_pdfimage_print