Spreuke: Wat is waarheid? (3)

image_pdfimage_print

Spreuke: Wat is waarheid? (3)

Om mense wysheid te leer en hulle te onderrig sodat hulle sal weet wanneer iemand verstandig praat (1;2)

Ons kyk verder na Tim en Kathy Keller se boek: God’s Wisdom for Navigating Life. Ons het begin deur te kyk na wat wysheid is. Ons het gesien dat dit meer as moraliteit is. Dit sluit ook in dissipline, onderskeidingsvermoë en oordeelkundigheid. Vandag kyk ons na onderskeidingsvermoë.

Ons kan ook praat van insig – dit beteken die vermoë om verskille te sien waar ander net ‘n vaal kol sien. Volgens die Bybel is onderskeidingsvermoë die vaardigheid om daagliks reg te lewe. Om wys te wees is om veelvuldige opsies en moontlike optredes te herken waar ander net aan een of twee kan dink. Wysheid onderskei veelvuldige dimensies van mense se motiewe en karakter sonder om mense in net twee kategorieë – goeie mense en slegte mense – te plaas. Onderskeidingsvermoë is die vermoë om nie net die verskil tussen goed en sleg te ken nie, maar ook tussen goed, beter en beste. Christene ondervind dat soos Christus se liefde in hulle harte groei so ook sal begrip en fyn aanvoeling toeneem (Filippense 1:9). Sy liefde genees ons selfbehepte ego en stel ons in staat om ander om ons raak te sien en sensitief te wees vir ander.

Dit lyk asof ons wêreld verdeel is tussen mense wat alles as swart en wit sien en diegene wat alles as grys sien Ons moet bid dat God ons van relativisme en wettisisme moet verlos, want beide is nie wys nie. Bid dat jy die nederigheid en onderskeidingsvermoë wat nodig is vir ‘n wyse hart sal ontvang.

 

image_pdfimage_print