Van gesag na voorkeur

image_pdfimage_print

 

It is only when we stand up, with all our failings and sufferings, and try to support others rather than withdraw into ourselves, that we can fully live the life of community – Jean Vanier

 

Van gesag na voorkeur

Ons moderne  wêreld het verskuif van ‘n standpunt van gesag na een van voorkeur. Anders gestel: ons moderne wêreld ondermyn alle vorms van gesag en verplaas dit met die siening dat alle reaksies slegs ‘n saak van voorkeur is.

 

Gesag is belangrik vir die Christelike geloof. Wat God sê, is die waarheid, want Hy het die gesag. Om hierdie gesag af te water is om die Here af te skryf. Vir Christene is “Jesus is die Here” ‘n sentrale oortuiging en belydenis van ons geloof. Soos Tomas is ons volgelinge van Christus, want ons is ook oortuig: My Here en my God (Johannes 20:28). Christene glo dat Jesus Christus volkome God is wat volkome mens geword het. Die volgelinge van Jesus staan onder gesag. Wat God sê, vertrou ons; wat God sê dat ons moet doen, gehoorsaam ons. Ons erken ons is nie selfgesentreerd of selfonderhoudend en nie outonoom is nie. Maar tog het ons ‘n soliede siening van vryheid.

 

Dit gaan oor vryheid en nie outonomie nie. Hierdie vryheid het ‘n drievoudige raamwerk:

  • Dit is ‘n gawe van God en nie iets wat ons bereik het nie.
  • Dit het altyd te doen met verhoudings: ons ondervind dit in ons verhouding met God, ons medegelowiges en ons medeburgers.
  • Dit word altyd uitgeleef in die raamwerk van die onderrig van Jesus en van die Skrif. Dit is vryheid in die vorm van die waarheid van God se manier van lewe.

Jesus se seël van gesag is die finale woord vir Christene wat Hom getrou volg. Jesus se onderrig en sy gesindheid teenoor die totale betroubaarheid en oppergesag van die Bybel beteken dat die Bybel ons finale standaard en gesag is. Wat die Skrif sê, sê God en wat God sê, gehoorsaam ons.

 

Kritici verwerp hierdie siening as rigied in die moderne wêreld. Wat vandag van belang is, is eindelose keuses en gedurige verandering op alle vlakke van die lewe. Vandag is daar baie keuses en môre sal nog meer bring. Hierdie verskeidenheid van keuses sien ons in die supermark, maar dit het reeds ver buite die mure van die supermark versprei. Van ontbytgrane tot seksuele identiteite tot allerhande selfhelp tegnieke tot allerhande lewensfilosofieë – altyd ‘n hele reeks keuses. Die fokus val op kies eerder as op die inhoud van dit wat gekies word. Daar is altyd ander; daar is altyd iets meer. As jy hulle nie probeer nie, hoe sal jy weet dat jy nie dalk iets nie probeer het wat vir jou die boerpot kan bring nie.

 

“Love to one is only a barbarity for it is exercised at the expence of all others. Love to God also.” (Nietzsche). God word ook tot ‘n verbruikerskeuse gereduseer. As ons waarheid uit die vergelyking laat, is om aan een keuse vas te hou nie ‘n intellektuele oortuiging nie, maar ‘n teken van swakheid en dwaasheid. Ons vryheid is die vryheid om te kies, maak nie saak of ons keuse reg of verkeerd is nie. Solank as wat ons kan kies, is ons vry. Die waarheid en gesag is nie relevant nie. Wat belangrik is, is dat jy soewerein is om te kan kies en jy kan hierdie reg wanneer en waar  en hoe jy wil, uitoefen.

 

Vryheid van keuse en vryheid van jou gewete verskil hemelsbreed. Vryheid van keuse is vandag outonoom – ek is daarop geregtig. Vryheid van jou gewete  is nooit vry nie – dit is ‘n plig. Jou gewete was op ‘n stadium baie belangrik, want ‘n mens is deur die eise van jou gewete gebind. Die huidige fokus op vryheid van keuse is die hart van ons huidige verbruikersamelewing. Die inhoud van die keuse is nie meer belangrik nie en daarom word dit tot ‘n voorkeur gereduseer. Ons is almal verskillend so hoe kan ons nou iemand anders oordeel? Hierdie is my keuse; daardie is jou keuse. Ons is vry om verskillend te kies – dit is immers net verskillende voorkeure. Daarom kan ons nie sê wie reg of verkeerd is nie. Ons moet ons nie aan ander se keuses steur nie. Ons het geen reg om ander se voorkeure te oordeel nie.

 

Wat is die gevolg van hierdie vrye keuse mentaliteit vir die kerk? Onbeperkte, outonome, subjektiewe keuse is die koning in ons verbruikerskultuur. Gesag en gehoorsaamheid word verban – hulle bederf net dinge. Die eindresultaat is nie verbasend nie: ‘n ernstige gesagskrisis in die kerk. Ons sien standpunte en interpretasies wat neerkom op die verwerping van Jesus en die Skrif. Om te glo, is ‘n keuse – die belangrikste keuse wat iemand ooit kan maak. Maar met die oorweldigende klem op keuses, word keuse alles. Maar keuses vir Jesus kan soos moderne keuses liggewig, veranderlik en nie-bindend wees. Keuse en verandering is metgeselle – mense wat kies vir geloof kan maklik verander. Keuse kan altyd tydelik wees. Die verbondseed van geloof kos iets –  ons wy onsself aan Jesus Christus toe en ons word syne. Ons het gekies en ons is toegewyd. Ons het ons kruise opgeneem. Daar is geen terugdraai nie. Ons is nie meer op ons eie nie.

 

Die moderne versoeking om keuses af te maak, is niks nuut nie. In plaas dat ons begeertes volgens God se waarheid vorm, vorm ons die werklikheid volgens ons begeertes. Ons verwring die Skrif sodat dit ons begeertes pas. Ons verraai Jesus met ‘n interpretasie. Soos een bemarkingsagent vir Christelike kerke sê: “It is also critical that we keep in mind a fundamental problem of Christian communication: the audience, not the message, is sovereign.”  In die kerk is die evangelieboodskap en Jesus die Here van die boodskap soewerein – nooit die gehoor nie.

 

Ons praat baie van die wêreld verander. Wie verander vir wie? Die wêreld sou graag die kerk wou verander, want op baie plekke staan die kerk tussen die wêreld en sake soos seksualiteit. Die vraag is of die kerk nog die wêreld wil verander. Om te glo, kan op die korttermyn duur wees – jy swem immers teen die stroom. Maar die prys is nooit so duur soos die langtermyn prys wat ons gaan betaal as ons Jesus verwerp nie.

 

image_pdfimage_print