Verstaan die bedoeling van die skrywers

image_pdfimage_print

 

I do believe we slander Christ when we think we are to draw the people by something else but the preaching of Christ crucified. ~Spurgeon

 

Verstaan die bedoeling van die skrywers

Ons gaan voort met Mel Lawrenz  se reeks oor hoe om die Bybel te lees.

Elke persoon wil gerespekteer word. ‘n Volwasse persoon verwag nie dat almal met hom sal saamstem of dieselfde dinge sal glo wat hy glo nie. Ons wil hê dat ander ons moet respekteer – verstaan wie ons is, wat ons waardes is en wat ons motiveer. Daar is net een manier hoe mense ons so kan respekteer – deur te luister en te weet.

 

‘n Ernstige benadering tot die Bybel vereis juis dit: ‘n respek vir die Bybel en die bedoeling van sy skrywers. Dit is nie iets wat ons sommer kan aanvaar nie. Baie van ons benader die Bybel soos ‘n geheime kode – ons lees ‘n stukkie en hoop dit sal ‘n vlammetjie veroorsaak. Maar wat die Skrif bied is lewensverandering. Dit hang af van die bedoeling van die skrywers.

 

Die waarheid van die woord van God word aan ons oorgedra deur die storie en onderrig van sy verkose spreekbuise. Of ons nou na geskiedkundige vertellings of wysheidonderrig of profesie of die evangelies of briewe kyk – die woorde is geskryf deur mense wat deur die Heilige Gees geïnspireer is. Hierdie mense wou boodskappe oor die waarheid van God oordra – direk. Duidelik.

 

Ons Bybelstudie na al die eeue sluit in eerbied vir die Bybel as die woorde van die lewende God wat oorgedra is deur die woorde (en die lewens, ondervindings en toewyding) van die skrywers. As ons, as voorbeeld, 1 Korintiërs lees, sien ons in die openingswoorde wie dit geskryf het, aan wie hy geskryf het en hoekom hy geskryf het. Soos jy verder lees loop jy verskillende sake raak: die huwelik, egskeiding, sedelikheid, leierskap in die kerk, geestelike gawes en sosiale verhoudings. Voortdurend vra jy vir jouself: “Wat bedoel Paulus hiermee? Hoekom skryf hy oor hierdie saak? Wat vra die gelowiges in Korinte van hom? Wat was Paulus se bedoeling – wat wou hy hê hulle moes verstaan?”

 

Sommige antwoorde kom maklik – ons kry dit in die teks. Ander vereis ‘n dieper studie. Ons gesindheid moet wees: Wat het hierdie skrywer bedoel toe hy hierdie besondere woorde aan hierdie besondere gehoor op hierdie besondere tyd geskryf het? Ons moet eers op die oorspronklike betekenis fokus. Dit het met die bedoeling van die skrywer te doen.

 

In 1 Korintiërs wou Paulus ernstige probleme in ‘n Christelike gemeenskap geleë in ‘n onsedelike kultuur regstel. Jeremia waarsku sy mense om tot geloof en toewyding tot God terug te keer. Handelinge is die werk van Lukas  om ordelik te vertel wat met die bediening van Jesus gebeur het na sy lewe wat in die evangelie beskryf is. Die psalms is modelle vir aanbidding en gebed. Spreuke is ‘n doelgerigte stel riglyne  vir ‘n lewe van wysheid.

 

Dit is ‘n voorreg om hierdie woord te bestudeer. Dit vereis egter werk en ‘n oor wat noukeurig luister. Maar dit is wat respek vereis. As ons uitvind wat dit beteken het toe dit geskrywe is, kan ons aanbeweeg en vra wat dit in terme van tydlose beginsels beteken. Eers dat kan ons vra wat dit vir ons lewens vandag beteken. Dit sal jy nooit kry deur die Skrif oppervlakkig te lees nie.

 

 

 

image_pdfimage_print