Wat is fundamentalisme?

image_pdfimage_print

 

Failure to see our sin as primarily against God is, I believe, the reason we experience so little heartfelt grief over it. —Jerry Bridges

 

Wat is fundamentalisme?

Fundamentalisme is vandag ‘n vloekwoord. Om met enige vorm van ekstremisme verbind te wees, moet ten alle koste vermy word. In die vroeë 20ste eeu het ‘n vorm van fundamentalisme ontstaan wat net die fundamentele aspekte van die Christelike geloof teen die liberale interpretasies van die Skrif wou beskerm. Tussen 1910 – 1915 publiseer hulle twaalf traktaatjies – The Fundamentals. Daar in niks hiermee verkeerd nie.

 

Brian Harris se boek, When Faith Turns Ugly, sê dat baie vorme van fundamentalisme inderdaad veroorsaak dat geloof lelik word. Sommige is meer toksies as ander. Meeste godsdienste het ‘n fundamentele siening van hulle geloof – die Christendom is dieselfde.

 

John Stott sê daar is tien tekens van Christelike fundamentalisme. Hy sê fundamentaliste:

  • Gee die indruk dat hulle vakgeleerdheid wantrou.
  • Vasklou aan ‘n uitermate letterlike siening van die Bybel.
  • Sien die inspirasie van die Bybel as ‘n meganiese proses. Hulle sien inspirasie as God/ die Heilige Gees wat dikteer.
  • Interpreteer die Bybelse teks asof dit direk vir hulle geskryf is. Hulle ontken die kultuurgaping tussen die wêreld van die Bybel en die wêreld van vandag.
  • Verwerp gewoonlik die ekumeniese beweging.
  • Het ‘n afskeidende kerkleer, met ‘n neiging om uit besprekings te onttrek as hulle spesifieke leerstellige siening nie aanvaar word nie.
  • Hulle het ‘n dubbelsinnge verhouding met die wêreld. Soms word waardes sondermeer aanvaar; by ander gelede onttrek hulle hulle van die wêreld uit vrees vir kontaminasie.
  • Glo in wit oppergesag en verdedig rasse segregasie.
  • Sien evangelisasie en sending as dieselfde ding.
  • Dogmaties oor die toekoms.

Hierdie kombinasie van kenmerke kan rampspoedig wees.

 

Die probleem is dat fundamentalisme ‘n gebrek aan verbeelding het. Hy kry sy sekuriteit in sekerheid. Hierdie sekerheid is maar broos. ‘n Eng stel aannames is gewoonlik onderliggend aan fundamentalisme As een van hierdie aannames wankel, kan die hele bouwerk in duie stort. Daarom spandeer hulle baie energie om sienings wat nie meer gered kan word nie, te verdedig. Hulle soek na Noag se ark; hulle probeer ‘n geheime kode in die Bybel ontsyfer. Hulle soek ‘n kortpad na die waarheid deur oorvereenvoudiging. Diegene wat verskil, moet uitgeskakel word.

 

Die teenoorgestel van geloof is nie twyfel nie, maar sekerheid. As ons seker is van iets is geloof mos onnodig. Die Benediktynse monnik, Anselmus, het teologie gedefinieer as faith seeking understanding. Om te verstaan, moet jy nuuskierig en kreatief wees Dit behels onder andere ‘n dialoog met die Bybelse storie, die geskiedenis en tradisie van die kerk, die ondervindings van gelowiges uit verskillende kulture en oor eeue heen, insigte in ons huidige kultuur en die nuutste studies oor teologie.

 

image_pdfimage_print