Woorde uit die Bybel – Openbaring (5)

image_pdfimage_print

The Church is justified, not because her children do not sin, but because they do –  G. K. Chesteron

 

Woorde uit die Bybel – Openbaring (5)

When I use a word it means just what I choose it to mean – neither more nor less – Humpty Dumpty aan Alice in Lewis Carroll se Alice in Wonderland.

Woorde, ook woorde in die Bybel, het ‘n spesifieke betekenis. Vir mense sonder teologiese opleiding is dit dikwels moeilik om die volle betekenis van woorde te verstaan.

J. I. Packer het ‘n boek geskryf wat ons kan help: 18 Words: The Most Important Words You Will Ever Know. Ons gaan kyk na enkele van hierdie woorde. [Teksgedeeltes kom uit Die Boodskap.]

 

Huidige en toekomstige openbaring

In ‘n sekere sin is God se openbaring beëindig. Ons kan met reg vra: Het God laas in die Bybel met ons gepraat? Nee. God sê steeds wat Hy 2 000 jaar gelede in en deur sy Seun gesê het. As ons sy woord hoor of lees, word ons gekonfronteer deur sy woord, want dit vereis ‘n reaksie van ons. Ons moet vir God opreg dankie sê, want Hy vat ons oral met Hom saam in sy groot oorwinningstog deur die wêreld. Op elke plek waar ons kom, gebruik God ons (2 Korintiërs 2:14).

 Maar die grootste en duidelikste openbaring van God moet nog kom – die wederkoms van Jesus Christus. Ons kan nie alles van God verstaan nie. Dit is asof ons in ‘n blinkerige stuk staal na onsself kyk. Ons kan nie alles mooi uitmaak  wat ons sien nie. Maar die tyd kom wanneer ons alles helder en duidelik sal sien asof dit reg voor ons staan. Nou maak ons maar stuk-stuk uit van God en alles wat Hy vir ons doen en beteken. Daar kom egter ‘n tyd wanneer ek alles sal weet, net soos God nou alles van my af weet (1 Korintiërs 13:12). Luister na Johannes: Van een ding is ons egter seker: Jesus kom weer. Dan gaan ons Hom in sy grootheid sien soos Hy regtig is en ons self gaan ook soos Hy word (1 Johannes 3:2). In die heel  laaste boek en die heel laaste hoofstuk van die Bybel lees ons: Hulle sal reguit na God kan kyk en sien hoe Hy lyk. Dat hulle aan God alleen behoort, sal uit hulle straal, want God se Naam sal oor hulle voorhoof geskrywe staan (Openbaring 22:4).

 Ja, God se volledige openbaring kom nog, maar hy het reeds genoeg van Hom aan ons geopenbaar. Wat moet ons doen? Stop. Luister. Doen.

 Die een les wat ons uit hierdie eerste woord van ons kan leer, is dat daar meer in woorde steek as waarvan ons bewus is. Ons gaan nou na die tweede woord kyk: die Skrif.

 

image_pdfimage_print

You may also like...