27 Junie: Erken jou foute en word sterk. – Jan van der Watt

image_pdfimage_print

Rom 8:1-25 (fokus 8:1-17)

 As ons nie erken dat ons foute maak nie, is daar nie plek vir groei in ons lewens nie. Geestelike groei kom as ons ons swakhede leer ken en iets daaraan doen. Hoe meer swakhede jy sien en uitskakel, hoe sterker word jy geestelik.

Een van die belangrikste dinge wat sonde doen, is om ons oë vir ons eie sonde toe te druk – daarvoor moet Christene oppas (Rom 8:5-8). Dit is soos iemand wat op die verkeerde pad is sonder om dit agter te kom. Sonder of te vra of te dink of te wonder gaan hy maar net aan.

Maar daar is darem hoop vir die Christen. Die Heilige Gees los ons nie sommer maar net nie. Rom 8 vertel vir ons dat die Heilige Gees in die middel van ons pad staan en arms swaai. Hy wil ons waarsku om te kyk op watter pad ons is en saam met wie ons reis. As ons ‘n slag mooi na die pad en ons reisgenoot gekyk het en skrik, moet ons dadelik omdraai… sonder die reisgenoot. Ons moet liewer saam met die Gees op reis gaan sodat hy vir ons die pad begin wys. Dan sal jy nie net ʼn splinternuwe pad vat nie, maar ook ʼn splinternuwe mens word.

Die plek om te so nuwe pad te begin is om jou foute te erken, want dan kom daar plek vir groei. As jy nie meer skinder nie, sal daar kans wees om mooi dinge te sê. As jy nie jou humeur verloor nie, sal daar plek wees vir vriendelikheid. As die sonde nie jou ore doodskreeu nie, sal daar ʼn kans wees om na die Gees te luister. En dit is groei.

Gee jouself ʼn kans. Kyk mooi hoe jou lewensreis lyk. Kies dan die regte pad en die regte reisgenoot.

image_pdfimage_print

You may also like...