Psalm 10 (2)

image_pdfimage_print

 

“The goal of human life is not death, but resurrection.” Karl Barth

 

Psalm 10 (2)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Ons kyk nou na die skil om hierdie psalm.

10:1 – 2: ‘n Klaaglied.

Lamed. Waarom, Here, bly U so ver staan,

Waarom verberg U Uself in tye van nood?

In hulle hoogmoed vervolg goddelose mense die magtelose.

Mag hulle vasgevang word in die planne wat hulle beraam

 

In vers 1 het ons twee retoriese vrae – waarom.  God sit nie meer nie; Hy staan, maar ver weg. Hy kyk en luister, maar tree nie op nie. As God gesien en gehoor het, sou Hy sekerlik opgetree het. Psalm 9:10 het immers verklaar dat God ‘n toevlugsoord vir die onderdrukte sal wees. Nou gebeur dit nie so nie.

 

Die goddeloses in hulle hoogmoed tree op ‘n gevoellose manier op teen die hulpeloses – hulle vervolg hulle. Die goddeloses smee planne. Dit herinner nogal aan die planne om Nabot se wingerd te steel en om Nehemia te verhoed om die muur te herbou. Regverdigheid vereis dat hulle vasgevang word in hulle eie sluwe/listige planne.

 

Die digter vra vir God waarom Hy so ver staan en waarom Hy Hom terugtrek in tye van nood – die geloofswaarom wat die dringendheid van sy hulpgeroep beklemtoon. Dit is ‘n vraag wat ons ook vra by geleentheid. Toe Bonhoeffer in Nazi Duitsland in die tronk sit, wagtend op sy teregstelling as Hitler se baie spesiale gevangene, skryf hy dat hy nie God se teenwoordigheid aanvoel nie – God is nie bewus van wat met hom gebeur nie. Maar deur sy geloof het hy oorwin. Die toon van die waarom is smekend, nie opstandig nie. Omdat God nie dadelik ingryp nie, lyk dit asof hy padgegee het. Die goddeloses is verwaand en vervolgsugtig – hulle vervolg die magtelose. Hy smeek God dat hulle  vasgevang word in die planne wat hulle beraam

 

10:16 – 18: ‘n Loflied.

Hier kry ons ‘n aantal stellings oor geloof. Ons lees ook vir die eerste keer dat God koning is. [In 5:3 was Hy my Koning.] Hy is Koning vir altyd – nie soos die nasies wat vergaan nie.

Die Here is koning vir altyd en ewig; nasies verdwyn uit sy land.

TAW. U het gehoor wat die verdruktes graag wil hê, Here.

U versterk hulle hart, U luister aandagtig om aan die weeskind en onderdrukte reg te laat geskied.

Niemand sal meer voortgaan om mense uit die land te verdryf nie.

 

Die verlange van die goddeloses en die verlange van die verdruktes staan teenoor mekaar. God het lank gelede al gewys dat Hy aan die kant van die verdruktes staan. God se luister is nie beperk tot die verlede nie – Hy luister tans en sal aanhou luister. Dit is die soort optrede wat ‘n mens van ‘n koning verwag. Hy het immers die mag om die verkeerde reg te stel. God neem besluite wat die belange van die weeskind en onderdrukte beskerm. God is altyd die potensiële verlosser van die swakkes.

 

Die digter verkondig God se majesteit – nasies verdwyn uit sy land.; hy prys God omdat Hy gehoor het wat die verdruktes graag wil hê, Here. Hy het hulle gebed verhoor. Hy prys God omdat Hy hulle regsaak so behartig het dat niemand sal meer voortgaan om mense uit die land te verdryf nie.  Die Here bly altyd koning – selfs as dit lyk of die goddeloses se terrorisme oënskynlik hoogty vier. Al wat die vromes moet doen, is om op God te vertrou en ernstig by Hom te pleit om hulp. God is aan die kant van die vromes en Hy vernietig die vrees wat die goddeloses in die vromes se lewe wil indra.

 

Noudat ons die skil hanteer het, gaan ons in die volgende blog na die vrug kyk.

 

image_pdfimage_print