Alle Paaie lei na Jesus: Algemene vervullings

image_pdfimage_print

Alle Paaie lei na Jesus: Algemene vervullings – Adrio König

7.3 Algemene vervullings

Behalwe hierdie spesifieke vervullings, moet ons ook kyk na vervullings in die algemeen. Dink maar net aan die volgende. Die profesie oor die Seun van die mens kom uit Daniël 7:13-14. Daarvolgens is dit ’n heerlikheidswese wat heerskappy voer oor alles en almal. Maar wanneer dit in Jesus vervul word, is Hy in vernedering. Trouens juis wanneer Hy oor sy komende lyding praat, identifiseer Hy Homself heel spesifiek met die Seun van die mens. Telkens wanneer omstanders na Hom as Messias verwys, slaan Hy doelbewus oor na “die Seun van die mens” en dit juis as sy lyding ter sprake is (oa Mark 8:31; Matt 26:63). Uit die profesie in Daniël sou niemand ooit kon afgelei het dat hierdie Seun van die mens in vernedering sou kom nie.

Iets van dieselfde aard kry ons in die vervulling van die profesie oor die dienaar van die Here volgens Jesaja 53. Dit is die profesie waarna verreweg die meeste verwys word in die Nuwe Testament. Ons weet dus dit is vervul in Jesus van wie ons bely dat Hy aan God gelyk is. Maar uit Jesaja 53 sou ’n mens nie kon aflei dat die dienaar aan God gelyk sou wees nie. Uit Jesaja 53 kan ’n mens niks meer aflei as dat dit ’n mens sou wees nie. Dit is terloops belangrik om op te merk dat dit onnodig is om die nuwere vertalings soos die 1983-vertaling, NLV en LB te kritiseer omdat hulle nie in Jesaja 53 die voornaamwoorde vir die dienaar met hoofletters skryf nie. Die plig van die vertaler is om te vertaal wat die skrywers bedoel het en wat die mense in daardie tyd sou verstaan het, en niemand in daardie tyd het selfs net eers daaraan gedink dat hierdie dienaar aan God gelyk sou wees nie. Daarom is dit eintlik verkeerd om die voornaamwoorde wat in Jesaja 53 na hom verwys, met hoofletters te begin.

 

Kom ons kyk ook na die vervulling van die profesieë oor die Messias. Die Messias sou in heerlikheid kom om die heerlikheid van Israel te herstel soos dit in die tyd van koning Dawid was. Hy sou op die troon van Dawid in Jerusalem sit en oor die omringende volke regeer (Jes 8:23-9:6; 11:1-8). Maar toe Hy kom, kom Hy in vernedering. Hierdie kontras was so skerp dat dit een van die groot punte van misverstand was tussen Jesus en sy eie dissipels. Petrus bely Hom as die Messias, maar dan praat Jesus oor sy komende verwerping en lyding (Matt 16:13-23). Petrus reageer baie skerp hierop: “Mag God dit verhoed.” Waarom? Juis omdat hy Jesus toe net as Messias bely het, en hy het baie goed geweet die Messiaanse profesieë het dit in die vooruitsig gestel dat die Messias in heerlikheid sou kom regeer. Hierdie misverstand geld van al die dissipels (Mark 9:30-37; 10:32-38).

 

Natuurlik verwag ons dat die Messias nog weer sal kom, en dat dit inderdaad hierdie keer in heerlikheid sal wees. Maar dit het die dissipels nie op daardie stadium geweet nie. Hulle het die profesieë geken oor die Messias wat in heerlikheid sou kom, en op Petrus se belydenis bevestig Jesus dat Hy inderdaad hierdie Messias is. Maar Hy praat van sy verwerping en dood! Dit beteken dus nog ’n keer dat hulle nie uit die profesieë oor die Messias sou kon aflei hoe dit in Jesus se aardse optrede vervul sou word nie. Op grond van die profesieë verwag hulle ’n Messias in heerlikheid, maar die Messias kom in vernedering.

 

As ons nou terugkyk na die sewe spesifieke vervullings en die twee algemene vervullings, is dit duidelik dat ons (al is dit teen wil en dank?) die gedagte heeltemal moet laat vaar dat profesieë letterlik vervul word. In die meeste gevalle is daar op sy beste maar net ’n vae ooreenkoms tussen die profesie en die vervulling, in ander gevalle gaan dit glad nie om ’n profesie nie, maar om ’n geskiedenis wat ’n vae ooreenkoms toon met wat nou gebeur, en in nog weer ander gevalle kies die profeet ’n ander weergawe van ’n profesie (die Septuagint) wat wel ’n mate van ooreenkoms toon met die situasie waarin hy is.

 

Ons gevolgtrekking: Profesieë word so vry vervul dat ons nie vooraf uit die profesie se bewoording sou kon aflei hoe die vervulling  sal lyk nie. In nie een van die gevalle wat ons behandel het, sou ons naastenby uit die profesie self kon aflei hoe dit vervul sou word nie. Die vorm van die vervulling is elke keer ’n verrassing.

 

En dit is presies wat ons vir die toekoms moet verwag. Ons het geen helder beeld hoe Jesus weer sal kom, hoe God die dooies sal opwek en die aarde sal nuut maak nie. Ons kan ons enige voorstelling maak wat ons wil, maar ons moet ons gereedmaak vir groot verrassings.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...