Alle Paaie lei na Jesus: Die wet en Hebreërs (1

image_pdfimage_print

Alle Paaie lei na Jesus: Die wet en Hebreërs (1 – Adrio König

3.7 Die wet in Hebreërs

Die probleme rondom die wet is baie ernstiger in Hebreërs as wat dit in Paulus se Briewe is. In Paulus se situasie wil sommige Joodse gelowiges die wet by Christus byvoeg asof Christus nie genoeg is nie. Maar in Hebreërs is die gevaar dat Christus vervang word deur die wet, dat Christen-Jode Christus los en terugval op die wet alléén (2:1-3; 3:6, 12-14; 10:32-39). Die “wet’ moet hier verstaan word as die Ou Testament in die algemeen, maar uiteindelik veral die tempel-priester-offerdiens van die Ou Testament. Ons praat van die tempelkultus. 

 

Hierdie gevaar dat die gelowiges kan terugval op die Ou Testament is die rede waarom die skrywer Christus se grootheid so beklemtoon en Hom herhaaldelik vergelyk met figure of sake uit die Ou Testament en dan wys op Christus se onvergelyklike grootheid. Christus is groter as

  • die engele (1:4 ev),
  • Moses (3:3 ev),
  • Josua (4:8 ev),
  • die wet (10:1 ev),
  • die priesters (7:20-28 en telkens verder aan),
  • die tempel (9:11, 23 ev),
  • en die offers (9:11-14 ev; 10:10).

 

Hieruit alleen is dit duidelik dat hy hulle by Christus wil hou en wil oorreed om nie terug te val op die Ou Testament nie. Dit is nie uit die Brief heeltemal duidelik waarom die gelowiges gehuiwer het of hulle aan Christus moet bly vashou nie. Dit is wel duidelik dat hulle vroeër erg vervolg is en gely het vir hulle geloof (10:32- 39). Hierdie vervolging het waarskynlik nie opgehou nie, en die versoeking kon groter geword het om liewer terug te gaan na die sinagoge waaruit die meeste van hierdie Christene in elk geval gekom het. In sy kommentaar op Hebreërs (Hebreërs vir vandag, CUM) herinner Andrie du Toit ons daaraan dat dit in hierdie tyd baie veiliger en makliker was om deel van die Joodse geloofsgemeenskap te wees as om ’n Christen te wees omdat die Jood se geloofsgemeenskap deur die Romeinse owerheid erken is terwyl die Christene vervolg is.

 

Die meeste van hierdie gelowiges het uit die sinagoge oorgekom soos ons oor en oor lees van Paulus se sendingreise. Hy begin altyd by die sinagoge waar daar dan Jode en sogenaamde “godvresendes” of “godsdienstiges” by hom aansluit (Hand 13:42-43; 17:1-4). Die laaste twee groepe was heidene wat hulle  klaar met die Joodse geloof vereenselwig het.

 

’n Mens moet nou onthou dat ons hier in die Brief aan die Hebreërs ’n nuwe situasie het. Die gevaar is veel erger as in Paulus se Briewe. Dis nie nou meer net ’n geval van gelowiges wat die wet by Christus wou byvoeg nie, maar van ’n keuse: óf Christus óf die wet. Daarom word Christus se grootheid so oorweldigend beklemtoon, en word die wet (Ou Testament) in uiters negatiewe terme geskilder, selfs veel negatiewer as Paulus. Daar kan nie eens ’n vergelyking tussen Christus en die wet getref word nie.

 

Maar ons moet in gedagte hou dat dit nie om die wet (die Ou Testament) in sy totaliteit gaan nie, maar om die bepalings oor die tempelkultus. Hierdie diens word in hierdie Brief ook die “verbond” genoem.

 

Kom ons kyk nou eers hoe heerlik Christus geskilder word, en dan hoe negatief die wet.

 

3.7.1 Die grootheid van Christus

Die Brief begin met heerlike lof aan Christus. Hy oortref alles wat in die Ou Testament deur die profete gesê is (1:1-2). Hy is die unieke openbaring van God self (1:2-3). Hy was self by die skepping van alle dinge betrokke, en Hy hou nou nog alles deur sy magswoord in stand.

 

Engele Hy is veel groter as die engele soos blyk uit die feit dat God Hom sy “Seun” noem terwyl die engele maar net sy dienaars is (1:4-14). Verder het God alles aan Hom onderwerp, iets wat Hy nooit aan die engele gedoen het nie (2:5-9). Daarom is die saligheid wat in Hom geopenbaar is, soveel groter as dié in die Ou Testament, en juis daarom sal dit so fataal wees om van Hom af weg te dryf (2:1-4).

 

Moses Christus is ook veel groter as Moses (3:1-6) – en dit is ’n mondvol vir Jode! Moses was dié dienskneg van God, die een deur wie die wet gegee is, en ons onthou watter geweldige betekenis die wet vir hulle gehad het. Maar Moses self was ’n buitengewone persoon in die geskiedenis van Israel. Van hom word dinge geskryf wat van niemand anders gegeld het nie. Ons lees dat die Here direk met Moses gepraat het soos ’n man met sy vriend (Eks 33:11). Verder ook: “As daar ’n profeet van die

Here onder julle is, maak Ek My aan hom bekend deur visioene en praat Ek met hom in drome. Maar met my dienaar Moses is dit anders. Hy is die betroubaarste in my diens. Met hóm praat Ek direk en persoonlik, nie in raaisels nie. Hy sien selfs die gestalte van die Here” (Num 12:6-8). Dis ’n mondvol! Dis geen wonder dat die Jode later die wonderlikste dinge oor Moses geglo het nie. Hulle het geglo hy is die middelpunt van die geskiedenis. Die aarde sou 2 500 jaar voor hom gemaak wees, en die Messiaanse tyd sou 2 500 jaar ná hom aanbreek. Hulle was selfs oortuig dat die groot Griekse filosowe soos Plato en Aristoteles by Moses hulle wysheid gekry het. Dis interessant dat die skrywer aan die Hebreërs hierby aansluit en dieselfde erkenning aan Moses gee waarvan ons in Numeri gelees het. Maar Christus is eenvoudig meer. Beide werk in God se huis (volk), maar Moses was ’n dienaar in die huis, terwyl Christus as die Seun oor die huis regeer (Heb 3:5-6).

 

Josua Christus is ook veel groter as Josua (4:8-11), wat self ’n geweldige aanspraak was. Immers dit is Josua wat uiteindelik die volk in Kanaän ingelei het. Maar die skrywer herinner die Christene daaraan dat Josua nie werklik die rus vir die volk gebring het wat God beloof het nie. Die Sabbatsrus wag nog steeds op die volk van God, en in Jesus kan ons daardie rus ingaan. Op hierdie stadium wy die skrywer weer ’n lang gedeelte daar aan om die grootheid van Christus te besing (4:14-5:10) voordat hy oorgaan na die hoofdeel van die Brief waarin hy Christus vergelyk met die tempel-priester-offerdiens (hoofstuk 7-10).

 

Die wet Veral in hoofstuk 7 bring die grootheid van Christus radikale negatiewe uitsprake oor die wet mee. Daardeur wil die skrywer die lesers oortuig hoe onvergelyklik groot Christus werklik is in vergelyking met die wet waarheen hulle nou wil terug val. Die wet is “afgeskaf vanweë die kragteloosheid en nutteloosheid daarvan” (!) (7:18). Daarteenoor het daar in Christus ’n “beter hoop” gekom “waardeur ons tot God nader” (7:19). Hier die laaste woorde kan ook vertaal word met “waardeur ons regtig by God kan uitkom” wat natuurlik impliseer dat die afgeskafte wet ons nie by God kon uitbring nie. Dit is skokkende uitsprake. Ons beleef min daarvan vandag. Ons is so gekondisioneer deur die grootheid van Christus dat ons byna geen besef het van die eerbied wat die Jode voor en in die tyd van Jesus vir Moses en die wet en die Ou Testament as geheel gehad het nie.

 

En dit het natuurlik die Christene uit die Jode net so gegeld. Hulle het groot geword met die diep oortuiging dat die wet sonder meer die onvoorwaardelike wil van God was waarna hulle met oorgawe moes luister. Om nou te hoor die wet was “kragteloos en nutteloos”, was om die minste te sê, skokkend. Hoe sou hulle dit van Godslastering kon onderskei?

 

In die volgende artikel gaan ons na die afskaffing van die tempelkultus kyk.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 

image_pdfimage_print

You may also like...