Die Handelinge van die Apostels: Paulus en Barnabas se terugtog na Antiogië in Sirië (Hand 14:21-28) – Francois Malan

image_pdfimage_print

14:21 Terwyl hulle die evangelie in Derbe verkondig het, het hulle ’n aansienlike getal (hikanós) dissipels vir Jesus gemaak. Hulle sou hulle seker in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees gedoop het en geleer het om alles te onderhou wat Hy beveel het (vgl. Matt 28:19-20) asook Jesus se nuwe wet van die liefde (Joh 13:34; 15:13). Volgens Hand 20:4 vergesel Gaius van Derbe vir Paulus aan die einde van sy derde sendingreis as verteenwoordiger van die gemeente in Derbe, met die kollekte van die gemeentes wat Paulus georganiseer het vir die gemeente in Jerusalem. Ná die opbou van die gemeente in Derbe is Paulus en Barnabas terug na Listra, Ikonium en Antiogië in Pisidië waar hulle vroeër telkens weggejaag is. Die kortpad na Antiogië in Sirië sou oor die Taurusberge wees. Dit het Paulus op sy tweede sendingreis gevolg. Maar nou het hulle nog werk om te doen in die gestigte gemeentes.

14:22 Die rede waarom Paulus-hulle teruggegaan het na die drie stede word in drie sinne weergegee. Hulle het die geestelike lewe van Christus se dissipels gaan versterk, hulle aangemoedig in die geloof en die wete dat hulle deur baie moeilikhede heen ingaan in God se koninkryk. Versterk (epistêrizō) beteken om hulle sterker te laat word in die sin van stewiger en onveranderlik in hulle geloof in Christus; 1 Kol 1:23). Hule is aanmoedig om voort te gaan (emménō) in die geloof, om te groei in hulle verhouding met die Here Jesus deur al meer op Hom te vertrou. ‘Ons,’ alle gelowiges,’ moet ‘deur baie moeilikhede heen (thlipsis moeilikheid wat direkte lyding en vervolging insluit) in Hom bly glo. 1 Petrus 1:6 noem dit allerhande beproewings. So gaan ons in ‘die koningskap van God’ in.  Die koningskap van God (hê basileía tou Theou) verwys nie na ’n gebied of ’n tyd nie, maar na God se heerskappy.. Om God se koninkryk ‘in te gaan’ beteken om God se beheer oor jou lewe te aanvaar en te verwelkom. Dit behels die verloëning van jouself en elke dag jou kruis opneem en Jesus volg (Luk 9:23). Paulus se vervolgings en lyding wat hy moes verduur was ’n aanskouingsles om dié vier gemeentes in te lei in die aanvaarding van God se heerskappy oor hulle lewe, die ingaan deur die smal poort wat na die lewe lei (Matt 7:13-14; Joh 15:20).

14:23  Verder het hulle twee die organisasie van elke gemeente gaan reël. Met die opsteek van hande het hulle vir elke gemeente ouderlinge laat kies. In die ander drie gemeentes buiten Derbe kon Paulus-hulle nie ouderlinge deur die gemeente laat kies nie, omdat hulle telkens uit die vorige drie stede weggejaag is voordat hulle die organisasie van die gemeente kon reël. Die Jerusalemgemeente het reeds ouderlinge gehad wat as voorbeeld vir Paulus-hulle gedien het (Hand 11:30). Volgens Paulus se brief aan Titus 1:5,7,9 was ’n ouderling ’n bestuurder oor die huishouding van God, wat die gemeente deur die gesonde leer bemoedig en ook dié wat dit teengaan, weerlê het.

Met gebed en vas het hulle die gemeente en die ouderlinge in die hande van die opgestane Here oorgegee (paradídōmi) sodat die gemeentelede en ouderlinge op die Here sal wag om hulle te lei en te gebruik in sy diens in hulle gebied. Dit is die Here Jesus in wie hulle reeds begin glo het en voortgegaan het om in Hom te glo – dit is die betekenis van die voltooide verlede tyd van die Griekse werkwoord vir glo wat Lukas hier gebruik. Na Paulus en Barnabas  se vertrek gaan die Heilige Gees voort om die gemeente te lei in hulle geloof in Jesus. So neem Paulus en Barnabas voorlopig afskeid van die gemeentes tot Paulus weer op sy tweede en derde sendingreise die gemeentes weer besoek (Hand 16:1-6; 18:23). In 2 Korinthiërs 11:28 vertel Paulus van die daaglikse druk op hom wat sy kommer oor al die gemeentes hom besorg het. Daarom het hy soveel briewe aan die gemeentes gestuur om hulle op die pad van die Here voort te help, en het hy daagliks voorbidding vir die gemeentes gedoen dat die Here hulle sal lei, bewaar en  beskerm. 

14:24-25 Ná hulle tweede besoek aan Antiogië in Pisidië om ouderlinge aan te stel, waar hulle laas deur die Jode uitgedryf is (13:50), volg hulle terugtog dieselfde roete waarlangs hulle in die suidelike deel van die Romeinse provinsie Galasië ingekom het, oor die Taurusberge na Perge. Hier word vertel van hulle sendingwerk in Perge in Pamfilië aan die Cestrosrivier, waar Markus hulle verlaat het en na Jerusalem teruggekeer het (13:13). In Perge het hulle hierdie keer vertoef en die woord van God aan die mense van die stad verkondig. Daarna gaan hulle na die hawe Attalia waar hulle makliker ’n skip sou kon kry. Dié hawe is deur koning Attalos II laat bou. Hy was koning van Pergamum van 159-138 v.C.

14:26 Van Attalia af het hulle om die eiland Siprus gevaar, waar hulle op die heenreis gewerk het. Hulle skip het direk na die hawe Seleusië gegaan. Seleusië word egter nie weer hier genoem nie. Van Seleusië af is hulle weer te voet die 25 kilometer bergop na Antiogië in Sirië. Aan die begin van hulle sendingreis het die gemeente in Antiogië vir Paulus en Barnabas aan die genade van God opgedra (perfektum van paradídōmi) vir die werk wat hulle vervul het. Met dié perfektum impliseer Lukas dat Paulus-hulle die hele sendingreis in die genade van God gebly het en daarom die Heilige Gees se opdrag in (13:2) kon vervul. Die eerste sendingreis van Paulus het waarskynlik geskied in die jare 48-49 n.C.

14:27 In hulle sendende gemeente Antiogië aangekom, het hulle die gemeente saamgeroep vir ’n verslagvergadering oor hulle werk. Daar het hulle alles vertel wat God met hulle as sy instrumente, gedoen het (vgl. Hand 9:15 het die Here vir Ananias oor Saulus gesê: ‘Ek het hom uitgekies as instrument om my Naam uit te dra na nasies en na konings en na Israel’). Die Here het vir die heidene ’n deur van geloof oopgemaak. Aan die einde van Petrus se verslag oor sy werk by Kornelius se groep mense, het die gemeente in Jerusalem ook God verheerlik en gesê: ‘So het God dan ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk’ (Hand 11:18). Geloof in Christus is vir almal die enigste toegang tot God en tot sy heil. God self skenk aan ’n mens die oop deur van geloof in Christus na Hom toe (Ef 2:8: ‘Want uit genade is julle verlos, deur geloof. En dit kom nie uit julleself nie; dit is die gawe van God’).

14:28 Paulus en Barnabas het nie ’n klein tydjie saam met die dissipels gebly nie (dit is Lukas se manier om ’n lang tyd aan te dui, waarvan hy nie die presiese lengte ken nie). Die gemeentelede word hier almal dissipels=leerlinge of volgelinge van Jesus genoem (vgl. Jesus se opdrag in Matt 28:19 maak dissipels van al die nasies…). Die Griekse woord hier vir ‘bly’ (diatríbo) impliseer dat hulle daar gebly het om in die gemeente te werk.

image_pdfimage_print

You may also like...