Die Huwelik – Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

Leser vra:

Boodskapteks: Waar in die Bybel staan dit dat mens moet trou? Ek weet die man sal sy ma en pa verlaat en sy vrou aankleef. En ons moet in die eg verbind word. En dat God hoereerders haat.

En is daar enige vloek oor ’n kind wat buite-egtelik verwek is? Die ma en pa is reeds verloof en gaan binne die volgende paar weke trou.

Ek sal u hulp waardeer. Ek glo in God; Hy is ook my Alfa en Omega. Dit is vrae wat die kinders my vra.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die ideaal bly steeds dat kinders binne die huwelik verwek sal word, want dit bied steeds die beste beskerming en stabiliteit vir kinders en ouers (veral vir die vrou), en die basis vir ’n gesonde samelewing. Die meeste van die sosiale probleme waarmee ons vandag sit, is te wyte aan gebroke ouerhuise, of waar kinders geen stabiele huislike omstandighede geken het waarbinne hulle gesonde menseverhoudings kon ontwikkel nie. Dit bly nou maar ’n feit – hoe mens ook al daarna kyk – dat ’n gesonde samelewing op gesonde huwelike en ouerhuise gebou word. In dié sin van die woord is die huis eintlik die samelewing in die kleine. Dáár word kinders geleer hoe om tussen ander mense op te tree, en wat hulle verantwoordelikhede en grense is.

Hierdie feit is so oud soos die berge. Huwelike was daar sedert die begin van die mensdom (Genesis 1:27-28; 2:18,23-24). Die Nuwe Testament bevestig ook dat die huwelik met die skeppingsgebeure gegee is. Byvoorbeeld, volgens Matteus 19:4-5 sê Jesus dat die man sy vader en moeder sal verlaat, sy vrou aankleef en hulle een vlees sal wees. Paulus gee vervolgens uitvoerige raad oor die huwelik (1 Korintiërs 7), en Hebreërs 13:4 maan ook dat die huwelik eerbaar gehou moet word en dat ontugtiges en egbrekers onder die oordeel van God sal kom. ’n Mens kan dus sê dat, volgens die Bybel, die huwelik die Goddelike norm en ruimte is vir die uitlewing van menslike seksualiteit, en vir die bou van ’n gesin en die menslike geslag. In die Bybel word dit dus as vanselfsprekend aanvaar dat mense sal trou. Daar word nie gedebatteer óf mense moet trou nie, maar alleen hoe hulle hulle binne die huwelik moet gedra. Van hierdie gedrag vorm die sewende gebod – jy mag nie egbreuk pleeg nie –die hoeksteen. Liefde vir en trou aan mekaar vorm die skering en inslag van die huwelik. Van hieruit word gepraat oor hoe man en vrou teenoor mekaar sal optree en hoe die kinders opgevoed moet word. Daarom kry mens nie in die Bybel ’n eksplisiete opdrag dat mense moet trou en nie sommer saamwoon nie. Die huwelik as die norm vir die permanente verhouding tussen man en vrou word gewoon as vanselfsprekend aanvaar. Dit word nêrens bevraagteken, geproblematiseer of tersyde gestel, soos tipies vandag gebeur nie. So gesien sou mens dus wel van ’n implisiete of stilswyende opdrag tot die huwelik in die Bybel kon praat.

(Oor die kwessie van poligame huwelike gaan ek nie nou in nie. Genoeg net om te sê dat ten spyte van die voorkoms van veelwywery in die Bybel, die monogame huwelik as die Godgewilde norm voorgehou word. Poligamie was eerder ’n afbuiging van die wil van God, onder invloed van omringende volke se gebruike, en het hoofsaaklik in die vroeë Ou-Testamentiese periode voorgekom. Die vraagsteller kan meer hieroor lees op Bybelkennis.co.za se webblad waar daar in sekere artikels uitvoeriger hierop ingegaan word. Sleutel net “poligamie” in die soekblokkie in en die artikels sal verskyn.)

Maar terug by die huwelik en saamwonery: Dis nie asof saamwonery nie in Bybelse tye voorgekom het nie, hoewel ons nie veel daarvan in die Bybel lees nie (oor egbreuk, prostitusie en hoerery wel baie). So lees ons byvoorbeeld van die Samaritaanse vrou in Johannes 4:18 wat al vyf keer getroud was en dat die man wat sy gehad het ten tyde van haar gesprek met Jesus, nie haar man was nie. Sy het dus bloot met hom saamgeleef sonder dat hulle getroud was. Jesus veroordeel haar egter nie daaroor nie, maar stel bloot ’n feit. Hy stel meer belang in haar toekoms as in haar verlede. Sy gesprek met haar sny daarom dieper – dat Hy die Christus, die Verlosser is. En hoewel die verhaal dit nie eksplisiet noem nie, kry mens die indruk dat sy ook, saam met baie ander Samaritane, in Jesus as die Messias en Verlosser begin glo het en dat haar lewe hierna kon verander. Sy sou waarskynlik met nuwe oë na die verhouding met haar saamwoon-man begin kyk het. Dieselfde gebeur met die vrou wat in owerspel betrap is (Johannes 7:53-8:11). Sy was waarskynlik getroud, maar het met ’n ander man gehoereer. Jesus spreek haar egter vry, maar roep haar terselfdertyd op tot ’n nuwe lewe (8:11: “… moet van nou af nie meer sonde doen nie”). Buite-egtelike saamwoon en hoerery was maar altyd deel van die samelewing. Hoerery het uiteraard onder die oordeel van God gestaan, en saamwonery was wel op ’n manier geduld, maar sulke mense het in die destydse samelewing – waar die huwelik die sosiale en godsdienstige norm was – onder ernstige verdenking gebuk gegaan.

Vandag word saamleef buite die formele huwelik egter nie meer as ’n “doodsonde” beskou nie; in sekere kontekste word dit amper as normaal aanvaar, die wenkbroue lig nie eens daaroor nie. Selfs in Christelike huise word dit ooglopend aanvaar, en mens sal ver moet soek na ’n kerk wat hierteen preek. Dis asof selfs die kerk homself vrywillig die swye opgelê het ten einde nie te veel golfies te maak nie, uit vrees dat lidmate sal weerstand bied en die kerk verlaat. Dit word maar stilswyend aanvaar as deel van die moderne samelewing waar die vrou in alle opsigte die man se gelyke is. Sy het haar eie beroep en het nie meer die man se geld of ondersteuning nodig om haar eie ding te doen nie. Trou is ’n vrye keuse, en nie ’n samelewings- of religieus-voorskriftelike norm meer nie. In ’n sekulêre samelewing word die huwelik ook as ’n “uitgediende” instelling beskou. ’n Mens het nie “papiere” nodig om saam met iemand anders in ’n intieme lewensgemeenskap te leef nie. As daar konsensuele toestemming tussen volwassenes is, is dit niemand anders se besigheid nie, word gesê. Daar bestaan ook deesdae wetgewing wat saamwoon-verhoudings en -gesinne beskerm. Daar het dus stil-stil ’n totale sosiale omwenteling plaasgevind wat die siening oor en status van die huwelik betref. En dit moet mens in ag neem wanneer oor en teen saamwoon gepraat word. ’n Mens moet oppas om nie met groot voete in te klim en links en regs te veroordeel nie.

En tog is die huwelik beslis nie uitgedien nie. Mense trou nog! Dis asof daar ’n diepliggende aanvoeling is dat die huwelik vir iets meer staan as maar net dat mense nou amptelike toestemming het om as man en vrou saam te woon. Want die huwelik, Bybels gesien, gaan oor onvoorwaardelike oorgawe en verbintenis aan mekaar, wat, godsdienstig gesproke, ook uitdrukking is van die liefde tussen Christus en sy gemeente. Soos Christus die gemeente liefhet en sy lewe daarvoor gegee het, so moet die man sy vrou liefhê en versorg (Efesiërs 5:25-33). Dit gaan eintlik oor ’n wedersydse oorgawe en onderwerping aan mekaar (Efesiërs 5:21), waar man en vrou mekaar deur dik en dun, in swaarkry en goeie tye, in siekte en gesondheid, ondersteun, liefhet en dra. In die lig hiervan is blote saamwoon as “proeflopie” om te kyk of dinge gaan uitwerk, ’n miskenning van waarvoor die huwelik ten diepste staan. Saamwoon is eintlik maar ’n voortydige en selfsugtige toe-eiening van die voorregte van ’n intieme verhouding sonder dat die geestelike kapitaal en verantwoordelikhede wat belê moet word in so ’n verhouding, aanvaar word. Hoe dikwels het dit nie al gebeur dat een van die partye eenvoudig uitstap uit so ’n verhouding en die ander met die gevolge laat nie.

Maar natuurlik, in saamwoonverhoudinge kan dinge ook goed uitwerk, terwyl dit weer in formele huwelike ellendig sleg daaraan kan toegaan. Maar in laasgenoemde geval is dit dan nie die huwelik as instelling se skuld nie, maar die mense in die huwelik wat weens die hardheid van hulle harte dit nie laat slaag nie (Matteus 19:8). So, eerder as om die huwelik die skuld te gee dat verhoudings nie uitwerk nie, en dan ander opsies volg wat sy eie stel probleme skep, is dit beter om dit wat God vir ons gegee het, te maak werk. Dan weet ons ten minste dat ons in veiliger vaarwaters is en binne God se wil vir die lewe opereer.

Laastens, oor die vraag of daar ’n vloek rus op die kind wat buite die eg verwek is, kan ons kort wees. Ek dink uit bogenoemde oorsig oor die huwelik en saamwoonverhoudinge is dit duidelik dat God nie in woede en met vloeke op ons toesak die oomblik as ons buite sy wil optree nie. As dit so was, sou nie een van ons ’n kans by God gehad het nie. Nee, Psalm 130:3-4 sê duidelik: “As U ons sondes in aanmerking sou neem, Here, wie sou dan nog bestaan? Maar by U is daar vergifnis: daarom word U steeds gedien.” God vergewe veel liewer as wat Hy straf. En as Hy straf, laat Hy ons eintlik maar net aan ons eie dwase keuses oor waardeur ons onsself straf. God is maar te gretig om ons ons oortredinge te vergewe en weer terug te verwelkom by die huis. Dink maar aan die gelykenis van die verlore seun (Lukas 15:11-32), hoe die vader die seun wat sy goed met ’n losbandige lewe verkwis het, terug verwelkom by die huis en in ere herstel. Hiermee wil ek nie beweer dat iemand wat in ’n saamwoonverhouding leef presies met die verlore seun vergelyk moet word nie. Bogenoemde oorsig toon juis aan dat saamwoon as eietydse sosiale verskynsel vele kante het. Ek wil maar net die punt maak dat God ’n ruim en genadige hart het. Hy gaan nie ’n kind straf net omdat dié buite-egtelik verwek is nie. As dít die geval was, sou baie kinders wat in hierdie kategorie val, verskriklike ongelukkige lewens gehad het, en ons weet dis gewoon nie waar nie. Daar is talle voorbeelde van buite-egtelike kinders – of hierdie feit bekend was of nie – wat uitgestyg het in die samelewing. ’n Goeie voorbeeld in die Bybel is dié van die rigter, Jefta (Rigters 11). Hy was die seun van ’n prostituut en tog word hy ’n rigter van Israel. Daar word selfs gesê dat die Gees van die Here oor hom gekom het (11:29). En hoewel hy uiteindelik nie ’n ideale rigter was nie, was dit nie vanweë sy herkoms nie, maar omdat hy nie die verhouding met die Here ernstig geneem het nie. Feit van die saak is, hy het ’n gesiene persoon en soldaat geword, ongeag sy afkoms. Die Here is inderdaad nie ’n aansiener van die persoon nie, maar Hy aanvaar elkeen wat ontsag vir Hom het (Handelinge 10:34-35). Ons leef uit sy genade, maak nie saak hoe sleg – of goed – ons agtergrond is nie. God is meer geïnteresseerd in ons toekoms as ons afkoms. As ons hierdie feit daagliks in die geloof toe-eien en daaruit leef, kan ons alle seën van God verwag. Die ouerpaar met hulle buite-egtelike kindjie kan dus voluit leef in die versekering dat God se genade ook vir hulle en hulle kind genoeg is. Solank hulle net weet: God se genade láát jou nie soos jy is nie, maar verander jou na sy wil. Indien dit nie gebeur nie, verstaan jy nie wat genade is nie.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

You may also like...