Die seënuitsprake van Jesus (19)

image_pdfimage_print

Die seënuitsprake van Jesus (19)

In die begin van die bergrede lees ons dat Jesus teen die berg opgegaan het, gaan sit het en Hy het hulle geleer:

Geseënd is dié wat geestelik arm is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.

Geseënd is dié mense wat treur, want hulle sal die aarde erf.

Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.

 Geseënd is dié wat honger en dors na geregtigheid, want hulle sal versadig word.

Geseënd is die barmhartiges, want hulle sal barmhartigheid ontvang.

Geseënd is dié wat suiwer van hart is, want hulle sal God sien.

Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.

Geseënd is die mense wat vervolg word ter wille van geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.

Matteus 5:3 – 10 (Nuwe Testament en Psalms , Direkte Vertaling. Bybelgenootskap van Suid-Afrika. (2014).

Colin S. Smith het ‘n baie interessante boek geskryf oor die seënuitsprake van Jesus: Momentum -Pursuing God’s Blessings Trough the Beatitudes (2016).  Die boek sê wat ons kan doen om die momentum in die Christelike lewe wat ons almal soek, te kan kry. Ek gaan ‘n hele paar blogs aan hierdie boek spandeer.

 

Geseënd is dié wat suiwer van hart is, want hulle sal God sien.

‘n Mens wonder met reg van wie praat Jesus hier. Jesus voeg nog iets by wat vir ons onmoontlik klink: want hulle sal God sien. Moses wou ook vir God sien. God plaas hom in ‘n rotsskeur en maak hom met sy hand toe totdat Hy verby is. Dan sal God sy hand wegneem en Moses sou dan vir God van agter af sien (Eksodus 33:20). Die onmoontlikheid van hierdie twee dinge- om God te sien en rein van hart te wees- wys vir ons hoe ‘n groot Verlosser Jesus Christus is. Hy hou hierdie wonderlike belofte in sy hande.

 

Misverstande oor reinheid

Reinheid van hart beteken nie sondeloosheid nie. As dit so was, sou niemand ooit rein van hart kon wees nie, en niemand sou ooit vir God sien nie. Ons kan groei en vooruitgaan, maar niemand van ons kan ooit alles word wat God van ons vra nie. Johannes skyf aan gelowiges en sê vir hulle: As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie (1 Johannes 1:18). DIe Bybel praat van reinheid of heiligheid op verskeie maniere. Ons moet tussen hulle kan onderskei:

  1. Daar is die reinheid wat aan God behoort

By God op sy hoë troon was daar serafs om Hom te dien Hulle roep mekaar telkens toe: Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige (Jesaja 6:3). Hulle sê drie maal dat God heilig is, want sy reinheid is onvergelykbaar,

 

  1. Daar is die reinheid wat ons s’n sal wees in die hemel

Maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy al wees (1 Johannes 3:2). Ons sal die reinheid van ons Verlosser weerspieël.

 

  1. Daar is ‘n reinheid wat God wil hê dat ons nou moet najaag

Dit is die reinheid waarvan God in hierdie seënuitspraak praat. Reinheid in hierdie geval is nie volmaak nie. Waar daar ‘n verlange na reinheid en ‘n afsku van onreinheid is, dan is daar reinheid van hart.

 

Wat is reinheid van hart?

As reinheid van hart dan nie sondeloosheid beteken nie, wat beteken dit dan? Daar is twee antwoorde op hierdie vraag.

 

  1. Reinheid van hart is ‘n onverdeelde hart.

Tor Elia God se mense op Karmel-berg  bymekaargemaak het, vra hy vir hulle: Hoe lank hou julle aan met hink op twee gedagtes. As die Here God is; volg Hom, maar as dit Baäl is, volg hom (1 Konings 18:21). Hulle wou die seëninge van God gehad het terwyl hulle voortgaan met dieselfde sondes. Dit gebeur as jy jou nooit volledig aan Christus gee nie. ‘n Rein hart is ‘n onverdeelde hart. Soren Kierkegaard het ‘n boek met die wonderlike titel Purity of Heart is to Will One Thing geskryf. Die teenoorgestelde van ‘n rein hart is huigelary. Die psalmis skryf; Leer my u pad, Here, ek wil wandel in u waarheid; leer my U met toewyding dien (Psalm 86:11). Paulus gee vir ons ‘n blik op sy najaag van ‘n rein hart: Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus (Filippense 3:13 – 14). Let op reinheid beteken nie dat Paulus reeds volmaak is nie. Hy stel dit duidelik: Ek sê nie dat ek dit alles al het nie en die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak (3;12).

 

Reinheid van hart is nie dit wat ons bereik het nie, maar dit wat ons nastreef en hoe ons dit nastreef. Dit gaan oor ‘n enkelvoudige doel (maar een ding doen ek).

 

Reinheid van hart is ‘n hart wat vergewe is

As ek in Jesus Christus glo, word Jesus Christus myne en ek word syne. In hierdie eenheid ontvang ek twee wonderlike gawes. Die eerste een is vergifnis – God laat vaar alle aanklagte teen my en versoen my met Homself: ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op Hom laat afkom (Jesaja 53:6).  God sal nooit betaling eis vir sonde wat reeds betaal is nie. ‘n Christen se vertroue voor God in lewe en dood berus nie op sy lewe nie. Nee, dit berus op God se karakter wat getrou en regverdig is en op die werk van ons Verlosser wat ons geregtigheid beseël het deur ons skuld aan die kruis met sy bloed betaal het.

 

2,   ‘n Skoongewaste hart

Vergifnis en skoon was hoor bymekaar. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig. Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid (1 Johannes 1:9). Diegene wat God vergewe reinig Hy ook. Hierdie twee seëninge behoort aan diegene wat in Christus is. Daar is ‘n verskil tussen hulle: vergifnis en versoening gebeur eenmalig in Christus, maar reiniging het ons op ‘n voortdurende basis nodig.

 

Baie mense sukkel om te glo dat God kan reinig. Daarna kyk ons volgende keer.

 

 

 

image_pdfimage_print