Die seënuitsprake van Jesus (20)

image_pdfimage_print

Die seënuitsprake van Jesus (20)

In die begin van die bergrede lees ons dat Jesus teen die berg opgegaan het, gaan sit het en Hy het hulle geleer:

Geseënd is dié wat geestelik arm is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.

Geseënd is dié mense wat treur, want hulle sal die aarde erf.

Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.

 Geseënd is dié wat honger en dors na geregtigheid, want hulle sal versadig word.

Geseënd is die barmhartiges, want hulle sal barmhartigheid ontvang.

Geseënd is dié wat suiwer van hart is, want hulle sal God sien.

Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.

Geseënd is die mense wat vervolg word ter wille van geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.

Matteus 5:3 – 10 (Nuwe Testament en psalms , Direkte Vertaling. Bybelgenootskap van Suid-Afrika. (2014).

Colin S. Smith het ‘n baie interessante boek geskryf oor die seënuitsprake van Jesus: Momentum -Pursuing God’s Blessings Trough the Beatitudes (2016).  Die boek sê wat ons kan doen om die momentum in die Christelike lewe wat ons almal soek, te kan kry. Ek gaan ‘n hele paar blogs aan hierdie boek spandeer.

 

Baie mense glo dat God kan vergewe, maar sukkel om te glo dat God kan reinig. Hoekom? Hulle dra te veel bagasie uit hulle verlede saam met hulle. Ons moet sulke mense help dat hulle Christus se vermoë om hulle gedagtes en harte te kan reinig, raak te sien.  As jy dit nie aanvaar nie ken jy nog nie die Christus van die Bybel wat was, skoonmaak en reinig nie. Hierdie Christus reinig deurmekaar gedagtes en jy begin hoop as jy vertrou dat hierdie Verlosser jou hart sal reinig. Dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos (Matteus 1:21), Wat beteken dit? Ons sondes sluit in gewoontes en patrone van denke en gedrag. Christus het gekom om ons van ons sondes te verlos en van die mag wat die sondes oor ons het. Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee (Titus 3:5).  God verlos ons deur ons te was. Hy was ons gedagtes en maak ons hart nuut. Dit beteken dat Hy aan jou nuwe belangstellings, nuwe energie en nuwe neigings gee. Met verloop van tyd haat jy die sonde wat jy eens liefgehad het.                                                       Soos Christus jou hart was, gee Hy ‘n nuwe liefde in jou hart vir Hom, ‘n nuwe belangstelling in sy Woord, sy mense en sy diens.

 

Hoe beweeg ons vorentoe? Die begin van geloof is om te sê: As ek in Christus is en Hy in my, glo ek dat Hy my hart kan reinig. God het die gewelddadige en godslasterlike hart van Saulus van Tarsus verander. As Hy dit vir hom kon doen, kan Hy dit sekerlik vir jou ook doen.

 

God doen die werk van reiniging en heiligmaking, maar Hy roep ons om aktief betrokke te wees in die proses. Daar is ‘n onderskeid wat ons moet verstaan. Met vergifnis kom ons met leë hande na die Here. In geloof ontvang ons ‘n geskenk wat Christus vir ons aanbied. As gelowige in God het jy nie meer leë hande nie. God se Gees leef in jou. Jy het ‘n nuwe hart. God plaas jou in ‘n posisie waar, deur sy genade en in sy krag jy in staat is om op te tree. In justification, our own works have no place at all, and simple faith in Christ is the one thing needful. In sanctifcation our own works are of vast impotance and God bid us fight, and watch, and pray, and strive, and take pains and labour (Biskop Ryle).  God roep ons op om pro-aktief te wees in ons najaag van reinheid. Nader tot God en Hy sal tot julle nader.  Was julle hande, sondaars,  en reinig julle harte, huigelaars (Jakobus 4:8). Let wel dat God tot ons nader, maar ons moet ons hande was en ons harte reinig. Paulus sê basies dieselfde in 2 Korintiërs 7:1. God gee sy belofte aan ons en deur sy belofte het ons hoop. Maar God roep ons om in sy belofte op te tree. Petrus sê: Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het … (1 Petrus 1;22).  Die najaag van reinheid is  ‘n proses waar God jou oproep om aktief betrokke te wees.

 

In die volgende blog gaan ons kyk na ‘n aantal praktyke wat reinheid van hart bevorder.

 

 

 

image_pdfimage_print