Doop met die Heilige Gees – Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

Jattie vra

Wat beteken dit om gedoop te wees met die Heilige Gees? Volgens my ontvang ek die Gees van die Here wanneer ek tot bekering kom. Ons gemeente staan sterk daarop dat jy gedoop moet wees met die Heilige Gees, en ek verstaan dit nie.
Ek het nog niemand gekry wat dit vir my so kon verduidelik dat ek dit verstaan het nie. As dit ’n bonus is as kind van God wil ek dit nie misloop nie, maar ek wil nie hê dit moet so ’n obsessie word dat dit my verhouding met die Here beïnvloed nie.

Antwoord

Pof Hermie van Zyl antwoord:

Om hierdie vraag na behore te antwoord, is dit nodig om allereers ’n bietjie op die verskillende verstaanstradisies rakende die doop met die Heilige Gees in te gaan.

Verskillende verstaanstradisies

In sommige charismatiese kringe word die doop met die Heilige Gees as ‘n noodsaaklike “second blessing” voorgestel. Bo en behalwe dat jy glo in Jesus Christus moet jy ook met die Gees gedoop word voordat jy ‘n ware (of geseënde) gelowige kan wees. Dit is veral tekste soos Hand 2:38 en 8:14-17 wat ingespan word vir die gedagte dat geloof en bekering, enersyds, en doop met die Gees, andersyds, twee afsonderlike gebeure is; geloof moet opgevolg word deur die doop met die Gees. En as bewys van laasgenoemde dien besondere ervarings soos byvoorbeeld tongespraak, of ander ekstatiese belewings.

As antwoord hierop – en soms as heftige reaksie daarteen – het kerke van gereformeerde karakter tradisioneel ‘n onderskeid tussen die doop en vervulling met die Heilige Gees getref. Eersgenoemde sou dan na die uitstorting van die Gees op die pinksterdag in Jerusalem as ‘n eenmalige handeling verwys, en laasgenoemde na die voortgaande werking van die Gees in die lewe van gelowiges. Om die doop met die Heilige Gees mag dus nie meer gebid word nie. Ons moet ‘n “streep” ná die gebeure op die pinksterdag trek, en so ook ná die sigbare, ekstatiese tekens waarmee dit gepaard gegaan het. (Om hierdie rede word gereformeerdes soms van ’n “streep”-teologie beskuldig.) Maar om die vervulling met die Heilige Gees as ‘n voortgaande gebeure – sónder die sigbare, ekstatiese tekens – móét die gelowige bid. Want so lê God al meer beslag op jou lewe en kom die vrug van die Gees (Gal 5:22) na vore wat die bewys lewer dat die gelowige deur die Gees van God beheers word.

Bybelkundige gegewens

Ontleed ons egter die Bybelse gegewens, sien ons dat in Handelinge daar nie ‘n groot verskil is tussen die terme “doop” met, “uitstorting” van, en “vervulling” met die Heilige Gees, of dat die Gees oor mense “kom” of op hulle “val” nie. Hulle kan nie netjies gesistematiseer word in terme van “doop” met die Gees wat net na die pinksterdag sou verwys en “vervul” met die Gees wat na die voortgaande werking van die Gees sou verwys, soos wat die gereformeerde standpunt dit wil hê nie. Maar eweneens kan “doop” met die Gees ook nie verbind word aan ’n “second blessing”, soos wat die charismatiese tradisie dit wil hê nie. Hoe sien die gegewens in Handelinge daaruit?

In Hand 1:5 wys Jesus vooruit na die pinksterdaggebeure as “doop” met die Heilige Gees. Op die pinksterdag self word egter gesê dat almal met die Heilige Gees “vervul” is (2:4). In 2:17-18,33 word oor dieselfde gebeure weer as die “uitstorting” van die Heilige Gees gepraat (vgl ook 10:45-46). Hand 1:8 verwys daarna as ‘n “kom” van die Heilige Gees oor die dissipels, en in 11:15 “val” Hy op die aanwesiges soos op die gelowiges tydens die pinksterdaggebeure (die 1983-Vertaling vertaal “val” met “kom”). Daar word dus met ten minste vyf verskillende terme na dieselfde pinksterdaggebeure verwys.

Die res van die Nuwe Testament dra nie werklik by tot die verdere verstaan van die term “doop” met die Heilige Gees nie. Laasgenoemde kom slegs voor in kontekste wat na die pinksterdaggebeure verwys (vgl Matt 3:11 en die parallelle gedeeltes Mark 1:8; Luk 3:15; Joh 1:33; kyk ook Hand 11:16), of na die waterdoop (1 Kor 12:13) of na die doop in die Naam van die Drie-enige God (Matt 28:19). Laasgenoemde teks hou streng-tegnies nie met ons onderwerp verband nie.

Wat die term “vervul” met of “vol” van die Heilige Gees betref, kom dit op een uitsondering na (Ef 5:18) slegs in Lukas-Handelinge voor (Luk 1:15,41,67; 4:1, Hand 2:4; 4:8,31; 6:3,5; 7:55; 9:17; 11:24; 13:9,52). Dit is dus ‘n tipiese term van Lukas wat nie in die res van die Nuwe Testament weerklank vind nie. En waar “vervul” wel in Ef 5:18 gebruik word, kom dit as ‘n opdrag aan gelowiges voor: “word vervul met die Heilige Gees”, of, soos die 1983-Afrikaanse Vertaling dit weergee: “laat die Gees julle vervul”. Dit is dus enersyds ’n verantwoordelikheid wat gelowiges aanvaar om hulleself voortdurend onder die invloed van die Gees te stel, maar die passiewe vorm waarin die opdrag gestel word dui andersyds ook daarop dat dit iets is wat net die Gees kan bewerkstellig. Slegs Hy kan ’n mens se lewe so verander dat jy God met jou lewe loof (5:19-20) en ook jouself tot beskikking stel van ander (5:21).

Dit moet ook genoem word dat die saak rondom die doop en vervulling met die Heilige Gees uiteindelik nie net oor die terme “doop” en “vervulling” kan gaan nie. ‘n Vlugtige ondersoek toon dat ‘n ryke verskeidenheid van terme in die Nuwe Testament na die werk van die Heilige Gees in die lewe van die gelowige verwys. Ek noem die volgende (sonder om die lys uit te put): Die Heilige Gees salf, word gegee, rus toe, beseël, voer mee, leer, lei, besny die hart, beheers, bevry, bring lewe en vrede, woon in, getuig met ons gees, wek liefde, sonder af, bly op/in. En die gelowige ontváng (as gawe), hét, en is/word gebore uit die Gees.

Dit begin nou duidelik word dat dit ‘n oorvereenvoudiging van die gegewens is om die werk van die Heilige Gees in die gelowige te laat opgaan in die terme “doop” en “vervulling”, en in ‘n bespreking van die onderskeid tussen die twee. Verder, hoewel dit lyk asof die tradisionele gereformeerde siening dat die doop met die Heilige Gees slegs na die pinksterdaggebeure verwys, ondersteun word deur die feit dat “doop” met die Gees vir alle praktiese doeleindes slegs in Handelinge voorkom, en dan spesifiek as beskrywing van die pinksterdaggebeure, is die saak van die doop met die Gees daarmee nie afgehandel nie. Want hierbo is reeds daarop gewys dat “doop” nie die enigste manier is waarop na die pinksterdaggebeure verwys word nie. Ten minste “uitstort”, “kom”, “val” en “vervul” word ook daarvoor gebruik. En wat “vervul” betref moet ook gesê word dat hierdie term, wat volgens die gereformeerde siening vir die voortgaande werking van die Heilige Gees “gereserveer” word, in Handelinge juis ten opsigte van die eenmalige pinksterdaggebeure gebruik word (2:4). In 4:31 word “vervul” ook vir gebeure gebruik wat sterk herinner aan die pinksterdag. Die terme word dus nie in sulke netjiese kompartemente aangetref soos tradisioneel voorgestel nie.

Sover wat betref ’n analise van die Bybelse terminologie wat na doop en vervulling met die Heilige Gees verwys. Kom ons probeer vervolgens die gegewens interpreteer binne ’n breër teologiese raamwerk.

Breër teologiese raamwerk

Allereers moet ons sê dat die pastorale oogmerke van die gereformeerde “streepteologie” ‘n element van waarheid bevat wat nie geïgnoreer kan word nie. Dit was kennelik daarop gemik om die eensydige aansprake en rigiede voorskrifte waarmee die Geestesdoop partykeer in sommige charismatiese kringe beoefen is, teen te werk. Maar dit was en mag nooit die bedoeling wees om die werk van die Gees te dwarsboom nie, hoewel dit soms daardie persepsie kon laat ontstaan het. Daar kan tog geen twyfel wees nie dat God se Gees volledig van elke gelowige besit wil neem. Hy wíl ons beheer en beheers. Die hele oogmerk van die Gees is om gelowiges aan God en aan mekaar te bind, asook toe te rus en te bekragtig vir hulle taak in die kerk en in die wêreld (Hand 1:8). Gelowiges moet inderdaad die beeld van Christus vertoon deur die vrug van die Gees in hulle lewe na vore te bring: Selfbeheersing, vreugde, vrede, geduld, liefde, ensovoorts (Gal 5:22-23).

Uit die voorafgaande behoort dit duidelik te wees dat die verhouding met God nie iets staties is nie. Net soos dit natuurlik vir ‘n kind is om tot volle wasdom te groei, selfs oud en wys te word, so is dit in die verhouding met God. Dis ‘n lewenslange en dinamiese groeiproses waar daar baie struikel en val, opstaan en loop, selfs hardloop en “vlieg” is. Daar moet ingegroei word in die verhouding met God. As daar nie groei is nie, kan tereg gevra word of daar nie êrens iets skort nie. Let wel: “groei” het niks te make met ‘n vals optimisme en triomfantelisme waar alles net beter en beter word nie. Lyding, swaarkry en aanvegtinge is so dikwels deel van die groeiproses. Hier kan ons slegs verwys na Jesus se lydensweg en Paulus se ontberinge waarvan hy so graag ontslae wou wees (2 Kor 12:7-10).

As ons sê dat die verhouding met God ’n groeiproses is, kan ons ‘n God- en ‘n mensfaktor onderskei. Ons let vervolgens op elkeen.

  • Die God-faktor

Allereers moet ons sê dat God nie gemanipuleer kan word nie. Daar is geen tegniek of towerformule waarmee God se arm “gedraai” kan word om Homself vir jou te gee nie. Dit moes Simon die towenaar al tot sy skade uitvind (Hand 8:18-19). Gód bepaal die tye en geleenthede wanneer Hy in die besonder werk. Daar was tye in Israel se bestaan toe God deur die begenadiging van besondere mense sy volk gelei het. En toe die volheid van die tyd gekom het, stort God sy Gees mateloos op die kerk uit om hulle toe te rus vir die opbou- en uitboutaak wat voorgelê het. En so kan dit deur die geskiedenis aangetoon word hoe God deur sy Gees telkens nuwe stimulus, visie en insig gee sodat die kerk God se wil vir ‘n spesifieke tyd weer helder kan sien en uitvoer. Die belangrike punt hier is dat Israel en die kerk nie altyd bewus was van die behoefte aan ’n nuwe visie of dat hulle nood het aan God se kragtige werking nie. Dit lê ten diepste vas in God se raad en wysheid, wat die tye in sy hand hou, om daardie momente te bepaal. Weer eens lei dit tot die konklusie dat ons God nie kan manipuleer nie. Ons kan Hom nie in optredes “inbid” waarvoor Hy die tyd nog nie voorberei het nie. Hierdie insig bring rustigheid in die kerk en individuele gelowiges se lewe. God ken ons tye en omstandighede deur en deur, beter as onsself. Hy weet wanneer om nuwe visie, moed en krag – selfs bó wat ons vra of op hoop – te gee. Daarvoor kan ons Hom vertrou.

  • Die mensfaktor

Dit wil lyk of God Hom in sy vrymag ook aan menslike resepsie en sensitiwiteit bind. God gee Hom graag daar waar Hy welkom is. Natuurlik moet hierdie aspek nie verabsoluteer word nie, maar dit is so dat God se Gees bedroef en teengestaan kan word (Ef 4:30; 1 Tess 5:19). Punt is, die mate waarin en die wyse waarop die werking van God se Gees ervaar word, hang ook saam met menslike gehoorsaamheid en sensitiwiteit vir die roeringe van God se Gees, en selfs ook met verskillende persoonlikheidstipes. Sommige mense is “van nature” meer vertrouend en gee hulleself makliker vir ander (en vir God) in ’n verhouding; ander is meer terughoudend. Sommige is meer gevoelsmatig ingestel, ander meer verstandelik-krities. Hierdie insigte verklaar ten dele waarom daar soveel verskillende belewings van die één God is. Vir almal is daar egter ’n plekkie onder God se son.

Iets van hierdie verskillende belewings van God vind ook neerslag in sekere Skriftradisies. So is daar die wysheidstradisie (veral Spreuke) wat ‘n baie nugter, plat-op-die-aarde ingesteldheid tot die lewe verteenwoordig. Die klem is op die praktiese lewenskuns – hoe om in hierdie lewe met sy verskillende kante, met insig en wysheid op te tree. Maar daar is ook die profeties-charismatiese tradisie waar die visioenêre, simboliese, ekstatiese, buitengewone, selfs die eienaardige en bisarre, vooropgaan. Baie van die profete se optredes in die Ou Testament doen nie net vandag vreemd aan nie, maar is ook destyds so beleef. So moes Jesaja vir drie jaar kaal rondloop om te demonstreer hoe die Egiptiese ballinge kaal weggevoer sou word (Jes 20:2-4). Hieruit moes Israel die boodskap kry dat dit dwaas sou wees om op Egipte te vertrou. Jeremia moes weer met ‘n juk op sy nek rondloop as simbool van Israel se komende onderhorigheid aan Babel (Jer 27:2; 28:1-17). En Esegiël moes vir 390 dae lank op sy linkersy en vir 40 dae op regtersy lê om simbolies die neerdrukkende sondelas van Israel en Juda voor te stel (Eseg 4:4-6). Oor die algemeen was die “profete-professie” nie altyd in hoë aansien onder die volk nie, onder andere vanweë hierdie vreemde optredes. Hulle is dikwels as “malles” gebrandmerk (vgl 2 Kon 9:11; Jer 29:26; Hos 9:7). Natuurlik was daar ook die vals profete wat met hulle eksentrieke optredes wou aandag trek en geld maak (vir laasgenoemde kyk ‘n Nuwe Testament-voorbeeld, Hand 8:18-19). Maar dit neem nie weg nie dat ook die ware profete deel van hierdie tradisie was.

Die punt is dat beide die wysheids- en (egte) profeties-charismatiese tradisies outentieke manifestasies van die Gees van God verteenwoordig. Ons mag daarom nie in rigiede voorskriftelikheid na die een of ander kant toe verval nie. Vir almal geld die eis tot volledige oopstelling vir die werking van God se Gees. Maar hoe dit beleef sal word, hang van die genoemde God- en mensfaktor af. In elk geval is dit so dat ons dit nie met ‘n verwysing na die onderskeid tussen doop en vervulling met die Gees kan “reguleer” nie. Veral nie as hierdie onderskeiding die bedoeling het om ‘n streep na die pinksterdaggebeure in Jerusalem te trek nie. Want of die Gees Hom met allerlei sigbare tekens manifesteer (die sogenaamde doop met die Gees) of stil- en gaandeweg van iemand besit neem (die sogenaamde vervulling met die Gees), dit bly dieselfde Gees aan die werk. En wat die sigbare tekens betref, waarom net die meer ekstatiese uitsonder? Ten minste Hand 4:31; 6:3,10 wys dat Geesvervuldheid ook met vrymoedige getuienislewering, barmhartigheid en kragtige redeneervermoë gepaard gaan.

Vir sommige mag die resultaat van die oopstel en ruimte maak vir God, die nadergroei na Hom toe, inderdaad soos ‘n “second blessing” voel, soos ‘n tweede gawe, soos ‘n toegevoegde waarde tot hulle lewe, ja, soos ‘n “Geestesdoop”. Die kontras tussen die vorige en die nuwe lewe saam met God kan baie skerp ervaar word, in so ‘n mate dat dit vir iemand mag voel asof hy/sy voorheen nie ‘n ware gelowige was nie. Dit mag in bepaalde gevalle inderdaad so wees, maar dit beteken nie noodwendig dat so iemand voorheen ongelowig of verlore was nie. Dis net dat die kontras so oorweldigend ervaar word dat dit so voel. Maar selfs al word die oorgang tussen die “oue” en die “nuwe” as ‘n bruisende stroomversnelling beleef, moet daar noodwendig weer in kalmer waters gevaar word. Ander (die meeste?) ervaar die oopstel vir die Heilige Gees nooit as ‘n radikale breuk met die voorafgaande lewe nie, maar eerder as ‘n geleidelike oormeestering of beïnvloeding waar Hy algaande jou lewenskoers verander, jou beheer, lei, onderrig en bevry van baie wanpersepsies oor God en oor ander mense, sonder enige noemenswaardige buitengewone belewenisse.

Uiteindelik geld vir almal dieselfde reël: dat ons meer mens sal word na God se hart, volgens die beeld van sy Seun; dat vrede, barmhartigheid en diensvaardigheid ons lewe sal versier. Bo alles, dat die liefde soos ‘n reënboog al ons lewensuitinge sal oorspan, want daarsonder is ons net leë blikke wat geraas maak (1 Kor 13:1), maak nie saak op watter manifestasies en gawes van die Gees jy kan roem nie. Immers, van alle gawes is die liefde die grootste (1 Kor 13:13).

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

You may also like...