Duiweluitdrywing en – bevryding – Vraag

image_pdfimage_print

Duiweluitdrywing en – bevryding – Jan van der Watt

Vraag:

Erika het aan ons heelparty dokumente gestuur oor duiweluitdrywing en bevryding. Haar spesifieke vraag gaan oor ‘bevryding’ van bose geeste en verder die maniere waarop dit gedoen word en hoe daar gereageer word (mense val neer, of krul op die grond, ens.). 

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Erika noem dat sy die artikel oor ‘duiwelbesetenheid’ op www.bybelkennis.co.za gelees het. Wat daar gesê is, gaan nie weer hier herhaal word nie. Ons moet tog die volgende in gedagte hou:

a)    Christene kan nie deur bose geeste in besit geneem word nie – hulle kan nie in Christene woon nie, want dit is die Heilige Gees se plek. Die Gees deel nie sy ‘huis’ met ʼn bose gees nie. Dit beteken dat die gedagte dat bose geeste uit GELOWIGES uitgedryf kan word, nie Bybels of teologies reg is nie.

b)    Gelowiges kan wel in die strikke van die duiwel land. Die duiwel is listig en soos ʼn wolf in skaapsklere verlei hy mense en laat hulle in sy strikke val. Dit beteken nie hulle is van binne deur die duiwel besete nie, maar dat die duiwel hulle van buite in ʼn strik lok. Sonde raak hulle baas, sou ʼn mens kon sê. In sulke gevalle kan gebed en handoplegging as teken dien dat die gemeenskap van gelowiges die persoon wat in sonde vasgevang is, wil help. Dit mag ʼn positiewe ervaring vir die persoon wees, om te besef dat daar ʼn pad van oorwinning oor die sonde is.

c)    Ons moet oppas vir suggestie, met ander woorde, dat iemand vir my sê dat ek ʼn demoon het, en later glo ek die persoon en dink ek ook dat wat ek voel of ervaar van ʼn demoon af kom. Dan sal ek ook maklik dat iemand die ‘demoon’ uit my uitdryf.  Intussen mag daar heeltemal ʼn ander rede wees waarom ek voel soos ek voel. Waar die moderne wetenskap ons vandag help, is om dinge wat party mense sommer aan demone toeskryf, in die regte perspektief te plaas en te wys dat daar mediese redes voor is. Ons moet dus versigtig wees voordat ons mense glo wat sommer sê dat hulle ʼn klomp demone uit ons wil jaag, veral as ons gelowig is. ʼn Goue les hier is, wees liewer te swaargelowig as te liggelowig in hierdie geval. 

d)    Bose geeste kan egter wel in mense wat nie glo nie, inkom en hulle in besit neem. Die Bybel vertel vir ons van die duiwel wat rondswerf en dan in ʼn leë huis (waar God en sy Gees nie is nie) gaan bly.

Dit bring ons by die tweede faset van Erika se vraag. Hoe word dit gedoen? Nie alle kerke dryf demone uit nie. Daar is wel sekere Christelike groepe wat baie maak van demoonuitdrywing. Soos bo gesê, kan daar demone uit ongelowiges uitgedryf word, maar as dit by gelowiges kom, is dit anders. ʼn Mens moet egter versigtig wees vir een ding wat maklik kan gebeur: dat die duiweluitdrywings ʼn vertoning word waarop geloof dan gebou word, met ander woorde, kyk ons dryf duiwels uit en daarom kan julle ons maar glo, want God se krag is by ons (en daarmee implisiet nie by ander nie). Die Bybel is baie teen ander rotse, behalwe die Rots van Jesus, waarop ons ons geloof wil bou. Duiweluitdrywings word soms deur groepe gebruik om te wys dat hulle krag het en dat die Here deur hulle werk. Sodra dit die onderliggende dryfveer van die proses word, moet die rooi ligte aangaan. Hoewel ʼn mens ook nie mag veralgemeen nie, is dit tog belangrik om net te noem dat groepsdruk, suggestie en selfs hipnose mense soms snaakse dinge kan laat doen.

Outeur: Prof Jan van der Watt

image_pdfimage_print