Eindtyd – Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

Michele vra

Boodskapteks: Volgens wat die Bybel sê, is ons blykbaar in die laaste sewe jaar tot Jesus weer kom. Beteken dit dat ons nou al in die tribulasietyd (= groot verdrukking) is? Kan mos nie wees nie, want die wegraping moet eers plaasvind. Kan u asb verduidelik?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die vraagsteller gaan klaarblyklik uit van die sogenaamde chiliastiese of millennialistiese standpunt waarvolgens sekere Bybeltekste binne ‘n bepaalde skema van eindtydelike gebeure geïnterpreteer word. Ek skets kortliks die chiliastiese standpunt, en stel dan my eie standpunt, waarby ek hoop die vraagsteller baat sal kan vind.

Die Chiliasme

Ek wil graag die vraagsteller uitnooi om ons webblad – www.bybelkennis.co.za – te besoek en daar méér oor die chiliasme te lees as wat ek hieronder kan gee. Op genoemde webblad is daar ‘n baie goeie stuk van prof Adrio König wat breedvoerig oor die chiliasme en die wegraping handel. Tik die volgende woorde in by jou soekenjin: http://www.bybelkennis.co.za/die-groot-geloofswoordeboek-die-eindtyd/. Dit behoort jou by die betrokke artikel uit te bring. Wat ek hieronder bied, is ‘n baie vereenvoudigde weergawe van die chiliasme en is net afgestem op die vraag van die vraagsteller.

Die woord chiliasme is afgelei van die Griekse woord chilioi wat 1 000 beteken. En millennialisme is weer afgelei uit twee Latynse woorde, mille wat 1 000 beteken, en annus, jaar. Beide die begrippe “chiliasme” en “millennialisme” verwys dus na dieselfde saak. Hiervolgens sal Christus eers vir ‘n tyd lank (1 000 jaar) op aarde regeer waarna die finale koms van die koninkryk van God plaasvind. Daar is dus eintlik ‘n dubbele wederkoms van Christus in hierdie siening vervat: die eerste by die sogenaamde wegraping van die gelowiges waarop, ná ‘n tyd van verdrukking, die duisendjarige vrederyk op aarde volg, en daarna wanneer Christus kom om die bose finaal te vernietig en die koninkryk van God te vestig. My aanvoeling is dat die vraagsteller haar breedweg by hierdie standpunt skaar.

Ondersteuners van die chiliasme huldig nie almal dieselfde siening oor presies hoe die eindgebeure chronologies verloop nie. Wat ek hier onder voorhou, is volgens die premillenniastiese standpunt, wat die gewildste chiliastiese voorstelling van die eindtydelike gebeure is. Dit kom op die volgende neer: Openbaring 20:1-10, waar gehandel word oor die duisendjarige vrederyk, word gepaar met die sogenaamde wegraping wat na bewering in 1 Tessalonisense 4:13-18 voorkom. Hierdie twee stelle gegewens word dan so met mekaar verbind dat die “wegraping” van gelowiges eers plaasvind. Hulle ontmoet Christus in die lug, word geoordeel, en vier saam met Hom die  bruilof van die Lam (Op 19). Hierna breek die groot verdrukking aan, wat groot ellende vir die bewoners van die aarde meebring. Vervolgens word die Satan gebind, en dan breek die duisendjarige vrederyk op aarde aan waar Christus die wêreld regeer (Op 20:1-6). Ná hierdie tydperk word die duiwel weer vir ‘n kort rukkie losgelaat om sy verwoestingswerk voort te sit (Op 20:7-9), waarop die vernietiging van die Satan en die bose magte, die opstanding en oordeel van die ongelowiges volg, en die nuwe hemel en aarde aanbreek (Op 20:9-21:8).

Die chiliasme word dikwels ook verbind met die sogenaamde dispensasionalisme. Dit hou in dat die wêreldgeskiedenis in verskillende dispensasies of tydperke ingedeel word, waarvan die laaste tydperk die duisendjarige vrederyk is. Maar waar pas die groot verdrukking in? Dié kom net voor die duisendjarige vrederyk. Die groot verdrukking word afgelei uit Daniël se profesie van die sewentig “jaarweke” of tydperke in Daniël 9:20-27, wat opgebreek word in 7 + 62 + 1 tydperke (Dan 9:25-26). Elke tydperk beloop sewe jaar. Volgens die berekening wat begin met die bevel van koning Kores, die Pers, in 538 vC om Jerusalem te herbou, bring die eerste 69 tydperke (7 + 62) ons min of meer uit by die tyd van Christus, wat dan nog een onvervulde tydperk van sewe jaar laat. En dié word gesien as die tyd van die groot verdrukking wat nog êrens in die toekoms moet plaasvind. Laasgenoemde word weer in verband gebring met die profesieë van Jesus in Matteus 24 wat praat van die groot verdrukking, ‘n tyd waarin daar natuurrampe sal wees, die antichris sal optree, mense nie sal kan koop en verkoop as hulle nie die merk van die dier het nie (Op 13:17), en daar in die algemeen groot ellende vir almal sal wees (Matt 24:3-28). Sommige chiliaste sê ook dat dié tyd opgebreek word in twee tydperke van twee en veertig maande (= drie en ‘n half jaar) elk, volgens die woorde van Openbaring 13:5. Vergelyk ook Daniël 7:25 se “vasgestelde tyd”, wat letterlik ” ‘n tyd, tye en die helfte van ‘n tyd” is, wat weer gelyk is aan drie en ‘n half jaar.

Ter opsomming kan mens dus sê dat die chiliastiese standpunt oor die eindtyd die volgende volgorde van gebeure voorstel: Wegraping van gelowiges, groot verdrukking (sewe jaar), binding van die Satan, duisendjarige vrederyk, ontbinding van die Satan ná die millennium, vernietiging van die bose en sy engele, opstanding van en oordeel oor die ongelowiges, en die koms van die nuwe hemel en aarde.

Vervolgens stel ek my eie standpunt oor die eindgebeure, wat ook min of meer die hoofstroomdenke onder Bybelwetenskaplikes verteenwoordig.

Eie standpunt

  • Die Bybelse gegewens oor die eindtyd verplig my nie om iets soos die chiliastiese standpunt te aanvaar nie. Daarom aanvaar ek ook nie die wegraping van gelowiges, die sewejarige groot verdrukking of die duisendjarige vrederyk soos dit tipies in die chiliasme voorgestel word nie.
  • Die aanname dat ‘n wegraping sal plaasvind, lei noodwendig tot die aanvaarding van twee wederkomste van Jesus – eers met die wegraping en dan die finale wederkoms. Maar die Bybel praat nêrens van twee wederkomste nie. Dit is die chiliaste wat telkens tekste wat handel oor die wederkoms interpreteer as sou dat dit op die wegraping slaan. Maar dis onnodig, daar is geen uitlegkundige noodsaak om daardie tekste as “wegraping” te interpreteer nie; dit handel gewoon oor die een wederkoms van Jesus aan die einde van die tyd. (Vir ‘n breedvoeriger hantering van die argumente, kyk prof König se artikel waarna aan die begin verwys is.)
  • Die aanvaarding van die sewejarige verdrukking lewer eweneens probleme op. Eerstens, dit is gewoon willekeurige en spekulatiewe uitleg om Daniël 9 se gegewens te gebruik om ‘n uitgebreide en ingewikkelde dispensasieteorie op te stel waarvolgens die 69e week saamval met die tyd van Jesus, en dan die laaste tydperk van sewe jaar te laat slaan op êrens in die toekoms. In elk geval, dit is slegs met taamlik “kreatiewe” berekening dat die 69e week saamval met Jesus se tyd. Geleerdes is dit eens dat die 69e week volgens Daniël se eie berekenings saamval met die sluipmoord op die hoëpriester Onias III in 171vC, en die 70e week op die verdrukking van die Jode onder Antiogos IV Epifanes in 167 vC. Tweedens, die bymekaarbring van ‘n hele klomp tekste (waaronder Matteus 24) as sou dit ‘n aanduiding van die sewejarige tydperk van die verdrukking wees, doen ook willekeurig en geforseerd aan en hou nie rekening met die betekenis daarvan in Matteus en die ander Bybeltekste self nie. Derdens, hoe weet mens wanneer hierdie tyd van verdrukking begin? Wie besluit daaroor? Chiliaste self is vaag oor wanneer die sewe jaar van eindtydelike verdrukking aanbreek. Ons vraagsteller lyk my gaan gewoon uit van die veronderstelling dat ons reeds in die sewejarige verdrukking is, en is dan tereg bekommerd daaroor dat die wegraping nog nie eens plaasgevind het nie. Dit is geweldig spekulatief om so met Bybelse gegewens om te gaan. Mense wat in die verlede hulle hand gewaag het aan sulke berekenings het telkemale bedroë daarvan afkom. En dit maak net ‘n hele klomp gelowiges onrustig en selfs beangs. In elk geval waarsku Jesus ons teen berekenings. Hy sê baie duidelik dat niemand weet wanneer dié tyd kom nie (Matt 24:36). Ons moet dus wegbly van berekenings. Die sogenaamde tekens van die tyd is nie gegee vir berekenings nie, maar vir bekering, vir waaksaamheid, vir altyd-gereed-lewe (Matt 24:42). Dit is daarom beter om hierdie voorbeelde van verdrukking wat in die Bybel voorkom, nie te misbruik vir eiewillige en willekeurige teorieë oor wanneer en in watter volgorde die eindgebeure gaan plaasvind nie. Die verdrukkings waarvan die Bybel praat het nog altyd in die wêreld se geskiedenis voorgekom. Wanneer ons dus sien dat die tye boos is – en hulle ís boos – moet ons nie begin somme maak nie, maar waaksaam lewe. Want die einde kan enige dag kom, soos ‘n dief in die nag. Dís die boodskap van hierdie tekens in Matteus 24, en waar dit elders ook voorkom.
  • Om ‘n letterlike duisendjarige vrederyk te aanvaar wat nog êrens in die toekoms lê, is eweneens nie die beste manier om met hierdie gegewens in Openbaring om te gaan nie. Ons moet onthou dat Openbaring deel uitmaak van die sogenaamde apokaliptiese literatuur in die Nuwe Testament, wat om spesiale uitlegmetodes vra. Net om een te noem: Openbaring is bekend vir sy simboliese taalgebruik. Elkeen wat hierdie boek probeer uitlê, moet hiermee rekening hou. Die apokaliptiese kodetaal waarin die boek geformuleer is, doen vir ons verstaan vandag vreemd aan, omdat ons nie altyd die antieke sleutels het om die kodetaal te ontsluit nie. Juis daarom moet ons versigtig wees om Openbaring letterlik te lees; dis bedóél om simbolies en figuurlik gelees te word. Verder, Openbaring bring nie radikaal ander insigte oor die eindgebeure na vore as die res van die Nuwe Testament nie. Dit is dus altyd nodig om wat Openbaring oor die eindtyd sê in verband te bring met wat die ander boeke van die Nuwe Testament ook oor die eindtyd sê. So gesien is dit beter om die duisendjarige binding van die Satan en die Christusregering op aarde nie te sien as iets wat nog in die toekoms lê nie, maar as aanduiding van die hele tyd tussen Christus se eerste koms tweeduisend jaar gelede en sy wederkoms wat uiteraard nog in die toekoms lê. Ons leef dus nóú in die duisendjarige vrederyk. Reeds tydens sy aardse lewe het Jesus gesê dat die duiwel gebind en oorwin is (vgl Matt 12:27-29; Luk 17:20-21). Christus het inderdaad gekom om die mag van die bose te breek; dit gaan nie eers eendag gebeur nie. Maar dan moet ons ook aanvaar – en dis ook die boodskap van die Bybel – dat die mag van die bose nog nie volkome en finaal vernietig is nie; dié gebeur eers by die wederkoms van Christus. Intussen loop die duiwel rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind (1 Pet 5:8), al is hy gebind aan ‘n ketting, by wyse van spreke. Dus, die bose se mag is tegelyk gebind én hy is nog magtig; albei is gelyktydig waar. Dit is die struktuur van die tyd waarin die kerk nog altyd geleef het, en ook sal lewe tot by die wederkoms. Daarmee moet ons vrede maak. Daar gaan nie ‘n tyd kom op aarde waar die duiwel volkome magteloos is nie. Ja, hy is reeds oorwin deur Christus se dood en opstanding, en dus gebind. Daarom heers Christus reeds (die vrederyk); die duiwel kan nie doen wat hy wil nie, hy word aan bande gelê deur die reddings- en versoeningswerk van Christus (vgl Luk 10:17-18; Rom 8:31-39; 1 Kor 15:54-57). Maar hy is steeds ‘n werklikheid waarmee gelowiges moet rekening hou, in hulle persoonlike lewe sowel as in die samelewing. Die verwoesting wat die Satan nog kan aanrig, is skrikwekkend en elke dag sigbaar rondom ons. Maar die oorwinning is reeds behaal; ons stryd teen die bose is dus nie uitsigloos en sonder hoop nie, maar word gevoer vanuit die perspektief van die oorwinning oor die bose deur Christus.
  • Waarom praat Openbaring 20:3 van ‘n duisend jaar wat die vredesryk duur? Die getal moenie letterlik geneem word nie, maar is simbolies vir ‘n afgeronde en beperkte tyd. Die agtergrond hiervan lê in die Joods-apokaliptiese geskrifte van die tyd waarin Openbaring ontstaan het. Aanvanklik het die Joodse geskrifte gesê dat die messiaanse ryk vir altyd op aarde sou duur. Maar gaandeweg het die gedagte ontstaan dat die lewe op aarde nie volmaak is nie en daarom vervang sou word deur die Godsryk. Die messiaanse ryk sou dus nie onbepaald wees nie, maar beperk, net ‘n duisend jaar. Die Openbaringboek neem waarskynlik hierdie konsep oor. Die “duisend” bevat dus beide die gedagtes van afgerondheid – die Christusryk is sodanig dat die Satan dit nie kan stuit nie, want hy is gebind – maar ook dat dit nie vir altyd sal duur nie. Uiteindelik sal die Satan vir ‘n kort rukkie weer sy verwoestingswerk kan voortsit, maar dit sal gou tot ‘n einde kom wanneer hy en sy trawante vernietig word en die Christusryk uitmond in die ewige Godsryk op die nuwe hemel en aarde.

Ten slotte, ons vraagsteller sal myns insiens daarby baat om gedagtes oor ‘n wegraping en groot verdrukking wat nog voorlê, te laat vaar en eerder te leef vanuit die “eie standpunt” soos hierbo gestel. Dit behoort die angstigheid rondom berekenings van tye en skemas tot rus te bring, maar terselfdertyd haar ook te laat fokus op die dinge waarop dit regtig aankom in ons stryd teen die bose op aarde.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

You may also like...